Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Ou hart maak sy vol ‘briewebus’ leeg

Liefdesverse en ’n spel met taal is as’t ware ‘ou laaie’ van die digter Fanie Olivier wat hy in sy sewende bundel herbesoek. En ondanks enkele besware meen Rudolf Stehle almal wat goeie Afrikaanse liefdespoësie waardeer, sal by die 57 verse in ‘Ou laaie’ aanklank vind.

Ná ’n stilte van 11 jaar het Fanie Olivier, ’n oudkunsredakteur van Rapport en steeds ’n gewaardeerde boekresensent van die koerant, se sewende digbundel pas verskyn.

Ou laaie deur Fanie Olivier. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Met Ou laaie, sy sewende bundel, herbesoek Fanie Olivier een van sy groot voorliefdes, naamlik liefdespoësie. Dit is ’n voorliefde wat sedert sy debuut, Gom uit die sipres (1971), in al sy bundels – met die uitsondering van die polities-aktuele Verklarings 1967-1987 (1988) – neerslag gevind het.

Ou laaie volg 11 jaar ná Apostroof, daardie aangrypende roubundel waarin hy sy reis met die siekte en afsterwe van sy tweede vrou, Rike Olivier, karteer en die verlies probeer besweer deur haar in sy verse teenwoordig te maak.

Die gedigte in Ou laaie is oor ’n lang tydperk geskryf, sommige op versoek van vriende of vir spesifieke geleenthede. Die titel verwys enersyds na verse wat in ou laaie gelê het (soos te sien in die foto op die voorplat) en nou byeengebring is. Andersyds kan dit ook slaan op ’n ou gewoonte, streek of taktiek, wat verbind kan word met die digterlike vernuf van die digter wat “woorde skommel sienderoë / en ongemerk [die geliefde se] kop én lyf by hom betrek” (bl. 28). Die skootrekenaar op die buiteblad wys vooruit na die groot aantal gedigte wat handel oor virtuele verhoudings in die kuberruim.

Ou laaie open met drie programgedigte: “aanhef 1”, “aanhef 2” en “aanhef 3”. In eersgenoemde, waarin Blum se “Ballade van die getroude bemindes” saampraat, bely die spreker dit is tyd om die “ou hart se opgehoopte / volgestopte briewebus uiteindelik leeg / te maak: waarheen het almal, alles ook verdwyn?” (bl. 1). ’n Herbesoek aan vorige verhoudings word dus in die vooruitsig gestel.

Dis ’n bundel oor reise van hart tot hart, van aankoms en vertrek, van beginne en ook van eindes, en bowenal van verlies.

In “aanhef 2”, wat as ’n sleutel tot die lees van die bundel beskou kan word, sê die digter hy “weet nie meer wie is ‘ek’ of ‘jy’ nie” wat hom laat wonder “of verse anders lyk, klink, gelees sou / word wanneer die ‘ek’ verander in ’n ‘jy’; of ‘haar’ vir ‘jou’ / geskryf sal staan. is dit verskillend as i.p.v. ‘sy’ / die voorwerp van die vers by ’n hersiening skielik ‘hy’ / gaan heet?”

Hiermee sinspeel hy dat die identiteite van spreker en aangesprokene vloeibaar is, en hy gee plek-plek in die bundel uitvoering hieraan deur die persoonlike voornaamwoorde om te ruil. Só word lesersverwagtinge oor die gender van die spreker kort-kort gefnuik en meer betekenismoontlikhede oopgemaak.

In “aanhef 3” word die leser ingelig dat die gedigte in alfabetiese volgorde gerangskik is na aanleiding van die eerste letter van die eerste reël. Gevolglik is die chronologie van die “liefdesgeskiedenis” tot ’n groot mate opgehef – ouer gedigte staan neffens nuweres. Tog is daar motiewe wat regdeur die bundel herhaal word wat enersyds die binding tussen verse versterk en andersyds die leser help om die gedigte konseptueel te orden.

Dis ’n bundel oor reise van hart tot hart, van aankoms en vertrek, van beginne en ook van eindes, en bowenal van verlies. Ook is hier ’n volgehoue besinning oor die skryf van poësie, onder meer as doepa teen geheueverlies én teen die fisieke afstand tussen verliefdes.

In daardie gedigte waarin kuberverhoudings figureer, bevind die spreker hom oorsee “aan dié kant van die ewenaar”, die geliefde in Suid-Afrika. Die versugting na fisieke saamwees is ’n deurlopende motief.

