Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Nuwe woordeskat vir koerslose Daan

Die Dao van Daan van der Walt

Lodewyk G. du Plessis

Tafelberg, R290

Fiksie

Die Dao van Daan van der Walt is om verskeie redes ’n boeiende roman, maar die belangrikste hiervan is die wyse waarop die verhaal vertel word, skryf Willie Burger.

’n Vriend van my praat altyd van die 20-bladsy-toets. Hy lees net 20 bladsye van ’n roman en besluit dan of hy dit verder gaan lees of nie. Hy meen dat daar te veel goeie boeke is om ’n mens se tyd te mors met boeke wat jou nie reeds in die eerste 20 bladsye kan oortuig dat hulle die moeite werd is nie.

Gelukkig het ek nie dié toets op Die Dao van Daan van der Walt toegepas nie, want dan sou ek ’n besonderse leeservaring misgeloop het. Die taalgebruik, die manier van vertel en die soort grappies en snaaksighede in die eerste stukkie van die roman het my irriteer. Dit het so “outyds” voorgekom, met Daan van der Walt se dialoog aaneengeryg uit die ou vertaling van die Bybel, deurspek met geykte grappies en idees van outydse kerklidmate uit die 1970’s.

Geleidelik word dit egter duidelik dat hierdie vertelling veel meer om die lyf het. Dit word aangebied in die vorm van ’n dagboek waarin Daan oor sy ervarings in China aan sy hond skryf en afgewissel deur briewe wat hy aan sy vrou skryf. Agter die kerkspraak, die Bybeltaal, die Latynse aanhalings en die selfversekerde burgerlike opvattings oor kuns, oor die letterkunde, oor “ons mense” en vreemdelinge, word die leser van ’n spanning in Daan bewus.

Onbetroubare vertellers is een van die interessantste verskynsels in fiksie.

Onbetroubare vertellers is een van die interessantste verskynsels in fiksie. Wanneer ’n eksterne verteller aan die woord is, met ander woorde ’n verteller wat nie self in die verhaal teenwoordig is nie maar wat die storie van buite vertel (derdepersoonsverteller), is dit meestal opvallend wanneer die verteller se beskouing van die wêreld van dié van ’n karakter verskil. So blyk dit dan gou dat ’n karakter verkeerde opvattings oor homself of sy wêreld het.

Wanneer die verteller egter self die hoofkarakter in die verhaal is, en soos Daan sy eie lewensverhaal in ’n soort dagboek neerskryf of bewustelik as “Historia” aanbied, is dit moeiliker vir ’n skrywer om ’n gaping aan te dui tussen die verteller se beskouing van homself en sy wêreld aan die een kant en ’n werklikheid wat daarvan verskil. Lodewyk G. du Plessis (’n skuilnaam) kry dit egter op uitmuntende wyse reg om die leser geleidelik in Daan se weergawe van die wêreld in te trek en te laat sien hoedat dit nie heeltemal kan klop met die groter wêreld waarin Daan leef nie.

Daan is ’n afgetrede Kalahari-boer. As jong man was hy ’n uitblinker-regstudent aan die PUK, maar hy kon nooit die belowende regsloopbaan betree nie omdat hy die boerdery by sy pa moes oorneem. Hiermee word ook aangesluit by die troop van die plaas in die Afrikaanse romantradisie, waar die plaas en familiebande en verantwoordelikheid teenoor die grond en die voorgeslagte (die “stam”) ’n beperking op individue plaas. Die gebondenheid aan grond, familie en stam word ook gesanksioneer en bevestig deur die gesag van God. Onkritiese en onverbiddelike gehoorsaamheid aan Gods woord (Dominee se woord) word vereis en Daan beywer hom sy lewe lank om “in die vrese van die Here” te wandel, die gebooie te gehoorsaam sodat sy dae verleng kan word. Hy beskryf sy vrou se Engelse boeke as “uitlands”, vreemde invloede, en spot met haar literêre vriende. Hy leef al die clichés van boer wees en veral manlikheid uit omdat dit is wat kerk en volk verwag. Hy voed ook sy seun in dieselfde patriargale tradisie op en probeer as patriarg alles volgens die Ou-Testamentiese voorbeelde en die heersende kerk- en gemeenskapsnorme beheer.

