Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tuin van Digters: ’n Soeke na sleutels

Die ontslape taalstryder Ampie Coetzee se blywende invloed op die Afrikaanse letterkunde en die aansporing óf struikelblok wat die Ingrid Jonker-debuutprys vir poësie meebring, is van die gesprekke op die negende Tuin van Digters.

Dit word van 27 tot 29 November in Wellington gehou.

Die negende Tuin van Digters duur van 27 tot 29 November in Wellington.

Verder word Gerard Scholtz se debuut-haikoebundel bekend gestel en die digter en vertaler Daniel Hugo gehuldig.

Vanjaar is die tema “grendels slotte sleutels”, wat op die nasionale inperking sinspeel.

Dit verwys na ’n versreël uit ’n gedig van N.P. van Wyk Louw wat lui: “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte”. Dit het in sy bundel Tristia verskyn.

Die Tuin van Digters word gewoonlik in September in die Breytenbach-sentrum gehou op die naweek die naaste aan die digter Breyten Breytenbach se verjaardag, maar dit is weens die Covid-19-pandemie tot November uitgestel.

Breytenbach het as kind gewoon waar die Breytenbach-sentrum vandag is.

Die fees word met die samewerking van NB-Uitgewers en die Dagbreek Trust as hoofborg aangebied.

Sommige items word virtueel aangebied.

• In “Ampie Coetzee en die Afrikaanse letterkundestudie” gesels prof. Louise Viljoen, letterkundige en dosent aan die Universiteit Stellenbosch, met prof. Gerrit Olivier en die digter Jolyn Phillips en jonger letterkundiges oor hul visie vir die toekoms van Afrikaanse letterkundestudie.

Dié gesprek word op 27 November om 12:00 aangebied.

Wellington
Ampie Coetzee Foto: Marlene Malan

Coetzee, wat in Oktober aan hartversaking dood is, het boeke soos Letterkunde en krisis en Marxisme en die Afrikaanse letterkunde die lig laat sien.

Hy het saam met John Miles en Ernst Lindenberg die uitgewer Taurus gestig. Dié uitgewer het onder meer boeke van Breytenbach, met wie Coetzee jare lank bevriend was, uitgegee, ook toe hy in die tronk was.

Ná die verbod op André P. Brink se roman Kennis van die aand was Coetzee een van die mense wat ’n fonds gestig het om die boek te verdedig. Brink het later daardie geld teruggee en daarmee is Taurus begin.

• Die Ingrid Jonker-prys is vanjaar 55 jaar oud.

Jonker, bekend om digbundels soos Ontvlugting en Rook en oker, het op 19 Julie 1965 in die see by Drieankerbaai verdrink.

Ná haar begrafnis het vriende en skrywers ’n “tweede” begrafnis vir Jonker gehou, waartydens die skrywer Jan Rabie die instelling van dié prys aangekondig het.

Ruth Miller was die eerste wenner met haar bundel Floating Island.

Wellington
Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

D.P.M. Botes was die eerste Afrikaanse wenner, met sy bundel Wat is ’n gewone man.

Ronel de Goede, sameroeper van die prys gesels op 28 November om 17:30 met drie vorige voorsitters: Daniel Hugo, Louis Esterhuizen en Danie Marais. Hulle sal praat oor hul herinneringe en die invloed van die prys.

Sluit dit deure oop of toe? En wie besit dié sleutels?

• Op dieselfde dag, om 18:30, gesels die skrywer Finuala Dowling, ’n vorige wenner, met Saaleha Idrees Bamjee, wat vanjaar die prys vir haar bundel Zikr gekry het.

Sy gaan ook van haar verse voorlees.

• Daniel Hugo, wat op 27 November gehuldig word, neem deel aan verskillende gesprekke.

Hy beantwoord op 28 November om 10:00 in “Die singende wêreld” vrae oor sy vertaling van die Vlaamse digter Marc Tritsman se bundel Het zingen van de wereld. Dié geleentheid word deur Naledi aangebied.

Om 18:30 gesels Hugo, Nicol Stassen en Louis Esterhuizen oor onder meer oor die belangrikheid al dan nie van Afrikaanse letterkunde.

Op Hugo se huldiging lees die akteur Chris van Niekerk van Hugo se verse voor.

Bernard Odenaal, Yves T’Sjoen en Nicol Stassen tree hier op.

• Twee debutante gesels vanjaar op die fees.

Die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Ryan Pedro en Lynthia Julius het onderskeidelik Pienk ceramic-hondjies en Uit die kroes uitgereik.

Hulle neem deel aan die gesprek “Nuwe bundels sluit slotte oop” op 28 November om 15:30.

Die Nederlandse digter Alfred Schaffer gesels met hulle en die digter Jolyn Phillips, wie se tweede bundel, Bientang, vanjaar verskyn het, neem ook deel.

• Die kunsuitstalling Grendels slotte sleutels open op 27 November om 18:00.

Elza Miles, kunstenaar, kunsskrywer en -historikus, is die openingspreker.

Die feeskunstenaars is die landskapkunstenaar Estelle Marais, bekend om landskapskilderye van die Groot-Karoo; Joubert Stander fokus op herbegin, vernuwing en die natuur en Sandra Hanekom beeld die soeke na sleutels tydens die inperking uit.

• Die volledige program en besonderhede oor die Tuin van Digters is op die Breytenbach Sentrum se Facebookblad of by breytenbachsentrum.co.za beskikbaar.

’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar en kan bespreek word by Jeanne-Mari Gerber by 021 873 2786, 073 435 1022 of besprekings@breytenbachsentrum.co.za.

Toegang kos R150 per persoon vir Vrydag 27 November, R250 vir Saterdag 28 Februarie en R120 per persoon vir Sondag 29 November. ’n Tweedagpakket vir Vrydag en Saterdag kos R320 per persoon. Studente met ’n geldige studentekaart betaal R60 elk en opbetaalde lede van PEN Afrikaans het gratis toegang.

Meer oor:  Nb-Uitgewers  |  Ampie Coetzee  |  Daniel Hugo  |  Wellington  |  Boeke  |  Skrywers  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.