Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n ‘Ton van ’n man’ deel sy herinneringe
Jonathan Ball aan die woord tydens die bekendstelling van Ton Vosloo (sittend) se memoire in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Miskien het ydelheid hom ’n memoire laat skryf, sy ego, die eie ek. Maar daar is ook ’n dieper rede, het Ton Vosloo gisteraand in Kaapstad op die bekendstelling van sy memoire gesê.

Die bekendstelling van Vosloo, wat in 2015 ná ’n luisterryke medialoopbaan van by die 60 jaar uitgetree het as nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, se memoire Oor grense, wat in Engels verskyn as Across Borders, was ’n glansryke geleentheid op Nasdak, die onthaalruimte bo op die Media24-sentrum.

Die geleentheid is bygewoon deur oudkollegas en vriende.

Jonathan Ball, Ton Vosloo en Helen Zille, Wes-Kaapse premier.Foto: Jaco Marais

Vosloo het gesê hy het ’n ongelooflike loopbaan gehad in ’n werk waarvoor hy lief was – joernalistiek en die publikasiewese in al sy gedaantes.

“Ek het gedink ek wil my doen en late met ’n groter gemeenskap deel. Ek wou spesifiek hê die memoire moet ook in Engels verskyn want ek is vas oortuig daarvan dat baie van wat ons as groep (Naspers) gedoen het in sekere dele van die media onderbeklemtoon is (miskien weens professionele jaloesie) en nie werklik aan die Engelssprekende gemeenskap oorgedra is nie,” het hy gesê.

“Maar daar is ’n dieper rede: Van Naspers se stigting in 1915 – 103 jaar gelede – het nie een van die leiers, hetsy voorsitter of uitvoerende hoof, memoires gepubliseer nie.

“Daar is wel boeke geskryf oor byvoorbeeld Willie Hofmeyr en Piet Cillié, maar hulle self het nie hand aan die pen geslaan vir ’n outobiografiese nalatenskap nie.

Christo Wiese, Anet Pienaar-Vosloo, Ton Vosloo, Julia Raphaely, Julia Broadhurst-van Biljon en Anton van Biljon.Foto: Jaco Marais

"Van die redakteurs het wel – ek dink aan Schalk Pienaar se bydrae wat sy dogter Annatjie in sy sterwensdae klaargemaak het; Jane Raphaely het ’n sprankelende outobiografie geskryf en my energieke kollega Hennie van Deventer het as oudredakteur en hoofbestuurder heelwat boeke al die lig laat sien oor sy lewe en loopbaan.”

Hy wou ’n deel van daardie gaping in die leeftyd van Naspers vul, van circa 1956 tot 2015.

“Ek wou ’n greep eietydse geskiedenis te boek stel wat moontlik later vir historici wat ’n studie maak van die middel van die vorige eeu tot nou, ’n paar korrels as boustof gee – die vertellinge of herinneringe van ’n betrokkene in ’n uiters deurslaggewende tydperk in ons land se bestaan.”

Jane Raphaely, vriendin en oudkollega van Ton Vosloo, saam met Tracey Lange, aanbieder van Bravo!, die kameraman Kobus Grobbelaar en die regisseur Werner Hefer, wat die geleentheid verfilm het. Foto: Jaco Marais

Vosloo se uitgewer en jarelange vriend Jonathan Ball het vertel hoe sy klein uitgewersaak jare gelede in moeilike ekonomiese tye deur Vosloo se bemiddeling deel van Naspers geword het en daarna van krag tot krag gegaan het.

Hy het daarop gewys dat Vosloo in sy memoire aandui hoe Naspers en veral sy Afrikaanse koerante bygedra het tot ’n klimaat waarin onderhandelinge kon plaasvind en ’n demokratiese Suid-Afrika in 1994 beslag kon kry.

Vosloo is “ ’n Ton van ’n man”, het Ball gesê.

Esmaré Weideman, uittredende hoof van Media24, en Theuns Botha, ’n vriend van Vosloo wat vroeër aan Landbouweekblad verbonde was. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Naspers  |  Media24  |  Ton Vosloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.