Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Ondier wat dikwels en dawerend vir die leser brul

Fiksie

Ondier

Jan Vermeulen

LAPA, R285

Jan Vermeulen se eerste roman vir volwassenes, Die vyfde Aspoester, het verskeie eise gestel. Uitermate geweld, ekstreme sielkundige en fisieke foltering, bykans onophoudelike opstapelings van onthullings, lokbokkems, geestelike afwykings, letterlik moordende obsessies, diepgesetelde familie­- trauma . . . Só kan ek aangaan.

Met die uitsondering van ’n (speelse) gruwelskrywer soos RR Ryger, Peet Venter en Madelein Rust sit dit beslis nie in elke skrywer se broek om hierdie tematiese gegewens en menslike swakhede so te verpak dat dit by die leser bly spook nie.

Die skeidslyn tussen spanning en ontspanning is immers ’n membraan – lees: word behoorlik die skrik op die lyf gejaag, vertrou dat geregtigheid en die goeie sal oorwin, beleef katarsis, herhaal ad infinitum.

Vermeulen se debuut was vir my veeleisend, veral soos daar uitsluitlik in skakerings van swart op die doek geskilder was, en gans te veel ingeprop was. So asof die skrywer ’n punt wou maak deur sy hoofkarakter, forensiese profileerder Olaf Demeyer, ’n uiters traumatiese verlede te gee, en hom dan die newels van die gees en vlees laat trotseer in ’n uitsiglose milieu waar die misbruik van mense in elke moontlike opsig triomfeer.

Fokofpolisiekar praat van “te vinnig, te veel”; Vermeulen gooi enduit vet op die hellevuur.

Demeyer se konfrontasie met die bose is ekstreem – maar van die aard waar daar gevaarlik naby aan die grense van fatsoenlikheid kom, en oordaad inderdaad oopmond gesoen word. Fokofpolisiekar praat van “te vinnig, te veel”; Vermeulen gooi enduit vet op die hellevuur. Dit lei tot uitputting eerder as ekstase, wel met ’n kopknik vir die skrywer se ambisie.

Die vyfde Aspoester het die deur wawyd oop gelos vir ’n vervolg. Verblydend dan dat Ondier in vele opsigte ’n meer gesofistikeerde, afgeronde en nugtere aanslag tot die sielkundige riller is, terwyl die gotiese, gruwel- en die polisieprosedure byeengebring word.

Ondier, met ’n puik voorblad deur Flame Design, en baie skakerings van kontaminasie, grensvervaging en dierlikheid in die gepaste titel opgesluit, is ’n roman wat ook bowenal die leser uitdaag om die opheffing van twyfel, of die suspension of disbelief, voorop te stel. Ek sou ’n essay kon skryf oor die gevolge daarvan dat die hedendaagse werklikheid soveel vreemder uitsien, en dat hierdie “vervreemding” ons dalk meer geneig maak om minder toegeeflik te wees vir toeval en die sameloop van omstandighede in die fiksie wat ons lees.

Geen pretbederwer speel ek deur uit te wys dat daar staatgemaak word op ’n opeenstapeling van gegewens direk verwant aan die profileerder-hoofkarakter nie. Messe, sowel die slagtersmes en doodsinstrument asook messegooi, ondergrawe die narratiewe onderbou, asook die voortstu van die verhaal.

Lesers van Die vyfde Aspoester sal weet hoe Demeyer die reeksmoordenaar wat ook sy eie dogter ontvoer het, die loef afsteek. Ondier delf diep in sy eie verlede. Vermeulen begin sommer in medias res met die moord op Demeyer se geliefde, kaptein Jasmyn Oktober. Oktober het onlangs geboorte gegee aan ’n seuntjie, Cor, met ’n ernstige hartdefek.

Voor ons die halfpadmerk bereik, is daar reeds verskeie vroue wat grusaam vermoor word, (amper) almal met babaseuns.

Die saak word ondersoek deur adjudant Beth Jordaan, wat (gerieflik) ’n veilige hawe en blyplek vir Oktober was voor haar dood. Hierdie enkele moord is reeds ’n vonk wat sterk intrige sou kon lewer, maar voor ons die halfpadmerk bereik, is daar reeds verskeie vroue wat grusaam vermoor word, (amper) almal met babaseuns. Vermoor word deur ’n kannibaal wat hul lewer eet, moontlik seksueel bevredig word deur sy dade, en ’n masker dra wat hom soos sowel leeu as bose voorbode laat lyk.

Wat die kroon span, is dat die moordenaar les bes deur die saad van Demeyer self verwek is – en dat Olaf se eie pa ook ’n moorddadige booswig was. Die uiteinde is dat daar weer eens jag op die ondersoeker self gemaak word, ’n minder prikkelende hebbelikheid.

Anders as Die vyfde Aspoester voel die ondersoek veel minder geforseerd. Verdierliking, die mens as primordiale, seksuele wese, word sekuur ingekleur en gestalte gegee. Nine Inch Nails se ‘Closer’ eggo onverpoosd. Menslike karikature is nominaal afwesig; die rasionele en onverklaarbare stoei en stu broeiend voort.

Die intrige bou heerlik momentum soos daar effektief tussen geregsdienaars en moordenaar beweeg word. Motivering word deeglik, deernisvol oopgeskryf. Verwag heelwat moontlike verdagtes en slim wendings, en geweld wat minder pornografies voel.

Met Ondier slaag Vermeulen uiteindelik daarin om meer as bloot argetipes, bloederig en brutaal, te herverpak. Hierdie roman wys hoe elkeen van ons eie maskers dra; hoe boosheid verdere boosheid teel.

Saggies praat is duiwelsraad, maar Ondier brul dikwels en dawerend.

Jonathan Amid is ’n vryskut-taalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Jan Vermeulen  |  Boeke  |  Ondier  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.