Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Stem, gesig vir randfigure

Fiksie

Die kinders van

Spookwerwe

Lize Albertyn-du Toit

HUMAN & ROUSSEAU, R310

Oorweeg die dowwe beeld van ’n seuntjie op ’n perd teen die agtergrond van ’n dorre landskap wat die omslagfoto van Die kinders van Spookwerwe is. Dié foto, wat uit fokus is, onderstreep die premis van Lise Albertyn-du Toit se debuut­roman. Op die periferie van die samelewing is mense van wie ons nouliks kennis neem. Wat ons van hulle weet, is jammerlik vaag.

Dit vertel die verhaal van Mieta en Hennerik Kaliempie, wat saam met hul kinders in die Bo-Karoo op die plaas Spookwerwe woon. Armoede het vir hulle ’n lewenswyse geword. Die barre landskap resoneer met hul sukkelbestaan. Dat die Kaliempies hul koppe met selfrespek omhoog hou, is bewonderenswaardig. Inbors is egter nie iets wat met geld gekoop word nie.

As die moeder ontsien Mieta geen moeite om alles in kanne en kruike te hou nie. Geluk is daar altyd te vind, ongeag skaarste of teenspoed. En al slaan die noodlot in so ’n mate toe dat dit dreig om selfs die Kaliempies se spartaanse wêreld in duie te laat stort, is dit die lewe self wat hulle telkens by ’n punt bring waar weer gerieldans kan word.

Albertyn-du Toit se verhaal van die Kaliempies lees nie soos ’n pyl-uit-’n-boog-spanningsroman nie en die momentum bou langsaam op. Ek het wel die gevoel gekry dat die verhaal soms in te veel detail verstrengel raak, wat die leestempo onnodig belemmer.

Dit is ’n verhaal wat sowat vyf jaar omspan toe rasseskeiding stewig in plek was. Ondanks ’n soms omslagtige gevoel, verloor die verhaal nooit sy spoor nie. Die leser se geduld word ryklik beloon en voordat jy jou kom kry, is jy só betrokke by die wel en wee van die karakters dat jy nie die boek kan neersit nie. Die roman se grootste prestasie is dat dit ’n stem en gesig gee aan randfigure, mense wat ons so maklik miskyk.

So halpad deur die storie moet die Kaliempies hul tentpenne uittrek om elders te gaan werk en bly sodat hul skrander seun, Milano, sy skoolloopbaan kan voltooi. Mieta laat meer as haar drievertrekhuisie agter. Maar soos Hennerik dit stel: “Daardie klong vat nou die grootpad. Moenie hom in ’n klein kampie ingekeer hou nie.”

Mieta neem ’n groot seer en verlange saam met haar na die Swartland, waar hulle hulself gaan vestig. Intriges en rampe bied egter onwaarskynlike geleenthede om haar bo haar teëspoed te laat uitstyg. Patos en humor lê gemaklik langs mekaar in dié verhaal.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Lize Albertyn-Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.