Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Skatkis vir flenters lees

Die grootste verrassing omtrent die ontdekkingstog waarop N.P. van Wyk Louw se ‘Versamelde dramas’ ’n mens neem, is hoe betreklik maklik die tekste lees en hoeveel inspanningslose leesplesier dit bied in verstommend beeldende en moderne Afrikaans, skryf Jean Meiring.

Versamelde dramas: N.P. van Wyk Louw, saamgestel deur Deborah Steinmair en Kristèl de Weerd. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R595.

Dis waarskynlik geen toeval nie dat Protea Boekhuis se bundeling van al N.P. van Wyk Louw se dramatekste – die eerste keer ooit – soos ’n skatkis, donker, swaar en glimmend, in ’n mens se hande lê.

Met die sekerlik onontbeerlike bystand van die L.W. Hiemstra-trust strek die twee redakteurs, Deborah Steinmair en Kristèl de Weerd, se opstapeling van die 15 verhoogtekste wat uit Van Wyk Louw se pen gevloei het – die toneelstukke, hoorspele en die enkele opera-libretto breedweg chronologies georden – 775 bladsye vol.

’n Streng chronologiese sekwens sou onmoontlik wees. Elk van die tekste het ’n skryf-, eerste-opvoering- en publikasiedatum wat dikwels ver uit mekaar lê. ’n Skryfdatum is boonop selde ’n stippel; eerder ’n onpeilbare reeks stippels en strepe.

Chris van der Merwe, afgetrede professor aan die Universiteit van Kaapstad, se beknopte essay wat ter inleiding aangebied word, roer van die datummatige konteks van die tekste aan; vir die doeleindes van hierdie bundel is dit voldoende. Navorsers en professionele lesers sal hulself beroep op die twee stewige bande van J.C. Steyn se Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal (1998), wat uitvoerige konteks verskaf.

Andersins benut Van der Merwe sy oopmaak-essay om ’n heel netjiese tematiese oorsig oor en raamwerk vir die tekste te bied. Dis egter allermins nodig om die diep waters van die bundel versigtig met behulp van die trappies en reling van Van der Merwe se essay te benader. Trouens, dít mag die suiwer genot van die leeservaring – as plons – inkort.

Bundel lê swaar en glimmend in ’n mens se hande.

Tog, as jy eers die tekste (of selfs net sommiges) deur is, bied die essay en gepaardgaande stigtende bronne- en leeslys ’n nuttige en toeganklike sleutel tot breër, oorkoepelende begrip en insig.

As dít als ’n bietjie swaar en berekend klink – so asof ’n mens vir die leesslag padkos en ’n noodwiel moet inpak – skep ek ’n volkome vals indruk. Die grootste verrassing omtrent die ontdekkingstog waarop dié boek ’n mens neem, is hoe betreklik maklik die tekste lees (boonop toneeltekste, wat oudergewoonte gehoor en nie gesien word nie) en hoeveel inspanningslose leesplesier dit bied. Kom jy eers aan die lees, verlaat jy jou gou op Van Wyk Louw se verstommend beeldende en moderne Afrikaans.

Op die eerste van die tekste, die kort Die dieper reg (met die ondertitel “ ’n Spel van die oordeel oor ’n volk”), het die gordyn in 1938 gelig tydens die eeufees van die aanvang van die Groot Trek. Baie van die vernaamste kenmerke van en temas in Van Wyk Louw se drama-oeuvre, soos ek dit ná dese ken, is reeds daarin sigbaar: die volk, die reg, die geloof.

Wat eerste opval, is die gestroopte taal en die minimalistiese verhooginkleding waarvoor die dramaturg puntenerige aanwysings gee. Vergeleke met die meesal boertige en realistiese stukke wat tóé die Afrikaanse verhoog volgespeel het, spreek Van Wyk Louw se verhoogdebuut van volwassenheid en verfyndheid.

