Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Naelbyter van ’n storie
Last widow
Last widow

Fiksie

The Last Widow

Karin Slaughter

HARPERCOLLINS, R305

Teen dié tyd weet die hele wêreld dat Amerika hom in die middel van ’n eksistensiële krisis bevind.

Met die negende en nuutste in die Will Trent-reeks gooi Karin Slaughter haar lesers pens en pootjies in die middel van die Amerikaanse psige en sy breekpuntkwessies – wit militante groepe; anti-inenting-fanatici; biologiese oorlogvoering; werkloosheid; pedofilie en dwelmverslawing. Wil jy weet wat aangaan in Amerika? Hier is vir jou ’n vlugtige blik verpak in ’n naelbyter van ’n storie.

Will Trent, spesiale agent verbonde aan die Georgia- buro vir ondersoek, bevind hom in ’n relatief stabiele verhouding met Sara Linton, ’n kinderarts en mediese ondersoekbeampte.

Voordat hulle kans kry om hul huishoudelike beuselagtighede en familiedinamiek op te los, ontwrig ’n bomontploffing en gevolglike motorongeluk by die nabygeleë Emory-Universiteit hul familiemiddagete. Die oënskynlike motorongeluk blyk egter deel te wees van ’n regse terroriste-organisasie se diaboliese plan om ’n nuwe, “suiwer” Amerika te vestig.

Dié keer is dit ’n Amerikaanse, regse, terroriste-organisasie wat die gevaar inhou. En hulle is veel meer skrikwekkend.

Sara word ontvoer deur lede van die groep en saam met Michelle Spivey, ’n wetenskaplike van die sentrum vir siektebeheer en -voorkoming, gevange gehou in ’n kamp in die Appalachiese gebergte. Soos ’n spesiale agent en getroue wederhelfte betaam, sluit Will aan by die terroriste-organisasie om Sara op te spoor – en natuurlik massamoord aan die hand van ’n dodelike epidemie te verhoed.

Amerikaanse TV-reekse (en die Amerikaanse president) is besonder lief daarvoor om ander nasionaliteite en hul ekstremiste die sondebok te maak vir Amerika se probleme. Dié keer is dit ’n Amerikaanse, regse, terroriste-organisasie wat die gevaar inhou. En hulle is veel meer skrikwekkend.

Naas die ontwikkelende storielyn met Will en Sara, skyn Slaughter die lig op militante groepe en die dryfveer vir hul radikale optrede.

Die instroming van immigrante en moontlike afname in werksgeleenthede sowel as die persepsie dat die regering die Amerikaanse bevolking hopeloos in die steek gelaat het, dra by tot ’n toename in militante groepe wat wil beheer neem.

Dis hierdie sielkundige en politieke veelvlakkigheid wat van The Last Widow ’n driegangmaal maak eerder as ’n McDonald’s-wegneemete.

Slaughter is nie vir die sensitiewe leser nie – die leidraad lê per slot van rekening in haar naam – maar haar populariteit is ’n direkte weerspieëling van haar vaardigheid as skrywer en wie kan stry met die massas?

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.