Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n ‘Outsider’ wat haar tyd ver vooruit was

Die skrywer Jeanne Goosen (81) was as “literêre outsider” nie net haar tyd vooruit nie, maar sy het ook gehelp bou aan ’n vernuwing in die Afrikaanse letterkunde ná die 1960’s.

So beskryf letterkundiges Goosen, wat Dinsdag dood is en wie se laaste boek later vanjaar verskyn.

Jeanne GoosenFoto: Christine Fourie

Dié Karoo-novelle – nog sonder naam – sluit aan by ’n lang lys boeke uit Goosen se pen wat insluit Ons is nie almal so nie, o.a. Daantjie Dromer, Om ’n mens na te boots en Louoond.

Sy word boonop as een van die eerste feministiese skrywers in Afrikaans beskou.

“Solank dít nie stereotipering was nie,” sê Marianne de Jong, onafhanklike literatuurwetenskaplike.

“Sy is myns insiens die beste novelleskrywer in Afrikaans. Sy het die genre bewus en baie selfkrities beoefen. Bondigheid was vir haar ’n literêre vereiste in prosa en sy kon dit in haar beste werk met poëtiese struktuur en taal verbind.”

“Wie sal weer ’n roman begin met die woorde: ‘Nóg ’n boek deur ’n vrou. Luister vriende, die wêreld van die kombuis is van die mens en van God verlate. Dit is ’n toestand – een van beheerde histerie.’ ”

Goosen het verhale oor die selfbevryde vrou, homoseksualiteit en homoseksuele verhoudings die lig laat sien.

“Sy was ’n briljante literêre outsider, selfs in haar meer gewilde werk – die mense van Pretoria-Wes in ’n Paw-Paw vir my darling stem vir die ANC! Sy was ’n anti-volkskrywer wat nogtans ‘vir die volk’ kon skryf omdat die mense van (byvoorbeeld) Parow die bron van spontane kritiek is op die regering, op snobisme en die bron van debunking en parodie.”

Jeanne Goosen
' 'n Pawpaw vir my darling' deur Jeanne Goosen.

Tessa Louw, wat betrokke is by die publikasie van Goosen se laaste novelle wat later vanjaar verskyn, reken Goosen was haar tyd vooruit.

“Sy het die werk van (die Franse filosoof en letterkundige) Georges Bataille intens bestudeer en haar erotiese kortverhale is direk deur Bataille se filosofie, die dood en erotiek beïnvloed. Mense (die onkundige leser) wat nie kennis dra van Bataille se werk nie, sal ook nie Jeanne se erotiese verhale na waarde kan skat nie.”

Prof. Joan Hambidge, digter wat die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad (UK) beklee, beskryf Goosen as “veelkantig”.

Benewens haar prosawerk was Goosen ’n digter, rubriekskrywer, dramaturg en kabaretskrywer.

Jeanne Goosen
'Ons is nie almal so nie' deur Jeanne Goosen.

Elders aan diens is ’n besondere digbundel met aweregse praatverse,” sê Hambidge.

“Haar lykdig oor haar pa, ‘Bibberende Piet’, is ’n hartgrypende vers nes ‘My mamma is bossies’. Die stem van die stemlose. In (die kortverhaalbundel) Plante kan praat skryf sy oor ekokwessies lank voordat dit mode geword het. My gunsteling van Goosen is Om ’n mens na te boots, want lewe en skryf, bly vir haar ’n stuk valsheid en onegtheid.”

Prof. Louise Viljoen, letterkundige aan die Universiteit Stellenbosch (US), wonder waar ons weer ’n skrywer soos Goosen sal kry.

Sy vra ook: “Wie sal weer ’n roman begin met die woorde: ‘Nóg ’n boek deur ’n vrou. Luister vriende, die wêreld van die kombuis is van die mens en van God verlate. Dit is ’n toestand – een van beheerde histerie.’ ”

Dit kom uit die novelle Louoond wat in 1987 verskyn het.

“Wie sal weer karakters skep soos die kind Gertie, haar ma, Doris, en dié se vriendin Mavis in Ons is nie almal so nie? Wie sal weer vir ons deur die oë van ’n hond laat kyk soos in ’n Pawpaw vir my darling en die belange van hoenders aan die orde stel soos in Wie is Jan Hoender? En wie sal weer so ’n striemende gedig skryf soos dié een in Elders aan diens waarin sy die Here vra om sekere dinge aan haar pa Piet uit te lê wanneer hy met die reuk van gas om hom en sy blou oë vol vrae in die hemel aankom?”

Volgens Viljoen was Goosen se werk onherhaalbaar en haar impak op die Afrikaanse letterkunde onberekenbaar.

Die digter Loftus Marais sê: “Daar is eintlik baie min digters in Afrikaans wat wérklik anders en vreemd met die taal werk en sy is een van hulle – ’n mens word deur ’n Goosen-gedig verras en daar is te min van daai soort strangeness in Afrikaans.”

Meer oor:  Jeanne Goosen  |  Letterkunde  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.