Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Paar nuwe vrae plaas Hugenote in konteks in die Kaap

Niefiksie

Hugenote aan die Kaap

Philippa van Aardt & Elaine Ridge

HUGENOTE-VERENIGING VAN SA, R390

Philippa van Aardt en Elaine Ridge se bydrae oor die Hugenote aan die Kaap is propvol wonderlike en verteerbare inligting.

Soos Andrew Kok, voorsitter van die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika, in die voorwoord aandui: “Tot redelik onlangs is die geskiedenis van die Hugenote aangebied as ’n ietwat onkritiese beskrywing van hulle triomf oor gods­diens-onderdrukking en daarop­volgende integrasie in hulle gas­heerlande. Hedendaagse historici volg ’n meer genuanseerde benadering tot die Hugenote se komplekse belewing van ballingskap en emigrasie.”

En dit is wat inderdaad in hierdie werk na vore kom.

Daar skemer geen heldeverering deur nie. ’n Paar nuwe vrae word gevra wat die Hugenote in konteks in die Kaapse samelewing plaas, byvoorbeeld oor rasseverhoudinge en oor die bydrae van Hugenote-stammoeders, wat maak dat bykans alle Afrikaners afstammelinge van die Hugenote is.

Die verhaal ontvou in agt hoofstukke. Die eerste twee belig die geestes- en politieke klimaat in Frankryk in die 16de en 17de eeu. Die Hervorming met Calvyn se invloed op Frankryk en die Franse godsdiensoorloë van die 16de eeu tussen die volslae meerderheid Katolieke en die minderheid Hugenote word goed uitgebeeld.

Die skrywers se oordeel dat Frans I reeds in 1539 koninklike mag verstewig het, ontken egter die lang verloop daarna van die vestiging van koninklike absolutisme. Veral Hendrik IV (1589-1610) se rol word geringgeskat.

Die derde hoofstuk, oor ballingskap, handel oor Hugenote se emigrasie na veral die Suid-Nederlande. Dit het reeds begin ná die slagting van Sint Bartolomeusnag in 1572. Die redes vir die emigrasie uit Frankryk word logies uiteengesit.

Die vyfde hoofstuk bring die Hugenote van 1688 af na die Kaap, met name wat in ons geskiedenis gegraveer is: Marais, Foucher, Malherbe, Leroux, Néel, Rousseau, Duplesis ...

Hoofstuk 4, oor die VOC-nedersetting aan die Kaap, skets die agtergrond van die Hugenote se koms na die Kaap goed. Maar dit is veral hoofstukke 5 en 6 wat as hoogtepunte uitgesonder kan word. Die vyfde hoofstuk bring die Hugenote van 1688 af na die Kaap, met name wat in ons geskiedenis gegraveer is: Marais, Foucher, Malherbe, Leroux, Néel, Rousseau, Duplesis, Therond, des Près, Jaubert en Malan. Klein groepies het nog tot minstens 1700 na die Kaap gekom – met name soos de Villiers, Mouton en Cellier.

Die struikelblokke word goed uiteengesit, soos die versuim van die Politieke Raad om hulle van plaastoerusting soos ploeë te voorsien, en transportprobleme. Dit wat wel voorsien is, was op krediet en moes terugbetaal word.

Hoofstuk 6 is genotvol – hoe die vlugtelinge nedersetters geword het deur assimilasie en integrasie. 34% van die Hugenote het met Nederlandstaliges getrou en in die tweede geslag 58%.

Ofskoon die Hugenote ’n reuse-bydrae tot die wynbou van Suid-Afrika gelewer het, dui die skrywers aan dat hulle soos die Nederlandse vryburgers hul intensiewe graanboerdery en wynbou met veeboerdery gekombineer het om hul risiko te verklein. En dis nie algemeen bekend dat die Hugenote se wynbou-sukses nie goewerneur Simon van der Stel aangestaan het nie omdat hy dit as ’n bedreiging vir sy eie wynproduksie op Constantia en die VOC se wingerde by Rustenburg beskou het.

Die illustrasies, waarvan die meeste in kleur, maak jou lus vir die lees.

Die skrywers skram nie weg van individuele vergrype onder die Hugenote nie, soos gevalle van onbetaalde skuld, grondvergrype, die beskadiging van wingerde en geweld. ’n Nuwe toevoeging vind ons in hoofstuk 7 – oor Franse besoekers aan die Kaap en hul vertellings oor hul kontak met Hugenote-landgenote.

Die finale hoofstuk, hoofstuk 8, gaan oor die Hugenote se nalatenskap op demografiese, ekonomiese en godsdienstige gebied. Tereg verklaar die skrywers dat die omvang daarvan moeilik bepaalbaar is: “Die taak word grootliks bemoeilik deurdat hulle en hul prestasies dikwels geïdealiseer word.” Die nuanses kom na vore: Die skrywers haal die ekonoom Johan Fourie aan wat daarop wys dat slawebesit die hoofkomponent van die wynbou was en sodoende op lang termyn groot negatiewe sosio-ekonomiese gevolge gehad het.

Ten slotte besluit die skrywers tog: “In Suid-Afrika is die invloed van die Hugenote en hulle nasate buite verhouding tot hulle beperkte getalle”.

Die illustrasies, waarvan die meeste in kleur, maak jou lus vir die lees. Baie nuttig is die kleurkaart met Hugenote-plase, gevolg deur ’n lys van die 113 plase wat uitgedeel is, aan wie, wanneer, die volgende eienaars en wanneer. En besonder waardevol is die volledige uitvou-register van die Hugenote wat na die Kaap gekom het – met wonderlike inligting om aan te herkou. Die publikasie is ook in Engels en Frans beskikbaar.

Die boek (BTW en posgeld uitgesluit) kan bestel word by verkope@huguenotmuseum.org.za.

Fransjohan Pretorius is emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.