Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fiksie
’n Tuiskoms na vertroude familiegeregte

Debora gaan huis toe

Helene de Kock

HUMAN & ROUSSEAU, R290

Debora gaan huis toe deur Helene de Kock.

Helene de Kock se gevestigde hand in verhoudingsontwikkeling binne wisselende milieus lewer ’n stewige opvolgroman tot Debora en seuns (2015).

Volwasse kleinkinders van dié vorige geslag moet in Debora gaan huis toe sin vind binne ’n bestel waarin hulle, soos hul ouers en grootouers, andersdenkend binne die Suid-Afrika van die sestigs leef. Én dan met lewensingrypende gevolge moet saambeur wanneer hulle dienooreenkomstig optree.

Ons het nogmaals ’n huis wat betekenis vind in familiekuiers in die kombuis, veilige gesprekke om ’n tafel vol identiteitsvormende smake en geure. Meer as vyftig vertroude familiegeregte word beskryf soos slegs huisgenote dit sou onthou met hierteenoor saai buitelandse maaltye slegs om oorlewing.

Tuiskoms in alle fasette word bepeins en gedemonstreer in die versteurde verloop van jong liefde binne komplekse lewensruimtes en -“reëls”. Buiten die romantiese konteks, bied universele vrae oor waar jou huis is en waaraan jy “tuiswees” meet, vir hedendaagse Suid-Afrikaners binne enige verband aktuele gespreksmateriaal.

Dié verhoudingsroman is ’n ge­detailleerde tydsdokument van Suid-Afrika in die sestigs, Brittanje en Europa. Waarneming van plek, situasie en mens figureer sterk, in pas met die karakters as soekendes. Die teks bied ’n jonger geslag lesers insiggewende “toegang” tot hul ouers se gesprekke rondom die destydse Koue Oorlog, aspekte van die lewe binne apartheid (indien jy andersdenkend was) en kodes van die tyd, binne ’n boeiende liefdesverhaal.

Van kodes gepraat. In aansluiting tot Debora en seuns se WOII-agtergrond en die geïmpliseerde geheimhouding binne oorlogsverband, bied Debora gaan huis toe eweneens meelewing in ’n intelligensie-scenario, tipies aan die sestigerjare, gedryf deur die genoemde Koue Oorlog. Dit belig net ’n skadu van die werklikheid van spioenasie, maar genoeg om goeie spanning te bewerk tot die intrige rondom die raaiselagtige omstandig­hede waarbinne Debora se romanse met Tristan, namens haar, tydelik tot halt geroep word.

Koue oorlogvoering, soos die ­tema van 'huis toe gaan', word meervlakkig en behendig in die storielyn geïntegreer, ook interpersoonlik.

Koue oorlogvoering, soos die ­tema van “huis toe gaan”, word meervlakkig en behendig in die storielyn geïntegreer, ook interpersoonlik. Talle vliegkaartjies en vlugtogte tussen moontlike tuistes volg, skanse en voordoenery ter wille van ’n groter saak óf ego word oorkom, en verhoudings­drama en -lojaliteite kom binne die Schlagerfeldt-familie, hul aangetroudes of aanstaandes aan bod.

Kinkels sluit in: ’n volwasse Duitse oorlogsweeskind; oorstappery uit Oos-Europa; meeluisterapparate; veiligheidspolisie; snobisme; buitestanderskap; die Vrystaat-klokreël vir Indiërs; skinderbek­bure en moeilike kraamgevalle ? Dokter Debora kry selfs bloed aan haar hande buite Hippokrates-verband. Uiteindelik gee Ouma Debora haar septer aan haar kleindogter.

Interessante aanknopingspunte én ontknopings lê in die ruimtes waarbinne karakters telkens liefde soek én vind: bisarre gegewens vol adrenalien of pyn, dog getrou aan konkrete lewensituasies. Humor is daar genoeg, soms fynspot.

Kontinuïteit tussen die vorige en dié roman is naatloos. ’n Oningewyde leser kan wel Debora gaan huis toe sonder belemmering volg, aangesien die voorgeskiedenis effektief in die teks ingeweef word.

Historiese gegewens is deeglik nagevors. Herhaling van hebbelikhede soos “swaartillend”, “toeskulp”, “suiselend” en “skigtig” kon besnoei word, of die cliché van “kobaltblou lug”, maar dit raak piepklein klippies op ’n buiten­gewone, spanningsvolle hartspad huis toe.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Tania du Toit is ’n vryskutresensent van Centurion, Gauteng.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.