Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Mooi teks oor begeerte, verliese

Met ‘Die dame met die hondjie’ tree William Oosthuizen in gesprek met ’n gedugte lys Tsjekof-kommentators en -interpreteerders. Vir Joan Hambidge was dit ’n wonderlike verrassing.

Die dame met die hondjie deur William Oosthuizen. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

Anton Tsjekof was ’n gerekende dramaturg en kortverhaalskrywer, maar ook ’n medikus wat opgemerk het: “Medisyne is my wettige vrou en letterkunde my minnares . . .”

In sy dramas heers ’n spanning tussen tragedie en komedie, terwyl sy kortverhale, wat hy om den brode geskryf het, as hoogtepunte in die kortverhaalkuns beskou word.

Tsjekof se invloed op ander kunstenaars is wydlopend – van Woody Allen se rolprente, die Russiese rolprentmaker Andrei Tarkofski se kunsfliek The Mirror (1975) en die fliekweergawe van Bernhard Schlink se The Reader waarin Hanna (vertolk deur Kate Winslet) na ’n voorlesing van “Die dame met die hondjie” luister, tot Hennie Aucamp se “Vir vier stemme” en wyle Reza de Wet se Tsjekof-herbesoeke oor die jare.

Tsjekof se kortverhaal “Die dame met die hondjie” het in 1899 verskyn en beskryf ’n buite-egtelike verhouding tussen Dmitri Dmitritsj Goerof, ’n bankier van Moskou, en die jong getroude Anna Sergejewna von Diderits. Die grote Nabokof het dié verhaal uitgesonder as een van die grootstes tot nog toe.

In William Oosthuizen se roman kwyn Tsjekof in die warm klimaat van Jalta aan chroniese tering weg, ver van die plesiere van Moskou en sy aktrise, Olga Knipper. “Lang dae word gevul met skryf, wandelinge op die promenade en briefwisseling met Olga, terwyl hy verlang na die lewe wat hy agtergelaat het,” lui die agterplat. “Dan merk hy haar op: ’n Jong dame, wat op die promenade wandel, met haar hondjie aan haar sy. Oor die volgende dae kyk hy toe hoe die jong dame die prooi word van ’n ouer man, ’n boorling van Moskou. Teen sy beterwete word Tsjekof meegesleur deur hul liefdesdans, en laat dit hom by ’n kruispad in sy verhouding met Olga weens die onnadenkende belofte wat hy aan die jong dame maak.”

Oosthuizen se teks, wat in gesprek tree met ’n gedugte lys kommentators en interpreteerders, is ’n wonderlike verrassing. Hy werk met die bekende gegewe, maar borduur ook voort – lesers wonder immers dikwels aan die einde van ’n verhaal wat verder gaan gebeur. Kodes hier is die lornjet (verkyker) en “gulsige blikke” (bl. 43). Daar word op die promenade gestap en bespiegel oor wat werklik in mense se lewens gebeur. Die gesprek met die karakters is uiters openbarend (bl. 61).

Die teks word behendig in ’n raam geplaas rondom ’n vertaler, ene Cornelius van den Hoofen, en Sophie Ruiz in 2018. Sy vertrek na Jalta om ’n agterkleinkind van Tsjekof se drinkersvriend op te spoor om insig te kry in sy lewe. Dit is dus ’n matriosjkaverhaal: ’n storie in ’n storie oor ’n storie. Hier is Tsjekof ’n afloerder van sy skeppings en word aweregse kommentaar gelewer oor wát die skrywer uit die werklikheid geneem het en wát was blote fantasie. Lesers wil dikwels weet wat het regtig in ’n skrywer se lewe gebeur en wat is “die waarheid gelieg”. Die wisselwerking met Stanislawski, die beroemde regisseur wat Die seemeeu met groot sukses opgevoer het, en verskillende sienings van subteks, is eweneens belangrik vir hierdie vertelling. Dit is juis waarin Tsjekof uitmunt: subteks. Daarom kan sy dramas ernstig én parodies vertolk word.

Oosthuizen se teks lewer kommentaar oor die “oop slot” van hierdie verhaal en in sy weergawe word die storie ’n vloek wat oor die karakters uitgespreek word.

Enkele punte van kritiek: Die skrywer gee erkenning aan bronne, maar helaas sonder datums of uitgewers. En in Afrikaans is dit Tolstoi (nie Tolstoy nie), Gorki (en nie Gorky nie) – en dít geld al die ander Russiese name.

Die boek is ongelukkig so gebind dat dit moeilik oopmaak sonder om die rug te breek. My eksemplaar se drukwerk was ook op plekke nie eweredig nie. Dit is jammer, want Die dame met die hondjie is so ’n mooi teks oor begeerte en verliese vir fyn kyk met ’n lornjet.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.