Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Paar vrae aan Ton by die vuur

Die mediareus Ton Vosloo se memoires lewer ’n waardevolle en boeiende bydrae tot ons eietydse geskiedenisskat, skryf Johann Kriegler, maar laat hom ook met ’n paar gewigtige vrae op die hart.

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering deur Ton Vosloo. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275

Ton Vosloo kwalifiseer wel deeglik as memoiris. Die man, ’n reus op talle terreine, het oor vyf dekades heen diep spore getrap as joernalis, redakteur, uitgewer, versekeringshoof, kultuurbeskermheer, natuurbewaarder en sakeman-filantroop.

In Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering verskaf hy unieke inligting uit diverse binnekringe asook insigte en waarnemings uit persoonlike gesprekke met talle leiersfigure.

Dit is ’n besonder waardevolle bydrae tot ons eietydse geskiedenisskat.

En hy kán skryf – sy memoires is deurgaans lekker leesbaar en toeganklik. Net “kwal” (bl. 18) moes ek naslaan.

Waarskynlik met die oog op toeganklikheid het die memoiris op ’n tematiese eerder as ’n chronologiese struktuur besluit. Dit het die bepaalde voordeel dat iedere substantiewe onderwerp behoorlik aangebied, uitgebou en afgerond word. Die stof word dan ook in 23 hoofstukke onder pittige opskrifte aangebied met ’n deeglike register wat naslaanwerk vergemaklik.

So ’n taksonomie het wel sy nadele. Die markantste is ’n verlies aan samehang en ’n neiging tot oorvleueling.

Maar dis ’n kleinigheid, want van die innemende buiteblad (met ’n ontspanne en effens selfvoldane foto van die skrywer) tot die indeks bied die boek boeiende en genotvolle leesstof.

Maar jy moet fyn lees. Die man is nie tweedimensioneel nie. Daar is, soos ’n mens van ’n volronde woordkunstenaar kan verwag, nuanses, versweënhede – en gevolglik vrae.

Ondanks sy omarming van vryheid is daar tog ’n huiwering te bespeur.

So, byvoorbeeld, is die titel van die boek op sigself reeds dubbelsinnig. Is dit oor grénse, of óór grense; en waarop wil hierdie “grense” dui? Is dit grense wat ons steeds aan bande lê, of is dit juis dat verandering hul verbreking noodsaak? Of wil die outeur bloot aansluiting (en stawing?) vind by Nasionale Pers se selfgeïnisieerde Oor grense heen van 1992?

En resoneer die boek se subtitel bewustelik met Gabriel García Márquez? Gee Vosloo te kenne hy ervaar die tyd van verandering in ons land as die ekwivalent van Márquez se cholera? Dit sou my nie verbaas nie, want, ondanks die skrywer se uitdruklike omarming van die nuwe vryheid in ons grondwetlike bedeling, is daar tog ’n huiwering te bespeur, so half of die woorde en die innerlike oortuiging nie in volkome harmonie is nie.

Ek sou ’n oogtand gee om ’n wintersaand voor die kaggel te gaan sit met hierdie man en ’n bottel of wat. Ons sou eers gesellig brokkies uitruil uit ons gemeenskaplike staatsdienservarings in Pretoria van die 1950’s: amptenare, koerant-onder-die-arm, soggens op pad toilet toe (soos hy onthou) of my herinnering van twee teeklubs en toebroodjies in werktyd inprop om middagetenstyd oop te laat vir brug of tafeltennis. Ons sou Fred Allen se All Blacks opweeg teen Wilson Whineray s’n, Graeme Pollock en A.B. de Villiers se voortreflikhede vergelyk.

Ons sou lekker kon verskil oor die Inligtingskandaal en die Groot Krokodil se behendige manipulasie daarvan en ek sou baie meer wou weet van die skrywer se persoonlike gesprekke met die kolosse van ons tyd: John Vorster, Robert Mugabe, PW Botha, FW de Klerk en Nelson Mandela.

En later, namate die bottelvlak daal en die gesprek verdiep, sou ons hopelik gewigtiger onderwerpe aanroer – onderwerpe wat die memoires skerp na vore bring.

So, byvoorbeeld, word daar effens neerhalend op bl. 168 na “aartsbiskop Desmond Tutu se Waarheid-en-versoeningskommissie” verwys. Die skrywer se daaropvolgende verduideliking van sy (en die Nasionale Pers-direksie se) destydse weiering om voor die WVK te verskyn, en sy nabetragting en ernstige herbesinning daaroor, is aangrypend. Dit tipeer die pynlik angsvolle selfondersoek waaraan soveel van ons destyds onderwerp is.

