Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Moeisame maar verbluffende debuut

Stof

Alettie van den Heever

QUEILLERIE, R290

Toekomsfiksie

Lanklaas is hy só intens deur ’n boek oorrompel en lanklaas het hy so stadig aan ’n boek gelees. Van den Heever is ’n opwindende nuwe stem, skryf Jean Meiring.

Nóú dreun my innebors drollig. My kop lê diep onder onwinterse stof- en saadstories. ’n Pêts is ferm op die skren van my gedagtewêreld afgekleim – ’n gooise nederset in die skierland van my verbeelding.

En dít als te danke aan Alettie van den Heever se aanvanklik moeisame maar deurgaans verbluffende debuutroman Stof.

Met duiselingwekkende vaart, vernuf en selfvertroue wentel hierdie skryftuig die leser digby die son verby vort na Dinsdag, 1 Julie 2081.

Die Kaap is allermins nog Hollands. Die Hardskip het Noag-loos gekom en gegaan en die mensdom is in ’n stowwerige waas gehul.

Meconium is die middelpunt van hierdie brawe nuwe heelal, met MecSecs wat ál patrolerend die rus én diversiteit probeer bewaar. Rondom kring die satellietgemeenskappe Kiefmor en Hardekraal en Close Enough uit.

In die dynsigheid val die soeklig op ons onwaarskynlike heldin, die jonge Amper – met haar brakgoed aan ’n leisel. Buite die Meshitium staan sy in die tou met haar duikbril beskermend op soos sy etlike Shitesavers, sakkies bultende bruin, koester.

Die erfporsie wat sy weens die Leegskytkiem verwerf het, is iets van die verlede. Met die inruilslag word sy koepons in die hand gestop waarmee sy dan die oraloor-eetgoed, Staple-mengsel, aanskaf – asook hempklomp en water.

’n Pildosie wat voortydse reuke bewaar en ’n boek met saadstories is haar kosbaarste besittings.

Én herinneringe aan haar breedsprakige ouma Bettina Molooi saam met wie sy die winkel Kierang Collectibles bedryf het.

“[K]ierang is nodiger as ’n los maag in hierdie ekonomie,” het sy insigvol laat val.

’n Wafferse leërskare karakters kom só te voorskyn, lopend en vallend, met stofgreintjies in elke gaatjie. Daar’s Wakinyan, Amper se dubbelsinnige hartsding, Jemima en mevrou Jafta. Bones, Konkok en Sias Smous. En daar’s Georgie, Nondaba en, tot by die skemering, Foos.

Én herinneringe aan haar breedsprakige ouma Bettina Molooi saam met wie sy die winkel Kierang Collectibles bedryf het.

En húlle bewoon almal ’n sonderlinge nuwe wêreld waarin Van den Heever soos ’n properse gooi lewe geblaas het. Al is die berge en dale van die vorige tyd steeds herkenbaar (Tafelberg en die Sienhomsberge staan nog), het die revolusie wat die Hardskip ontketen het ’n nuwe orde aan bewind gebring.

Ras as heining tussen bokke en skape is uitgewortel. Die nuwe slagordes is opgestel rondom toegang tot bio-ekologiese kennis – en sade. Saad is poeiergoud; diversiteit, die nuwe ortodoksie.

Al is die nuwe wêreld tegnologies gevorderd (mense pulsepost mekaar knaend), is die meeste diere en plante vae herinneringe. Voedsel is beperk en standaardgemaak. Reuke en smake word in blikkies bewaar.

Die duistere torings van SeedSci kaats steeds lang skudu’s. Komplotte word oral vermoed en agterdog is soos asemhaal.

Sy vra wat dit is om mens te wees.

Lanklaas is ek só intens deur ’n boek oorrompel. En lanklaas het ek so stadig aan ’n boek gelees. Die eerste 50 bladsye was soos om deur ’n vyftigtal digte stofgordyne te worstel. Soos die een oopgaan, sak die volgende een voor jou toe.

Trouens, nog nooit het ek in Afrikaans ’n vergelykbare leeservaring gehad nie.

Die wêreld wat Van den Heever uit die diep reste van die Kango-grotte van haar verbeelding toor is só ’n volledig afgeslote eenheid en só oorspronklik dat mens jou pal in blink en aanvanklik onherkenbare stalagtiete en -miete vasloop.

Telkens moet jy sinne herlees en die betekenis van nuutskeppinge of verwronge woorde – die Afrikaans van 2081 – uit omstandigheidsgetuienis probeer peil.

Wat is ’n tentelaait? ’n Platstof dag? Wat is lewriets en wat op dees aarde is ’n Toilog-hotspot?

Die boek se woorde en name sal gou ’n doktorsgraad word. Daar is natuurlik nie die genade van ’n woordelys nie.

Aanvanklik is selfs die intrige byna onpeilbaar dig verhul weens ’n warboel detail en ongesinjaleerde karakters wat oral uitpeul. Die leser word sonder omhaal en sonder waarskuwing gestroop en midde-in die digte stof vir dood gelaat.

Ook sal die skrywer se verlekkering in die skatologie – wat op bladsy een al donderend uitblerts – vir baie lesers aanvanklik aan hul sjokoladestafies laat stik.

Alettie van den Heever. Stof is haar warrelwind-debuutroman.Foto: RETHA FERGUSON

As mens egter gaandeweg suutjies aan die ergste van die skrywer se opstapeling vervreemdingstegnieke gewoond raak, ook aan die drol op die dreskas, word jou eie duikbril bietjie skoner.

Ook werk die terugflitse (die eerste een, ná 2065, begin op bl. 116) bietjies-bietjies verheldering in die hand. Terwyl die hoofvertelling oor 12 dae in 2081 strek, is daar ook terugblikke na 2037-’38, 2055 en 2057.

Ten spyte van die aanvanklike ondeurdringbaarheid, kom daar hier in gespierde prosa ’n werklik epiese verhaal uit die verf wat verstommend ryke stof tot nadenke bied.

Tussen al die vreemdheid is daar tog ook baie humor. En deernis.

Van den Heever stel ontstemmende vrae oor die mensdom en ons verwoestingslus.

Sy bespiegel dat die wêreld, op sy huidige gang, ’n antieke toekoms tegemoet sal moet gaan. Waar waardes versit sal wees, en waar die waarheid opnuut in stories en oorgelewerde kennis gesoek sal word.

Sy vra wat dit is om mens te wees.

Kort op die spoor van Lien Botha se Wonderboom (2015) en Deon Meyer se Koors (2016), baan Stof met vreemde basuingeklank iets werklik nuuts in Afrikaans, meesterlike toekoms- of spekulatiewe fiksie wat waaragtig ’n potensiële toekomswêreld, tot die fynste skering en inslag, verbeel en verbeeld.

Wat onbeskaamd en opsetlik kompleks en moeilik is.

Soos mens heftig die dikke Stof wéér oopbuig en van voor af begin lees, wil jy uit die newels aan Van den Heever, sekerlik een van vanjaar se opwindendste nuwe stemme, sê: “Dís nou drol van jou.”

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jean Meiring is ’n vryskutresensent en regsgeleerde van Johannesburg.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.