Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Moordende pas in vlaag van vergelding

Misdaadfiksie

Die man van Quatro

Calvyn van Niekerk

PENGUIN, R280

Foto:

In die eerste reeks van True Detective, ’n uitgebreide ondersoek na die boosheid van die mens, vra speurder Marty Hart sy kollega, Rust Cohle, of hy ooit oor sy eie boosheid wonder. “Do you ever wonder if you’re a bad man?” vra Marty. Dan antwoord Rust: “No. I don’t wonder, Marty. World needs bad men. We keep the other bad men from the door.”

Misdaadfiksie, par excellence, wys hoe ons idees van goed en kwaad, reg en verkeerd, geregtigheid en reg en orde vorm aanneem en uitdrukking vind soos daar gepoog word om onsself en ons samelewing te definieer. Emile Durkheim, een van die vaders van sosiologie, het dit geweet. Norm. Afwyking. Wit, swart en grys. Wat is aanvaarbaar, wat nie? Wie se optrede is regverdig en verdedigbaar, en wie s’n nie? Wie is skuldig, en wie moet boete doen? Is geweld ooit die antwoord? Indien wel, onder watter omstandighede, en met wie as instrument?

Hierdie is die gewigtige tipe vrae wat prominenter verskyn soos die plaaslike korpus misdaadfiksie wasdom bereik. Wat 25 jaar na demokrasie nog betreklik skaars is, maar wel toeneem, is ’n subkategorie wat bereid is om die land se bloedige geskiedenis, veral die verdagte optrede van die destydse NP-regime, maar ook die gruwels gepleeg deur die ANC, ook teen hul eie kaders, onder die loep te neem.

’n Paar jaar gelede het Peet van Staden se uitstaande Krake verskyn, wat die strafkampe in Sentraal-Afrika in die 1980’s belig en ’n bloedstollende prentjie van die marteling geskets het wat daar plaasgevind het – gepleeg teen diegene wat as “verraaiers” of impimpi bestempel was.

Patel is ’n slinkse sakeman. In vele opsigte iemand wat jou koue rillings gee en walg.

Mike Nicol se Revenge Trilogy, met die gewese wapenhandelaars en ANC-kamerade Mace Bishop en Pylon Buso, wat die jong Sheemina Februarie gemartel het, het voor Krake ’n tipe bloudruk geskep vir hoe die tema van vergelding met die strafkampsondes versoen kon word. Nicol het gewys hoe dit gedoen kon word: ontluistering, vermaak en diepe fassinasie in een dodelike pakket.

Soos Jaco Wolmarans se Bos en André Krüger se ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid is Calvyn van Niekerk se Die man van Quatro ’n misdaadriller met een oog ferm geplant op die geskiedenis. Van Niekerk se roman – die pas moordend, karakters uiteenlopend, oortuigend en fyn ingekleur, en die geweld brutaal, op die man af, ontstellend – is die jongste in ’n vlaag vergeldingsliteratuur waarvoor lesers skynbaar onversadigbaar aansit.

Blykbaar is Rust Cohle toe al die tyd reg: die wêreld, veral ons siek Suid-Afrikaanse samelewing, het tog “bad men” (en women) nodig. Daar is iets OuTestamenties daaraan om die bloedspoor te volg soos daar jag gemaak word op die jagters.

Die titel skep inderdaad die verwagting dat die “man van Quatro” die spilpunt sal wees. In ’n mate is dit die geval: soos Sheemina February in Mike Nicol se vergeldingstrilogie maak ons kennis met die stinkryk Patel. Hoewel die voorplat en Van Niekerk se inkleding van hierdie fassinerende karakter die leser noop om aan die Gupta-broers Atul en Ajay te dink, is een van die romansier se grootste prestasies hier presies hoe feit en fiksie met mekaar versoen word.

Patel is ’n slinkse sakeman. In vele opsigte iemand wat jou koue rillings gee en walg. Dog is Patel ook slagoffer. Dit is sy vergeldingsdrang wat die lewens van sy martelaar (nou ’n hooggeplaaste in die ANC) en dié se seun in gevaar plaas. Presies hoe Van Niekerk Patel se storie oordra, en hoe sy handlanger, Abdoel, se eie “martelaarskap” vir die Islamitiese Staat (Isis) neerslag vind, maak reeds hierdie roman die lees werd.

Dog word daar ’n parallelle intrige geskep wat uiteindelik met Patel se wraaktog sal kombineer. ’n Dossier wat uit ’n polisiekantoor verdwyn, lei daartoe dat die skaars mondige halfsuster van Thinus Olckers, hy wat voorheen weeskind was, op afgryslike wyse saam met hul ouers vermoor word. Bloed roep om bloed.

Van Niekerk beliggaam die band tussen Lise en Thinus so voortreflik, en skets die menswees en motiverings vir hierdie doodsengel so oortuigend, dat die fiktiewe karakters soos hartsvriende voel. Ewe indrukwekkend is die karakterisering van die kaptein, Dirk Bremer, en sy ma, Mara. Stadig maar seker kruip hierdie man, wat met alle geweld sy voorkoms wil verander, diep in jou hart.

Dink maar aan die Joker se beskouing van sy stryd met die Dark Knight: “When an immov­able object meets an unstoppable force.” Presies hoe Patel, Olckers en Bremer – stroomop, diep gefolter – se eie soektogte byeengebring is in loutere leesplesier. Die man van Quatro bied vir genre-fynproewers, en die man op straat, ’n verbluffende verhaal, een wat idees van “bad men” en slagofferskap forensies ontleed.

Iewers tussen oppervlak en dieptes, tussen die kosmiese, die kosmetiese en die komiese, vind Die man van Quatro ’n onweerstaanbare hartklop.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.