Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Oorlog wat op die lywe van vroue geveg is

Khwezi

Redi Tlhabi

JONATHAN BALL, R270

Die een draad wat ons 11 kulture snoer in die land is geweld teen vroue. Vroue word verkrag in Sotho, Afrikaans, Xhosa, Engels en al ons ander tale, skryf Jackie Nagtegaal.

Redi Tlhabi se jongste boek oor ­Fezekile Ntsukela Kuzwayo is ’n skokkende boek wat elke Suid Afrikaner behoort te lees.

Tlhabi, bekende joernalis en skrywer, vertel die vernederende, pyn­like verhaal van vele Suid-Afrikaanse vroue deur Khwezi te gebruik as die wanhopige voorbeeld, ten spyte van haar moed.

Haar lewe wys vir ons waardeur vroue is onder apartheid, en wat vele daagliks steeds deurmaak, as gevolg van ons onverskoonbare kultuur van vrouegeweld en die behoefte om dit in die duister te hou.

Khwezi was die MIV-aktivis wat in 2006 vir Jacob Zuma aangekla het van verkragting en waarvan hy vrygespreek is kort voordat hy president geword het. Talle mense het geglo die vryspreking is as gevolg van korrupsie, veral inmenging in die Nasionale Vervolgingsgesag. Die wat nie vir Khwezi tóé geglo het nie, sal dalk nou, met die lees van die boek. Die gedetailleerde vertelling van Tlhabi laat mens feite onthou en opnuut raaksien, voeg daarby al Zuma se skandes en aanklagte van korrupsie wat sedertdien uitgepeul het, en jy is blind van woede dat hy steeds vry rondloop, wat nog te sê van president wees.

Voor Khwezi se dood het Tlhabi vele onderhoude gevoer met haar om die vrou agter die saak te leer ken. Haar grootwordjare, haar ouers, veral die komplekse siening van haar pa, Judson Kuzwayo, wat deel was van Umkhonto weSizwe en saam met Zuma op Robbeneiland gevange gehou is. Sy skets haar pa as ’n struggleheld, maar wat pla is sy miskenning van vroue, nes van die ander mans in ballingskap.

Tlhabi se verdere navorsing is deeglik en omvattend – hoftranskripsies, akademiese tekste oor geslagsgeweld, die Waarheids-en-versoeningskommissie-sake, vele onderhoude met politieke figure, onderhoude met slagoffers en dié na aan Khwezi.

Op vyf is haar lyf die eerste keer misbruik, op 12 en op 13 wéér.

Sy snoer die storie van ’n meisie wat te jonk ’n slagoffer van ons wrede geskiedenis word. Haar grootwordjare in ballingskap en die komplekse sielkundige gevolge van soveel families wat uitmekaar uit gespat het, uitmekaar gedwing is.

Die uitwerking van die gewelddadige en militante omstandighede op jong mans, maar veral op die vroue wat dit in stilte moes dra.

Khwezi was nie net ’n slagoffer van ’n afwesige pa wat deur apartheid gesteel is en die afgryslike omstandighede onder die apartheids­regime nie. Sy word ook die slagoffer van “ooms” wat haar moes beskerm, wat haar moes koester.

Op vyf is haar lyf die eerste keer misbruik, op 12 en op 13 wéér. Mans wat haar lyf gebruik uit woede, uit magteloosheid, uit die siekte wat dit in ons samelewing oukei gemaak het. Later, toe sy die saak aanhangig maak teen Zuma, is sy weer as slagoffer opgedis. Secondary victimisa­tion, wat in ons land te veel vroue laat stilbly – sy word as hoer opgehang en geteister sonder ophou, totdat sy naderhand landuit vlug, in haar eie exile veiligheid gaan soek. Die skuld van die Zuma-verkragting en die drie keer voor dit, word by háár gaan soek en nie by die walglike mans wat hulself op haar afgedwing het nie.

Tlhabi het onderhoude gevoer met vele vroue wat tydens apartheid verkrag is of ander vorme van seksuele mishandeling ervaar het. Sy beskryf dit as ’n oorlog wat op die lywe van vroue geveg is. Die struggle-fighters, met hul edele drome en sin vir geregtigheid en gelykheid, maar wat die vrou gesien het as hul reg, beloning, besitting. Om hul lywe te gebruik wanneer en hoe hulle wil.

Aan die ander kant, die apartheidspolisie wat van hulle kant af dieselfde vroue se lywe gebruik het as ’n wapen van mag en oorlog, as Vlakplaas-marteling.

Daar is min indien enige van die vroue wat geregtigheid gesien het, nes Khwezi wat ten spyte van haar onmenslike moed, steeds gesterf het sonder dat geregtigheid ooit geskied het.

Ongelukkig is die een draad wat ons 11 kulture snoer in die land, geweld teen vroue. Vroue word verkrag in Sotho, Afrikaans, Xhosa, Engels en al ons ander tale. Vroue word geslaan in elke taal. Vroue word afgebreek en stilgemaak. Die oorsaak is kompleks en Tlhabi probeer sin maak van alles, nes ek en soveel ander: die geweld van ons verlede, ons konserwatiewe oortuigings, die oordrewe geloof in pat­riargale gode en orde, die desperaatheid vir mag, die desperaatheid vir gelykheid, die desperaatheid van armoede, die gebrek aan ’n ordentlike onderwyssisteem . . . Benewens al die onderliggende redes wat daar reeds bestaan vir die veragtelike gedrag, het ons dan ook ’n president wat die aanklag van verkragting aflag. ’n Man wat vroue versamel en skaamteloos uitnooi na sy bed toe, of hulle wil of nie. ’n Man wat vele ander mans toe, en nou, beskerm teen aanklagte van geslagsgeweld . . .

Hierdie boek moet gelees word. Mans moet dit lees om te weet waardeur die vroue om hulle is en steeds gaan. Mans moet dit lees om te sien wat die grappe om die braaivleisvuur en enige vernederende opmerkings teenoor vroue aanhou doen. Vroue moet dit lees om op te staan, om moed te kry. Ons moet dit lees om ons geskiedenis, komplekse kultuur en diepgewortelde seksisme saam te begin uitroei.

Ons is dit verskuldig aan Khwezi en al die meisietjies wie se oë nog vol hoop en helder is.

Jackie Nagtegaal is ’n vryskut­resensent en regsgeleerde van Kaapstad.

Meer oor:  Verkrag  |  Redi Tlhabi  |  Robbeneiland  |  Apartheid  |  Khwezi  |  Jacob Zuma  |  Vrouegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.