Ons sou besin oor Nasionale Pers se bydrae tot die ontwaking, opkoms, groei en oorwinning van Afrikanernasionalisme – en daarmee sy taal, sy kultuur en sy stoflike welsyn. Dit was onteenseglik enorm, onmisbaar; en ons vertrou dat sy magtige steun en stukrag die voortbestaan van hierdie geestesgoedere sal versterk. Ons sou ook saamstem dat hierdie bydrae die skrywer se aansprake in hierdie verband ondubbelsinnig rugsteun. Dit is ’n trotse en roemryke monument en ons sou ’n spesiale glasie daarop klink.

Maar die skrywer is nou eenmaal te intelligent en polities deurwinter om die selfbegogeling in sy lofrede vir Naspers nie raak te sien nie. G’n denkende Afrikaner kan tog vandag – 2018, met die wrange vrugte van ons vertraagde rasseskikking oral te sien – werklik glo dat “die pad voorberei [is] vir ’n groot politieke verandering: Die aanvaarding van ons swart landgenote as deelgenote” nie (bl. 25). Wil die memoiris in alle eerlikheid vandag ontken dat Nasionale Pers reeds doer in die 1950’s sy roeping as gewete van die Nasionale Party versaak het? Kon die wyse manne van Keeromstraat werklik die Bantoestan-storie van “aparte vryhede” vir soetkoek opgeëet het? Het hulle regtig daarin “ ’n moontlike ontsnaphoek gesien, weg van die oorwig swart getalle in Suid-Afrika”

(bl. 20) terwyl daar “denkende mense [was] wat verder as die naakte rassisme van die NP gekyk het” (bl. 19) – en daarvoor verguis is?

Hoe verskoon ons hul klakkelose napraat van die NP se vervreemding (en in duisende gevalle konstruktiewe verbanning) van ons bruin taal-, kultuur-, gees- en meesal geloofsgenote? Bowenal, hoe verduidelik ons die onreg teenoor hierdie politieke bondgenote? Hoe verduidelik ons daarmee saam die grondwetlike geknoei en wettiese kunsgrepe waarmee die bruin mense ontkieser en ontheem moes word?

Die stukrag agter hierdie onverkwiklikhede het tog nie van die willewragtags van die Waterberg gekom nie, maar uit die Kaap met Piet Cillié se “toon van verfynde redelikheid” (bl. 147). ’n Skoorvoetend verwoorde hoofartikel hier en ’n halfversweë bedenking daar is bra ontoereikend.

Ek sou dan wou uitpluis hoekom die memoiris so heenskuur oor die oplaaiende spanning in die land in die 1960’s en ’70’s, oor die pers se rol as Afrikanergewete ná Sharpeville (op bl. 212 – insiggewend? – ’n “opstand” genoem), en veral die NG Kerk se verloëning van Cottesloe toe dr. Verwoerd sy stem dik maak.

Ons sou moes kyk na die pers se rol namate die owerheid al hoe kragdadiger inbreuk gemaak het op ons menseregte, hoe hy leiding gegee het toe Verwoerdiaanse dogma ons van Loskopdam via Basil D’Oliveira tot sportboikotte en muishondstatus gedryf het.

Wat was die Pers se reaksie op die Treurnichtelike lawwigheid met Afrikaans as verpligte onderrigtaal vir swart mense? Hoe het hy sy stem laat hoor oor Timol, Aggett, Biko en soveel ander se dood in verdagte omstandighede?

Of was Nasionale Pers so toegespits op die oorlewingstryd met Perskor dat sirkulasie tot elke prys nagejaag is met kompetisies, huismoles en dergelike banaliteite?

Ek sou my gespreksgenoot wou uitvra oor sy vermelding (bl. 149) van die “oorwinning van die verligte koerante” teen 1982. Wat het hierdie insigte vermag? Is daar getuienis van enige invloed hoegenaamd op die Botha-bewind; en van waar die vakuum wat gevul moes word deur Vrye Weekblad, Max du Preez, Jacques Pauw, Pearlie Joubert, Martin Welz met Noseweek en dergelike meer?

Kan ons dalk laataand insien dat Nasionale Pers se nalatenskap nie so eenduidig lofwaardig is nie – dat sy lojaliteitsjoernalistiek ontaard het in ’n knegskapverbintenis waardeur sy politieke “vennoot” vrye teuels gegee is om sy rasgegronde beleid af te dwing terwyl die kieserskorps jaar in en jaar uit daarvoor gekondisioneer is?

As ons in daardie stadium nog langs dieselfde vuur sit, maak ek nietemin ’n bottel van die heel bestes oop en stel ’n heildronk in op Ton Vosloo en Koos Bekker se inspirasie, versiendheid, waagmoed en deursettingsvermoë wat Naspers in ’n wentelbaan van tegnologiese kundigheid kon stuur.

Nuttige mense, die Vosloos.

Hopelik kan ons dan saam gaan dagbreekkoffie maak.

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
Meer oor:  Ton Vosloo  |  Naspers  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.