Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Plaasroman, maar nié idillies

Rekenaars swaai die septer in die toekoms wat Willem Krog skilder in sy vreemdsoortige distopiese plaasroman ‘Alleen onder die maan’, maar hoekom het dit Fanie Olivier dan so koud gelaat?

Alleen onder die maan deur Willem Krog. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R240.

Willem Krog. Foto: Gerry Pelser

Ná sy prosadebuut, Jacobus, in 2011 het Willem Krog in 2014 ook ’n digbundel, Assignaat, gepubliseer. Elemente, name en streke uit albei hierdie werke duik ook op in sy nuwe roman, Alleen onder die maan, wat bemark word as ’n “unieke kombinasie van nostalgie en distopie”.

’n Mens dink aan die outobiografiese dinge wat die skrywer in die teks indra, want die verteller, Pieter Malan, se ouma word byvoorbeeld direk benoem as Dot Serfontein (Krog se ma). Laasgenoemde se denkbeeldige speelmaatjies, Piet en Ralie, word ook betrek. Verder is daar die landelike omgewing en plaasmilieu van sy jeug: Middenspruit, Krog se grootwordplaas buite Kroonstad, word in die roman Pieter Malan se oupa se plaas.

Kroonstad word binne die roman ’n geografiese en historiese merker. Enersyds soos dit beskryf word in Serfontein se boek Ek is maar ene; andersyds soos die verteller dit waarneem en ervaar, iewers rondom 2050, “die nabye toekoms” soos die agterflap dit stel.

Dit gebeur wanneer Pieter sy bejaarde pa, Jaco, op ’n bedevaartstog neem vanuit Johannesburg na die plaas, wat ’n sentrale rol in die roman speel. Dit is waar Pieter se oupa en sy ouma se as begrawe is, en ook die plek waar Jaco grootgeword het. Dit is meer as 70 jaar nadat ons Jaco die eerste keer leer ken en tydens hierdie besoek aan die plaas kry hy ’n toeval en sterf.

'Alleen onder die maan' wil ’n poging wees om die spanning tussen die waardes en leefstyl van twee eras te bekyk. Dit word ’n toekomsblik na ’n nóg nuwer Suid-Afrika, maar met die wete dat groot stukke daarvan geen utopiese uitkoms inhou nie.

Wanneer Pieter ná die begrafnis – ongeloofbaar identies aan iets wat ons nou ken – sy pa se as gaan haal, is dit weg. Dit word ’n burokratiese ellende (sekere dinge verander nooit!), maar loop uit op ’n heerlike sosialemediagesprek-slot, waardeur die roman van sy vermoeidheid gered word.

Alleen onder die maan is op ’n manier nog ’n plaasroman. Een faset daarvan is ’n idilliese era op die plaas, 50 jaar gelede, waar Jaco en sy broers soos (arge)tipiese Afrikaanse plaaskinders grootword.

Ons as lesers leer dit ken deur vertelling in ’n ander lettertipe en in ’n manuskrip van sy pa wat Pieter begin lees ná die begrafnis. Dit is ook dié plaashuis wat pryk op die skildery wat in die ou man se kamer hang (bl. 23): “Die een wat die kliproos wys. Die klip is rond en is geset in ’n muur wat uit reghoekige klippe gebou is. Dis amper asof dit nie daar pas nie.”

’n Ander faset van hierdie plaasroman is dieselfde fisieke ruimte 80, 90 jaar later, maar waarin alles verander het. Die pragtige plaashuis is ’n murasie (soos dit ook met Kroonstad die geval is) en van die boer het daar niks oorgebly nie (bl. 15): “Vandag behoort al die landbougrond aan die staat en dit word alleenlik gebruik om kos te produseer. Niemand besit of bly meer alleen op ’n plaas soos voorheen nie.” Net die kliproos is nog daar en is uiteindelik ook die oorsaak van Jaco se dood.

Daar is ’n derde teks wat saampraat – direk. Dit is E.B. Grosskopf se Patrys-hulle, waarin ’n nóg vroeër geslag plaasseuns aan die orde gestel word. Ek skryf van “seuns” omdat daar in Krog se roman min plek ingeruim is vir die dogters wat in hierdie landskappe aanwesig is.

