Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Outentieke stem sonder fieterjasies en versierings

Memoires

Tronkhond

China Mouton

PROTEA, R180

Om hierdie boek te lees, is soos om sorgeloos langs ’n kampvuur te sit en heel aand in verwondering na China Mouton se lewenswandel luister.

Daar is ’n outentieke stem – een sonder fieterjasies en totaal van literêre versierinkies gestroop.

Op die voorblad word Deon Meyer aangehaal: “China het ’n boeiende storie om te vertel, en hy doen dit eerlik, reguit en heerlik leesbaar.”

Mouton neem ons op reis deur sy kaleidoskopiese memoires nadat hy vir amper 40 jaar ’n hondemeester in die departement van korrektiewe dienste was. Sy besonderse verhouding met elke hond, asook sy liefde vir perde en die buitelug, maak van hom ’n tipe lone ranger met ’n deernishebbende hart.

Die wolfhond op die voorblad kan jou bang maak, veral as jy soos hierdie resensent in die middel 1980’s betogend voor die parlement deur een aan die boud gebyt is. Moenie geflous word nie: vriendelike gesig, fraai oortjies, maar tande wat skerp in sagte vleis inslaan.

Daardie Duitse herdershond kon seker in die toekoms sien, want kyk hoe lyk ons nou. Derhalwe is dit interessant om te lees oor die lieftallige verhoudings wat wel tussen sulke ooglopend kwaai diere en hul meesters bestaan.

Dit is clichéagtig om dit te op te haal, maar ja, die lewe is vol teenstrydighede, nes China Mouton en Jan Alleman.

Hy verlaat skool op 16 en is vroeg reeds spyt oor die besluit. In die middel van die winter word hy saam met 25 jong, onervare bewaarders na Robbeneiland uitgeplaas.

“Robbeneiland is loshande die mees neerdrukkende plek wat ek ooit beleef het. Alles lyk grou en grys in die mis en reënweer,” skryf hy.

Hy vertel hoe hy vir Nelson Mandela moes oppas en hoe Mandela vir hom kos aangegee het.

“Dan eet ons hardgekookte eiers terwyl ons lekker oor groot boksers van die wêreld gesels. Ek moes hom ook baie keer belowe dat ek verder sal studeer.”

Dit doen hy dan ook later.

Bewaarders met karaktervolle name soos Gonna Joubert en Kriek Stemmet figureer, asook Klipdrift en Coke.

Ná drie jaar op die eiland bedank hy. Dit is nie ’n plek vir ’n jong man wat vermoedelik, soos die Bybel noem, vrugbaar wil wees, vermeerder en die aarde vul nie.

Hy doen aansoek om die patrolliehondkursus, maar dit is onsuksesvol. Iewers hoor hy jy kan op kreefskuite in Elandsbaai geld maak. Hy ryloop tot daar naby.

“Soggens vroeg roei ons uit, ek en my maat, met ’n tweemanskuit.”

Hy raak bevriend met van die professionele vissermanne en begin op die kommersiële vistreilers werk. Een af naweek beland hy in Villiersdorp en daar ontmoet hy vir Danieta.

Sy raak swanger, hulle trou en hy laat staan die visvangery. Hy doen weer aansoek by die gevangenisdiens, maar tussendeur werk hy as kadetbrandweerman by die Bellville-brandweer. Hier sien hy gru-ongelukke en verkoolde lyke.

Daar is verskriklike tonele waar bendes mekaar en die bewaarders lelik bykom. As jy dink Quentin Tarantino se rolprente is wild verby, lees hierdie scènes.

Naderhand kry hy ’n aanstellingsbrief om diens te aanvaar by die Goedemoed-gevangenis naby Aliwal-Noord, die grootste landbougevangenis in die Republiek. Om te veel van die storie van hier af te vertel, gaan die pret bederf.

Dit is die beginplek vir sy werk en lewe vorentoe as hondemeester, spoorsnyer en spesialis in narkotika en springstof. Later trek hulle rond, hy begin straf drink en raak skaam vir sy eie gedrag. Hy is ’n man wat die swart hond ken.

Daar is verskriklike tonele waar bendes mekaar en die bewaarders lelik bykom. As jy dink Quentin Tarantino se rolprente is wild verby, lees hierdie scènes.

Vir dae lank verdwyn hy in die natuur te perd. Die lewe gee hom ’n paar harde klappe, maar waar hy val, staan hy op en stof homself af. Dié is ’n storie wat met die regte draaiboekskrywer die potensiaal het om vir die silwerdoek verwerk te word.

Die asem in die gevoelvolle verhaal is dié van sy honde. Voorin skryf hy: “Ek dink nog altyd aan die honde in my lewe: Storm, Tekkies, Dirkie, Choppie . . . Hulle was my beste vriende, ek sal hulle nooit vergeet nie. My trots, my kollegas en my sielsgenote.”

Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Groenpunt.

Meer oor:  China Mouton  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.