Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Nuwe era begin straks

‘Die Wonderwese’ is die tweede aflewering in Carina Stander se ‘Bergengel’-fantasietrilogie, wat op internasionale vlak met die bestes in dié genre kan meeding, meen Johannes de Villiers.

Die Wonderwese deur Carina Stander. Uitgewer: Protea Boekhuis. R250.

As jy aan die grootse fantasieliteratuur van J.R.R. Tolkien en George R.R. Martin dink, is dit nie bowenal die storielyn wat jou bybly nie, maar die komplekse wêrelde wat hulle skep, bewoon deur slinkse drake, genadelose toormeesters, misvormde orcs en geestige hobbits. Die landskap van Middle Earth en Westeros met hul donker woude, ysige noordpole en hemelhoë bergreekse raak in die gemoed van baie jong lesers meer werklik as enigiets wat hulle in die aardrykskundeklas op skool leer.

Só is dit ook met Carina Stander se Bergengel-trilogie, waarvan die middeldeel, Die Wonderwese, pas verskyn het.

Dis vroeg om te sê, maar ’n mens vermoed met dié reeks het ons uiteindelik in Afrikaans fantasieboeke wat wêreldwyd langs die bestes in hierdie genre kan staan.

Dié boeke het tot dusver nie enorm baie publisiteit ontvang nie, maar as jy al by een van Stander se boekbesprekings of -bekendstellings was, sal jy weet die boeke het ’n byna fanatiese gevolg wie se oë vonkel as hulle daaroor praat.

Dit is uiteindelik Stander se agtergrond as digter wat hierdie boek meer in die klankryke tradisie van Tolkien as Martin plaas.

Die fabelagtige land is Gabriëllië en daar is selfs ’n kaart voor in die boek met plekname soos die Eiland van Ure, die Reënwoude van Chinsinsi en Verminkpiek. In dié wêreld vind ’n jong man, Eron, die seun van ’n klokmaker, uit sy vermiste pa is ’n bergengel, een van Gabriëllië se geheime beskermers.

In die eerste boek, Die Bergengel (2017), het Eron op ’n reis vertrek om sy pa te vind ten einde die wêreld van slawehandelaars en ’n bose kulkunstenaar te red. In Die Wonderwese sit hy dié reis voort en kruis sy pad met onder andere ’n engelwese wat die vorm van ’n voëltjie kan aanneem, ’n bose soldaat wat hom wil bekeer en ’n digtende vryheidsvegter.

Soms is die detail so helder, ’n mens wil jou oë toemaak en jou in Stander se wêreld indink. Terwyl Eron byvoorbeeld die onheilspellende Rammelberg nader, reis hy deur ’n mistroostige dorpie. Daar sien hy ’n vrou met ’n neus “so onnatuurlik lank en krom dat dit aan haar die voorkoms van ’n miervreter besorg het”, ’n ou man wat “in Eron se rigting (spoeg), teen die wind in, en sodoende sy baard besmeer”, en ’n meisie met ’n “huidsiekte met die tekstuur van ’n heuningkorf”. Dis dié beelde, selfs meer as die storie, wat ’n mens bybly.

Die Wonderwese is nie ’n Afrikaanse Game of Thrones nie. Dit bevat wel meer geweld as die eerste boek met beskrywings van foltering en teregstellings, maar die ondertoon is nie sinies of bloeddorstig nie. Karakters worstel moedig om die beste in hulleself te ontdek sodat hulle die wêreld kan help genees. Eerder as dat hy deur die verderf meegesleur word, besef een karakter “die ongenade wat hy van jongs af aanskou het . . . het genadigheid in hom wakker gemaak”. Bybelse motiewe soos die saligsprekings en Daniël se vriende in die vuuroond word plek-plek bygewerk sonder dat ’n leser voel jy word daarmee oor die kop geslaan. Heelwat van die boek het die klank en tekstuur van Joodse volkslegendes.

Dit is uiteindelik Stander se agtergrond as digter wat hierdie boek meer in die klankryke tradisie van Tolkien as Martin plaas. Die Wonderwese vra om hardop gelees te word. Ons lees van ’n digter wat papier laat ritsel “soos vlerkmiere ná ’n vloed”, van ’n aardbewing wat “die aardmantel soos die litte van ’n oerdier [laat] kraak”, en in die heel eerste paragraaf van ’n bergstroom wat soos ’n lied van “lugborrels, blaarreste, wortelveseltjies en verstrengelde takkies” oor die klippe vloei.

Heelwat lesers sal die boek as fantasie vir volwassenes bestempel, maar moenie kinderlesers onderskat nie. ’n Mens vermoed jong mense sal veral deur die klankspeletjies meegesleur word.

Afrikaanse speurromans het figure soos Deon Meyer en Rudie van Rensburg gehad om dié genre se huidige kragtyd af te skop. Dis goed moontlik dat ons eendag sal terugkyk en Carina Stander se Bergengel-trilogie gaan onthou as die gebeurtenis wat ’n nuwe era in Afrikaanse spekulatiewe fiksie help inlui het.

  • Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie- en joga-instrukteur van Stanford. Sy nuwe boek, Blydskap in die malle gejaag: Mindfulness-wenke vir ’n gelukkige lewe, verskyn einde Januarie 2020 by Tafelberg.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.