Oor een van die verhoudings wat aanlyn via Skype met ’n getroude vrou aangeknoop word, word nogal uitgebreid verslag gedoen. Afwagting word vroeg reeds by die leser geskep wanneer die hartseer afloop van hierdie verhouding in “welwetende” geskets word. Later in die opeenvolgende siklusse “oorstuur – ’n siklus” en “disseldons – bestek” lees mens in ’n stygende spanningslyn van die versigtige begin, die groeiende intimiteit soos wat die twee inkyk op mekaar se leefruimtes, en dan mettertyd van die gedoemde uiteinde. Maar dan, heelwat later in die bundel, is daar nog ’n (dubbelsinnige) kinkel in hierdie verhaal.

In die meeste van die 57 gedigte word rym as bindingsmiddel ingespan terwyl enjambement en die minimum leestekens ’n skynbaar argelose vloei aan die verse verleen. Die digter waag ook sy hand aan versvorme soos die kwatryn, sonnet, villanelle en ballade.

Op die keper beskou is die verse van wisselende gehalte en die bundel sou kon baat by ’n fermer redigeerhand. Hoewel die digter soms beïndruk met sy virtuose aanwending van sekere rymskemas, ly dit andermaal tot onnatuurlike sinskonstruksies soos: “hoe wil ek my tog dig om jou / soos lappiesliefde toe kom vou / die koue weer die ryp besing / knus toegedek deur jy die vrou” (bl. 5); “soos vir ’n ou ou mens vou sy hom styf / in ’n kombers of soos ’n baba hy ruk” (bl. 88); “dan op ’n aand soos vanaand stort / wanneer jy skielik blink alles weer weg / [. . .] / omvergegooi en als weer opgeskort” (bl. 91).

Die verknogtheid aan rym ly ook tot gedwonge woordkeuses, soos: “onnaspeurbaar die diep riviere die donker stroom / [. . .] die deining eb en vloed en droom” (bl. 29) en “nou bewe sy hand hier bo die telefoon / na waar sy anderkant die mondstuk woon” (bl. 101).

Ewe steurend en iets wat die redigeerder moes uitgeskakel het, is die herhaalde gebruik van sekere woorde en frases in verskillende gedigte soos: “narwal”, “opgeskort”, “woes en leeg”, “pen op papier” en “verdig”.

Maar dié kritiek ten spyt is daar ook asemrowende beelde deur die bundel versprei: “kappertjies skoenlapper” in ’n tuin (bl. 8); die koue begin “saans aanskif teen die berg” (bl. 12); die son steek ’n venster aan die brand en “grys [sit] soos veraf watervoëls vreemd” in die geliefde se slape (bl. 37); die spreker se droom “gooi anker agter die breekwater van jou keel, die kaai jou sagte nek, / jou lyf die droogdok ná die reis” (bl. 103).

Daar is ook ’n gerf onthoubare gedigte waaraan poësieliefhebbers veel plesier sal hê. Benewens die twee genoemde siklusse is hoogtepunte die inkanterende “buite die venster”; “staning bokant levubu”, oor die verlange na ’n gewese geliefde, met dié treffende slotstrofe: “ek maak my wys as ek so sluk / dis die stof wat in die stofpad staan / dis die somersweet / wat my oë laat traan”; die aangrypende “hoe kry ek vanmiddag ooit onder woorde, sag”, die knap “vrybuiters – ’n ballade” oor geliefdes wat seerower speel, die hartwringende “sy wonder het sy hom hiertoe gedryf”; en die bronstige “jy. vir jou sou ek eendag oop wou”, waarin die geliefde met ’n wilde perd vergelyk word en waarin die volksliedjie “Tant Hessie se witperd” in die slotreël opgesaal word.

Dit sluit aan by die digter se spel met die taal wat ’n kenmerk is van sy digterskap. Hier blyk dit veral in die verwerking van ou gesegdes tot iets nuuts en die ontginning van verskillende betekenisse van woorde soos “voel”, “verslae” en “eg”. ’n Hele paar lieflike argaïese woorde soos “aai”, “du”, “subiet”, “kier”, “sprokkel”, “gaarde”, “klare”, “aanslib” en “edelhert” word ook hier aan die vergetelheid ontruk.

Ou laaie verdien ’n staanplek op die rak van elkeen wat goeie liefdespoësie in Afrikaans geniet.

* In die inperkingstyd kan alle Naledi-publikasies direk van die uitgewer bestel word. Stuur ’n e-pos aan tertiaswart@naledi.online of bel haar by 078 648 8616.

* Rudolf Stehle is ’n subredakteur by Media24 wat verlede jaar deeltyds Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Pretoria doseer het.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.