Ook is die stuk ontdaan van die Afrikaner-jingoïsme wat ’n mens op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog met terugskoukennis dalk van Van Wyk Louw sou verwag het.

Al is die stuk se tema die Afrikanervolk en dié se verlede en toekoms – iets wat vandag deur ’n gans ander loep as toe betrag word – rig dit in taal wat gister geuiter kon gewees het steeds ’n direkte appèl tot die leser.

Die voorspraakmaker, wat verhoogmatig die Afrikanervolk se verdediging behartig, sê dat húlle ’n land gekry het wat, soos Pierneef dit sou wou hê, “wyd en oop en mooi” was (bl. 54). ’n Bladsy verder lê die aanklaer egter die klag van “[g]rondhonger” voor die Afrikaners se deur (bl. 55). Sonder ’n oomblik se aarseling werp die voorspraakmaker dié verweer op: “Grond om vry te wees! Ook grónd was in die slaweland” (bl. 56).

Nie om sagkens te bewaar soos ’n kleinood nie.

Al het die sosiopolitieke konteks ingrypend verander, spreek dié kort verhoogstuk steeds sterk tot ’n mens – nou wel op ’n wyse wat Van Wyk Louw stellig nie sou kon voorspel het nie.

Volgende aan die beurt is die effens langer Dias, ’n treffende hoorspel wat in 1952 die lig gesien het (die leeuedeel van die tekste is hoorspele). Dit speel in die jaar 1487 op twee Portugese ontdekking­skepe af wat mekaar om die suidelike draai van Afrika die loef probeer afsteek.

Vergeleke met Die dieper reg is die kompleksiteit, durf en ambisie van die versreëls ’n wêreld vooruit. Met gemak roep die karakter Dias se openingswoorde onteenseglik ’n wêreld op (bl. 70): “Hoe gly ons mas se punt teen die sterre langs. / Hoe kan ’n nag só blink! Dis ene lig / bo en van onder.”

’n Besef van die implikasies van die kolonialisme is ook nie afwesig nie: “Daar’s hutte en daar’s vee. Ook hierdie aarde / het sy mense” (bl. 83).

Dias, wat met vandag se veel meer gevorderde verhoogtegnologie ook op die verhoog mooi sou werk, bied ’n insiggewende taal- en versmatige brug na Germanicus, die meesterlike vollengte tragedie waarop die gordyn in 1956 gehys is. Dís by verre die bekendste van die versamelde tekse; dekades lank is dit vir studie op skool en universiteit voorgeskryf.

Die titelkarakter is ’n Romeinse veldheer, ’n ware historiese figuur, wat met die bewindsoorname van Tiberius in 14 n.C., die tweede keiser, aan die grens tussen Gallië (Frank­ryk) en die Lae Lande met welslae die Romeinse Ryk se grense noord du. Dáár is die land “die een moeras, riet en wit paddatjies”, waar die soldate “soos reiers deur die water pleps” (bl. 109).

Dese en gene por Germanicus aan om die septer uit sy familielid Tiberius se hand te gryp. Tog wíl hy nie – met uiteindelik tragiese gevolge. In die soldaat Lucius se onvergeetlike woorde: “Ons is ’n put. Waar eens die wye koepel / van die oop hemel enkeld bo ons was, / is nou ’n skrefie dag, ’n puntjie lig / waarna ons, julle en ek, soos putwurms / ons nekkies heen kan wikkel” (bl. 124).

Die drama spreek indirek tot die politieke situasie in die Suid-Afrika van toe, maar is wat inslag betref in die eerste instansie merkbaar universeel. Van der Merwe onderskryf teësinnig die beswaar dat, weens sy lang spreekbeurte, Germanicus staties is en aan opvoerbaarheid inboet (bl. 38).