Oor jare bou ’n spanning egter in Daan op, oor sy eie seksualiteit en sy kerk en gemeenskap se veroordeling van homoseksualiteit, maar geleidelik oor al hoe meer aspekte van sy menswees. Die moeilike, byna onmoontlike pad (die Dao van die titel) wat hy moet loop om van die spanning, ge­wetenswroeging en skuldlas ontslae te raak, word deur skokkende en traumatiese gebeurtenisse aan die gang gesit. Sy plaaswêreld word verwoes deur geweld, kleindorpse skindery en onvermydelike modernisering en hy moet eers Kaapstad toe en later na China, om geleidelik die weg uit sy benoude wêreld te volg.

Die roman betrek ’n besonder wye verwysingsveld, die klassieke geskiedenis en mitologie, teologie, die Bybel, ander ouer mites soos die Gilgamesj-mite en veral die Chinese geskiedenis, digkuns, en Taoïsme.

Die Dao van Daan van der Walt is om verskeie redes ’n boeiende roman. Die belangrikste rede is die wyse waarop die verhaal vertel word. Aan die een kant word die verhaal vertel van Daan, wat tydens ’n besoek aan sy seun in China siek word en vir behandeling in ’n Boeddhistiese klooster beland. Hier sit hy en skryf in sy dagboek en in briewe aan sy vrou oor sy vordering met die aanleer van tai chi en sy ontwikkelende verhoudings met die “afgodedienaars” en “kommuniste”. Aan die ander kant skryf hy telkens oor gebeurtenisse in die verlede. Hy skryf sy eie geskiedenis. Hierdie terugverwysings is nie chronologies en sistematies nie en sodoende word spanning gebou en talle verrassende onthullings algaande gemaak wat die leser se aandag boei.

Die gaping tussen Daan se optrede in die hede en sommige van sy herinneringe, sy bedoelings, maak ironie moontlik en lei daartoe dat die leser empatie met Daan kry. Die lawwe grappies en selfspot wat aan die begin van die roman saam met die oordadig geleerde en geleende taalgebruik en die geveinsde onkunde oor letterkunde voorkom soos ’n komediant wat ’n konserwatiewe gehoor probeer vermaak, verdoesel eintlik baie.

Dit verdoesel onder meer die stilte tussen mense (hom en sy vrou, hom en sy seun, hom en sy vriende). Daan het ’n nuwe woordeskat nodig om vry te raak van al die spanning om uit te druk wat hy nooit kon sê met die Doppertaal, die nasionalistiese taal, die regstaal nie. Die Chinese Dao, die weg, bied vir hom ’n blik van buite. Hy leer ander mites, verhale oor ander gode, ’n ander taal aan wat die stiltes kan oorbrug en ’n ander perspektief op sy eie wêreld oopmaak.

Die roman betrek ’n besonder wye verwysingsveld, die klassieke geskiedenis en mitologie, teologie, die Bybel, ander ouer mites soos die Gilgamesj-mite en veral die Chinese geskiedenis, digkuns, en Taoïsme. Die tekste word nie bloot bygepluk nie maar stel Daan – en die skrywer – in staat om die dikwels beperkende diskoerse in kerke en in die geledere van Afrikanernasionalisme te oorstyg. Die sterk houvas van die beperkende diskoerse op die Afrikanersame­lewing blyk op ironiese wyse uit die skrywer se besluit om ’n skuilnaam te gebruik.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Willie Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Tafelberg  |  Boekresensie  |  Vermaak  |  Boeke  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.