Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Ruim porsie poësie

Op liefhebbers van Afrikaanse poësie wag daar ’n geil aanbod oor die volgende klomp maande

Reeds beskikbaar is Thomas Deacon se vierde digbundel, Duifiedorings, met eenvoudige, eerlike verse “tipies van ’n bepaalde samelewing en lewensruimte wat waarskynlik aan’t verdwyn is”. Volgens die uitgewer “kom die menslikheid en aardsheid skitterend na vore, en daarmee saam ’n eiesoortige lewensinstelling: lydsaamheid, geduld en meelewing met mekaar, maar ook ’n leefwyse as lewensgenieters te midde van ’n beskeie bestaan”. Uitgewer: Minimal Press. Prys: R165.

Kleinboer, skrywersnaam van die Johannesburgse romansier en teksredakteur Fanie de Villiers, debuteer einde vandeesmaand as digter met die bundel Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. Volgens die uitgewer bevat dié verse “huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie), bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare”. Op Facebook beskryf De Villiers dit as “motpoësie, want die skryf van vlinderpoësie is buite my bereik” en voeg by: “Ná drie joernale, vermom as romans, verskyn opgetjopte prosa (ietwat in die styl van Charles Bukowski?), vermom as ’n digbundel. Hopelik kan die inhoud iemand iewers laat grynslag.” Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Parlement van uile is die debuutbundel van die Johannesburgse vryskutskrywer en videoredigeerder Johann van der Walt, wat verlede jaar die eerste Ingrid Jonker L’Art Poetique-poësiekompetisie gewen het. In dié moderne, dikwels teatrale verse werp die digter lig op eksistensiële vrae, maar ignoreer reëls en daag in die proses die grense van die Afrikaanse poësie uit, sê die uitgewer in ’n mediaverklaring. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

By die Woordfees
Die digter Pieter Hugo gesels met Kleinboer oor sy poësiedebuut op 11 Maart om 12:00 in die Adam Small-seminaarkamer. Kleinboer en Fanie Olivier is ook deel van ’n groep manlike digters wat op 14 Maart om 17:00 in die Boektent deelneem aan Digtersparadys: Verse wat groot mans laat huil. Kaartjies vir albei geleenthede kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

In haar jongste bundel, Nagblind, wat vandeesmaand verskyn, skuif die Bethalse spelterapeut, kunstenaar en sakevrou Francis Grobler die sluier van ’n verskuilde wêreld oop en delf in ’n geestelike dimensie. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Die kernfisikus Hennie Smith se tweede bundel, Verskuilde verse, is volgens die digter Cas Vos “ongewoon in die opsig dat die digter meesterlik daarin slaag om die wetenskap te benut ten einde poësie te dien en te word”. Die verse getuig van ’n diepgaande wetenskaplik-filosofiese insig oor die ontstaan van die kosmos, en van die mens op hierdie planeet. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

In Maart verskyn by Naledi Fanie Olivier se lywige sewende bundel, Ou laaie, met liefdesgedigte wat oor ’n lang tydperk geskryf is en alfabeties volgens die beginreël georden word. Talle handel oor verhoudings in die virtuele ruimte waarin kitsgesprekke ontstaan, verliefdes letterlik via Skype inkyk op mekaar se lewens en daar dikwels nie ’n wag voor die mond geplaas kan word nie.

Nog liefdesgedigte, dié keer in Cas Vos se Onder die vlerk van liefde, word in April uitgegee. Dit handel oor die wonder en heerlikheid van die liefde met as hoogtepunt die eiesoortige vertaling van die Hebreeuse Hooglied in Afrikaans wat deur begeleidende aantekeninge verhelder word.

In Pleks van plaas, ’n versameling unieke verse oor plekke en verplasings (fisiek en taalgewys) tussen kontinente, skryf die Poolse vertaler, digter en akademikus Jerzy Koch onder meer oor sy familiegeskiedenis in Pole, maar meestal oor Suid-Afrika wat hy sedert 1992 gereeld besoek. Die publikasiedatum is Mei.

Meer oor:  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.