Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Naelbyt-sepie oor die lewe op die grondlyn

Nathan Trantraal se derde bundel, ‘Oolog’, registreer min of meer as ’n voortgesette kragtoer en bevestig dat hy nou een van die belangrikste Afrikaanse digters van enige geslag is wat ’n beskaamde wêreld oopskryf, meen Charl-Pierre Naudé.

Nathan Trantraal. Hy skryf ’n beskaamde wêreld oop. Foto: Ronelda Kamfer
Nathan Trantraal. Hy skryf ’n beskaamde wêreld oop. Foto: Ronelda Kamfer

Oolog deur Nathan Trantraal. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Oolog is Nathan Trantraal se derde digbundel ná sy debuut, Chokers en survivors (2013), en die daaropvolgende Alles het niet kom wôd (2017). Uit dié titels kan veel afgelei word oor die idioom waarin hy skryf: Dis Kaaps, gaan oor harde bestane, en is sinies en ironies en vol swart humor.

Die gedigte bied amper altyd ’n klein storie aan wat in besonderhede die wel en wee van oorwegend bruin gemeenskappe in sub-ekonomiese omstandighede aan die Kaapse Skiereiland uitbeeld.

Dis ’n ek-verteller, en in die beste verse kom ’n mymering, tussen die reëls, aan die bod waarmee die verteller worstel of wat hom (dikwels ongevraagd) bekruip. Die ek-verteller is ’n effens grimmige, soms afsydige en dikwels half onwillige simpatiseerder met mense in erge toestande van ontbering.

Omtrent al die gedigte het ’n elegiese ondertoon wat in skerp spanning staan met die humoristiese of “opskieterige” aanslag.

By die Woordfees
Louise Viljoen gesels op 12 Maart om 11:30 met Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer oor hul nuutste bundels wat enkele maande uitmekaar verskyn het en hoe hulle daarin slaag om ’n huweliksverhouding, kind grootmaak én skep onder een dak te laat werk. Dit vind plaas by Upstage@Drostdy. Trantraal is ook deel van ’n groep manlike digters wat op 14 Maart om 17:00 in die Boektent deelneem aan die poësie-en-musiekprogram “Digtersparadys: Verse wat groot mans laat huil” met Loftus Marais as aanbieder en Frazer Barry wat sorg vir musiek. Kaartjies vir albei aanbiedinge kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

Trantraal het hom goed gevestig met sy eerste twee bundels, en dié derde een doen die beste wat hy reeds gelewer het volkome gestand. Ek mis ’n opvallende opwaartse lyn van ontwikkeling, maar die spanninge wat hy aan die bod stel is so relevant, navrant en veelduidig, en sy talent so eiestemmig en selfs eienaardig, dat genoemde afwesigheid nog nie as ’n verlies registreer nie.

Die digter sou kon vra waarheen moet ’n “opwaartse lyn” dan ontwikkel op die Kaapse Vlakte? Wat ’n mens laat dink aan die jong Anton Tsjechof se antwoord aan Tolstoi toe laasgenoemde hom vra: “Waarheen ‘gaan’ jy met jou karakters?” (Hy het bedoel iets soos “watter boodskap het jy uiteindelik in gedagte”.)

Tsjechof se antwoord was: “Ek gaan met hulle van die kombuis na die badkamer na die slaapkamer. Waar wil jý hê moet hulle gaan?”

Ons het hier te make met nog ’n aflewering van ’n naelbyt-sepie van lewens op die grondlyn.

Daar is in die breë twee “groepe” verse in die bundel: verse waarvan die sterkste element hul verborge kommentaar of uitkringende metaforiese lading is, dikwels aan die slot; en die ander verse wat dit mis, maar wat steeds intens vermaaklike of skrynende taferele aanbied. In die eerste groep is gedigte soos onder meer “Alles klar?”, “Smoothies Menthol”, “Swing Low”, “America”, “Gie vi’ my ’n baby” en in die tweede groep “Smiley vs Machine Jan”, “Emosies” en “Planne vi Polls­moor”.

