SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Boeke
’n Sug na die loskom van die lyf

Poësie

Vlug van die gees

Cas Vos

NALEDI, R220

In sy bespreking van “late style”, soos wat Edward Said daarna verwys in On Late Style: Music and Lit­erature Against the Grain (2006), wat ’n paar jaar ná sy dood verskyn het, is dit breedweg die verhouding tussen die lyflike bestaan en die estetiese benadering wat aan die orde kom – spesifiek in die geval van die musici en skrywers gevorderd in hul onderskeie loopbane.

Aan die een kant, sê Said, bring die rypheid van laat styl wasdom en harmonie. Maar dan verwys hy à la Adorno ook na die moontlikheid dat onversoenlikhede, moeisaamhede en onopgeloste teenstrydighede deel van die prentjie word.

In sy 11de bundel, Vlug van die gees, gee die 74-jarige Cas Vos in die konteks van laat styl nie net uitdrukking aan die verhouding tussen die mens se verganklike bestaan en die sin maak daarvan in verse nie, maar ook op ’n manier wat getuig van harmoniese bedrewenheid én van verse wat ontwrigtend lyk en gestroop voorkom van poëtiese eienskappe.

In die vloeiende vertalings van 11 sonnette en ’n ballade van Dante is Vos aan die woord as die knap ver­taler wat hy is. Dié vertalings doen hy nie direk en op die woord af nie, maar kom eerder met soepel omskrywings waarin sy eie liriese hand seëvier. Kompleet met Dante se patrone in omarmende rym (vergelyk ook die treffende gedig “Dante Alighieri”).

Selfs wanneer dit kom by die somberder kant van die lewe, hou hy dié styl vol in ’n tersine soos “Hier op aarde” en ’n sonnet soos “Motorneuronsiekte”, ten opsigte van rym en metrum.

Maar dan is daar ook “Die groot K”, ’n gedig in die afdeling “Onder die nag se vlerke”, wat wegbreek van die liriese eienskap van die eerste twee reëls waarmee dit begin en ’n koue vertelling word van ’n besoek aan die internis, gestroop en direk en “sonder versagting”, gewoon omdat niks van dié “doodsvonnis” rym nie:

Ek sien op

teen die ontydige besoek

aan die internis.

Met sy sonar

sien hy elke orgaan

onrustig roer, maak

onleesbare aantekeninge

op stomme papier.

Kyk my stip in die oë.

Ek wag stilswyend

op die voorspelling

van wat my toekom.

Die wit K-kol op ’n lob.

Binnekort word

my doodvonnis

sonder versagting voltrek.

Gelowige wat Vos is, vind hy vrede in die vergestalting van die paradys (“In die paradys”) wat hy “met songlinstering” (“Die laaste reis”) verwag. Nietemin word dié gelatenheid afgespeel teen die gebrek aan reg (Vos gebruik die Hebreeuse tsedeq om dié omvattende begrip mee te verwoord; “Apostel Petrus, wag nog”) waarin hy as ’t ware met Johnny Cash se “baklei en moeilikheid”, “krag en mag” en “skandes en skaamtes” simpatiseer.

Ondanks die sekerheid van ’n ewige lewe gaan hierdie lewe mank aan die oerchaos, ’n begrip wat hom in talle gedaantes voordoen, soos in “Die bedreigdes”, die gedig wat verwys na die afbeelding van die Jan Asselijn-skildery op die voorblad van die bundel.

Dié chaos vind ’n mens terug in die afdeling “Armsalige wêreld” waarin armoede, onreg, korrupsie en straks hopeloosheid aan die bod kom.

Van dit alles maak die digter sin deur te skryf en te herskryf. Die af­deling “Twis met God” is anders as wat ’n mens sou vermoed eerder ’n besinning oor en besinging van die band met God – onder meer deur kwistige intertekstuele verwysings na die Ou Testamentiese psalms wat prekies in die kleine word.

Dit is as woordmaker wat Vos van alles – van die fisika tot die klassieke tot die teologie – laat sin maak. “Alleen in my gedigte voel ek my tuis . . .”, sê hy in “Huis van gedigte”. En daarmee saam die wêreld van medewoordmakers soos HS (Hennie Smit), Dante, Breyten Breytenbach en Gerrit Achterberg.

Meer as verbeeldingsvlug is Vlug van die gees ’n sug na die loskom van die lyf.

Johan Myburg is ’n bekroonde digter van Johannesburg.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.