Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Soeke na die grense wat werklikheid omlyn

Tussen toeval en willekeur

Kobus Lombard

NALEDI, R175

Poësie

Lombard se vyfde bundel is een wat met elke herlees klein skuiwe maak. Soos ’n duin wat stadig maar seker iets toewaai, skryf Joan Hambidge.

Delikate digkuns.

Dis die beste manier waarop ’n mens die digkuns van Kobus Lombard kan tipeer.

Sy vyfde digbundel heet Tussen toeval en willekeur en hierdie titel resoneer met ’n vorige bundel, Tussen wysvinger en duim (2005). Hierdie jongste bundel is besonder mooi uitgegee deur Naledi.

Die digkuns hou sig immer besig met ’n tussentoestand wat ervarings betref. Gedigte registreer ’n indruk of inspirasie en word dan in woorde vertolk. Dikwels op ’n ander manier as wat die digter dit dalk bedoel het . . .

Op die agterplat word daar tereg verwys na die binnewaartse reis van die digterlike proses en die soeke na grense wat die werklikheid omlyn.

Lombard se werklikheid is Namibië. Die outeur van die lokteks beweer ook tereg dat die onsegbare dikwels tussen die woorde en die leë spasies skuil. Daar word verder ook gepraat van grense wat vervaag . . . En die ritme word bepaal deur toeval en willekeur.

Nou wanneer ’n mens hierdie bundel benader is dit eenvoudig so dat daar in ’n klein gedig baie subteks of implikasie skuil. ’n Gedig begin met stilte en word later in ’n ander gedig “voltooi”.

Duine

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ’n vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer (bl. 50)

Uiteraard spreek hierdie gedigte tot my weens my besonderse ervaring van die Namibiese landskap én die woestyn. Lesers wat dit nie beleef het nie sal eweneens aanklank vind by hierdie bundel met sy gestroopte, pretensielose verse.

Gobabeb sal altyd daar wees en die digter sal na hierdie ruimte terugkeer met ’n jakkalsdraf of om in die droë rivierloop te sit en tjank (bl. 51). In hierdie landskapsgedig word die menslike bestaan as onbenullig en efemeer gesien teenoor die natuur wat sal voortbestaan.

In die gedig “Skaduwee” (bl. 61) word die woordspel tussen aanval en invul goed ontgin:

bedags volg jy my getrou

teen hoogmiddag staan jy

wydsbeen bo-oor my

soos die skemer nader

loop jy verder voor my uit

en in die nag as die aarde

sy gesig wegdraai van die son

val jy my

onsigbaar in

En ’n skaduwee is immers ’n tussentoestand . . .

Die bundel verloop siklies. Dit karteer die lewensloop van ’n mens wat leer praat en skryf en leer om die “swye te verbreek” – uiteindelik keer ons terug, volgens die slotvers na ’n primordiale wêreld sonder taal.

Die ars poetica op bladsy vier ontgin die toeval en willekeur van die digproses wat met woorde en woordeboeke werk, maar uiteindelik gerig word deur “waarskynlikheid”. ’n Mens sou ook kon beweer: blote geluk.

Sowel “Vrug” (bl. 8) as “Woordkapper” (bl. 9) bemoei sig met die digproses.

In eersgenoemde gedig word die geleende suurstof van intertekstualiteit gekritiseer. In laasgenoemde is die digter se soeke na sy eie “rooibruin pit” duidelik.

Terwyl die eerste afdeling hoofsaaklik werk met die temas van die digkuns en inspirasie word daar in die tweede afdeling gekyk na geloof. Hier vind ons ’n lieflike gesprek met Psalm 23 (“Goeie herder”, bl. 15) en in “Oorplasingsnavraag” (bl. 21) wonder die digter oor hoe die hemel daar sal uitsien. Sy hemelse bestaan sal waarskynlik een wees met kameelbome en droë rivierlope en hy vra of ons daar bedreig sal voel.

In die derde afdeling vind ons liefdesverse en reise na vreemde bestemmings. In “Lied sonder woorde” (bl. 27) word ons gemaan om te waak teen die lied (dus gedig) wat die liefde bloot wil lê.

In die vierde afdeling is daar besinnings oor die ouderdom, die naderende dood – onder meer geskryf in die Okavango. Daar is

’n siniese vers oor toeriste wat Afrika-objekte terugneem sonder om die historiese of kulturele konteks te begryp soos in die aangrypende “Gekerf” (bl. 33), waar die beeld verlang na sy plek van herkoms.

Die stilte van hierdie bestaan word binnegedring deur raserige toeriste, Facebook, ’n GPS, TV-kanale, selfone en virtuele reise.

In die vyfde afdeling word daar teruggekeer na die wêreld van die “Waarheid” (bl. 45):

die waarheid flits

soos gemsbokhorings

teen ’n duin

. . .

Hierom dan ook die ervaring van grensverskuiwings. In die slot en sesde afdeling vind ons lykdigte (onder meer een oor die digter se moeder, ’n figuur na wie hy by herhaling terugkeer, en ’n gedig vir ’n vriend, “Begrafnislys”, bl. 59), en ’n afskeid van die aardse bestaan.

Dis ’n bundel wat met elke herlees klein skuiwe maak. Soos ’n duin wat stadig maar seker iets toewaai.

Die bundel vra vir ’n saamlees met Dolf van Niekerk se gedigte oor die Karoo, Karoosange (1975).

  • Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Poësie  |  Boekresensie  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.