Ek wil my tog verstout om van dié blykbaar algemene gevoel te verskil. Die taal is net té ryk en die karakterisering té genuanseerd dat dié klassieke verhoogteks in die hande van ’n topteaterspan, met al vandag se oëverblindery tot hul beskikking, enigiets anders as uiters treffende teater sou wees. Des te meer in ’n teaterlandskap waar gehore aan die moeite gewoond geraak het wat eenpersoonvertonings van húlle verg.

Trouens, soos ek ná my respekvolle openingsleessessie meer weerbarstig en met meer durf tussen die tekste rondgespring het, het die gevoel byna sonder uitsondering by my posgevat: Hoe opwindend sou dit nie wees om hierdie stuk op die verhoog te sien – of dan oor die draadloos te hoor nie!

Die Feydeau-agtige klug Koning-EenoogofNie vir geleerdes, wat rondom Uniewording in 1910 in ’n rektorswoning op ’n alte deftige en kunssinnige kampus afspeel, sou met geringe skaafwerk vandag steeds tref. Selfs op papier het ek dit amusant gevind, al die toneelaanwysings en opvoermoontlikhede in ag genome. Die satiriese angel is boonop steeds prikskerp.

Die korter stukkies Die vonnis, Die eerste voortrek en Berei in die woestyn – die eerste twee speel in bepaalde tydsgewrigte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis af; die derde het ’n heel moderne eko­tema – sou ’n wonderlike radioteaterseisoen in die kleine uitmaak.

Eweseer Die held (wat in Frankryk tydens die Nazi-besetting afspeel), Blomme vir die winter (’n liefdesverhaal wat in Parys, Frankryk, ontknoop) én Lewenslyn (wat tussen ’n sirkus en die hiernamaals wentel). Hierdie korter stukke is, verrassend, ook deurspek van stukkies fyn humor.

Maar die twee stukke, naas Dias en Germanicus, wat ek die graagste opgevoer sou wou hê, is die hoorspel Dagboek van ’n soldaat, oor die stryd tussen die diktatoriale bewindhebbers in ’n eilandstaat en ’n bevrydingsleër, en Die pluimsaad waai ver of Bitter begin, wat vir die eerste maal in 1966, met die vyfjaarherdenking van Republiekwording, opgevoer is.

In laasgenoemde neem Van Wyk Louw teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog besinnend en krities (veel meer as in Die dieper reg) in oorweging wat ’n volk dan nou is – en wat die Afrikanervolk in die besonder sou wees. Weer eens voel die teks, verbasend, nie verouderd nie; weens die universele aard van die vraag waarmee Van Wyk Louw worstel, wat die indertydse premier H.F. Verwoerd die harnas in gejaag het, boet dit nie aan relevansie in nie.

Ook is dit, soos Dagboek, uiters slim vir die opvoerslag gekonstrueer. Albei benut volledig die moontlikhede van die vorm waarin hulle gegiet is, onderskeidelik radio- en verhoogdrama.

Vir die aanpak van dié reuseboekprojek verdien Protea ’n toringende, wuiwende pluim. Stellig was daar baie doemprofete, wat van de oude doos gemor het en van Afrikanernasionalisme en sepia gekook het. Natuurlik is daar sepia, maar veel minder as wat ’n mens sou verwag.

Al sou ek graag vooraan elke stuk die datum en plek van die eerste opvoering wou sien én die name van die eerste rolverdeling wat oudergewoonte verskyn by ’n verhoogteks wat gepubliseer word, is dít ’n klein beswaar oor ’n boek wat my lang ure se genot verskaf het – en waarnatoe ek telkens sal terugkeer.

Daar’s g’n doekies om rondom dié kissie donkerhout te draai nie. Enigeen wat vir die teater en die poësie ’n liefde koester en wat opnuut deur die moontlikhede van Afrikaans verstom wil word – én al die land se teaterregisseurs – sal Versamelde dramas ylings aanskaf.

Dit nié om sagkens te bewaar soos ’n kleinood wat aan die vergetelheid ontruk is nie, maar vir flenters lees.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.