Alleen onder die maan wil dus ’n poging wees om die spanning tussen die waardes en leefstyl van twee eras te bekyk. Dit word ’n toekomsblik na ’n nóg nuwer Suid-Afrika, maar met die wete dat groot stukke daarvan geen utopiese uitkoms inhou nie.

Dit word duidelik dat die kliproos of klipblom waarna hier bo verwys is, ook as metafoor vir die ou Jaco gesien moet word. Hy pas eenvoudig nie in die wêreld waarin hy hom nou bevind nie. Of dit nou in die beklemming van die voorskriftelike klein woonruimte is wat hy met sy seun moet deel, in sy minagting vir die maatskaplike bestel van die jare 2040 en daarna of in die afwesigheid van ’n onafhanklike, kritiese lewenshouding wat hy om hom in die maatskappy waarneem.

Dit is dan ook binne hierdie konteks wat die leser hier, in 2020, terugverwys word na die Amerikaanse filosoof Herbert Marcuse se One-Dimensional Man uit 1964, ongeveer die tyd van Jaco se geboorte. Krog gebruik telkens ’n aanhaling hieruit as motto vir ’n nuwe hoofstuk. Die subtitel van hierdie werk – Studies in the Ideology of Advanced Industrial Society – sou juis miskien ook as ’n beskrywing van Alleen onder die maan beskou kon word, behalwe dat ons “industrial” met “IT” kan vervang.

Die toekoms wat Krog skep, is een wat volkome beheer word deur die rekenaartegnologie. Suid-Afrika het ineengestort (hoekom,

weet ons nie) en het ter wille van oorlewing uitverkoop aan die Chinese, wie se programmatuur CGPA (Complete Governance and Performance Audit) gebruik word om die land te regeer.

’n Hele klomp onderliggende programme bepaal die lewe van elke individu, die belangrikste die System of Moral and Social Suitability.

Daar is diegene wat glo dat met die maanlanding in 1969 die wêreld onherroeplik verander het. Die maan, maar veral die landing, het in hierdie roman ook ’n bindingsfunksie. As voorskoolse kind sien Jaco dit in ’n nuusfliek in die Empire-bioskoop in Kroonstad. Later het hy by wyse van spreke ’n verblindende ervaring as hy as ruimteman in sy boeties se “maantuig” reis; weer later is hy, as grootmens en vader, aan die vertel oor die omstandighede waaronder hierdie maansending gestalte gekry het en die amper metafisiese betekenis daarvan.

Met so ’n boeiende stel gegewens sou ’n mens verwag dat die roman iets besonders sou word, veral in die lig van die voortreflike wyse waarop Krog in sy debuut, Jacobus, met ’n groep stories gewerk het waarin ene Jaco Malan die bindende karakter was.

Waarom laat die nuwe roman my dan koud? Is dit omdat die skrywer nie daarin slaag om die visuele parameters van Johannesburg oor 20 of 30 jaar vir ons duidelik of opwindend te teken nie? Die gepaardgaande aftakeling nie motiveer nie? Maak die feit dat rekenaars die uitkoms van ’n hofsaak bepaal, werklik saak? Hommeltuie maak reeds jag op misdadigers. Sou Alzheimer nog steeds onopgelos bly?

Of is dit slordigheid, soos die merkers wat ons in die teks raaklees en wat dit byvoorbeeld vir ons duidelik maak dat Pieter eintlik 19 of 20 jaar oud is in die romanjaar 2020? En dat sekere kontroleerbare dinge daarom gewoon net nie waar is nie? Of op ’n ander vlak: As Pieter dislekties is en Afrikaans nie tegnologies kan help nie (bl. 31), hoe bestáán daardie deel van die roman wat hy vertel?

Of moet ’n mens die ongemak toeskryf aan die lang “intellektuele” gesprekke of verduidelikings waarmee die leser gekonfronteer word, hope inligting wat oorgedra word sonder dat dit handeling word? En op ’n heel ander terrein: Wat is die aard van sy verhouding (kom ons sê hy is 50) met Alice, “my meisie”, soos hy haar noem? En hoekom is dit so?

Natuurlik is dit waar dat goeie letterkunde en sterk romans altyd vrae behoort te vra. Maar nie dinge van hierdie aard nie, so alleen onder die maan.

  • Fanie Olivier is ’n digter, vertaler en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Dot Serfontein  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.