Hier en daar is daar ’n gedig wat ondanks sterk passasies versand tot ’n swak einde of futlose noot, byvoorbeeld “Petit Roux” of “Die bruilof”. Dis gedigte wat die potensiaal gehad het om uit hul koevert te glip en, soos die bestes hier, iets gans verrassends of anders te word, maar toe nie het nie. Hulle is min.

Die eerste groep is die talrykste, wat beteken dat die bundel min of meer as ’n voortgesette kragtoer registreer. Trantraal is nou een van die belangrikste digters in Afrikaans van enige geslag. Hy skryf ’n beskaamde wêreld oop, soos ’n Van Bruggen, Elsa Joubert of Jeanne Goosen.

Dit is nie poësie van die fyn gesponne woord nie, maar van behendig teenoor mekaar opgestelde, gevonde, kru lewenswerklikhede, wat in die opvrywende proses ’n ontspringende vonk van humor, paradoks, ironie of seggingskrag vrystel.

En tog kom die behendig verwoorde metafoor telkens voor. Ondanks al die hardships, as twee verliefdes “kan survive”, “sing ie wind koortjies/ en blaf ie honne tot laat toe”. Van die bekoorlikste stelswyses word op ’n “anti-poëtiese” manier gevorm: “wannie kind narie hek toe stuu/ isse wit vlag in coloured single-ma-taal”.

Die woord “oolog” kom opsetlik geplaas in heelparty gedigte voor – wat die bendes, die liefde, ook die verworde en gewaande liefde, die onontkombare wreedheid van geskiedenis en die “oorlog” van menslike emosies oproep.

Die gedigte draai dikwels om ’n onverwagte en pikante kinkel, soos die verteller wat selfmoord oorweeg, maar besluit dis onmoontlik om jouself in die badkamer op te hang “agterie dee innie hys wat slyt/ As daar elke twiede miniet/ ieman annie dee klop/ en vra of jy nog lank/ gan biesag wies”.

Dis nie ’n ruim repertoire van tegnieke nie, maar dit raak ook nie vervelig nie. Nog nie.

Trantraal se poësie blyk toenemend nie afhanklik te wees van die spanning tussen dialek en standaardtaal nie, soos ek glo Adam Small se sublieme digkuns wel was. Die meeste gedigte bevat poësie wat onafhanklik is van genoemde spanning, en wat, sonder die dialek-aspek, waarskynlik in enige standaardtaal vertaal sou kon word en steeds sal tref.

Die Kaaps bring wel ’n verdere verhulling van die inhoud mee, iets wat verhoogde verrassing in die hand werk, en wat die spanning tussen die platvloerse en soms heel diepsinnige draaie wat skuil gaan, op 'n poëtiese spits dryf.

Een van die interessantste aspekte in Oolog is die aanwending, en die besinging as tema, van pastiche. “Funny business” handel oor J.M. Coetzee as pastiche-tegnikus. Aspekte van Trantraal se “found poetry” sou ’n mens dalk, in sy eie idioom, as “lived pastiche” kon beskryf.

Een van die mooiste gedigte hier, “Dit is net om te sê”, is juis ? herskrywing van William Carlos Williams se “This is just to say”. En nee, dis nié plagiaat nie. Daai sulle anne soot funny business wies.

  • Trantraal en sy vrou, Ronelda Kamfer, gesels op 13 Maart (17:30 vir 18:00) met Ryan Pedro oor hul nuutste bundels, Oolog en Chinatown. Dit vind plaas by The Book Lounge in Kaapstad. RSVP: 021 462 2425 of booklounge@gmail.com.
  • Charl-Pierre Naudé is ’n bekroonde skrywer en digter van Johannesburg.
Meer oor:  Nathan Trantraal  |  Resensie  |  Digkuns  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.