SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Boeke
’n Tydsdokument vir ou en nuwe Naspersers

In Oor grense is die koerantman, mediaman, die paterfamilias van Naspers, aan die woord. In hierdie bestekopname kyk Ton Vosloo na die landskap en gee die leser ’n blik na binne van hierdie reus van ’n mediamaatskappy.

Oor grense deur Ton Vosloo. Uitgegee deur Jonathan Ball. R275.

Oor grense van Ton Vosloo is ’n memoir. En hierdie soort teks se sinonieme outobiografie, lewensverhaal, herinneringsteks, joernaal, reminissensie verklap sy aard.

Dit is ’n sogenaamde “naked I” met ’n bestekopname van hóé hy sy lewe onthou en die besonderse, openbare figuur geword het.

Uiteraard moet ’n mens dan alles deur hierdie optekenaar se bril beskou. Die waarde van so ’n teks is dat dit ’n stuk geskiedenis weergee.

Dikwels sterf mense en ’n hele stuk institusionele geskiedenis verdwyn saam met hulle soos die museum in Rio de Janeiro wat afbrand.

Artefakte in ’n memoir is daardie oomblikke of oorgange wat mense wat nie oor binnekennis beskik nie inlig oor hoe dinge gebeur het. Hoe het Koos Bekker op die toneel gekom? Hoe het Naspers so ’n magtige maatskappy geword? Wat is (en was) die rol van politieke figure – soos PW Botha en Pik Botha – in hierdie tye? Het Naspers nog ’n siel? Was I.L. de Villiers gewoon stroomop?

Agternakennis is ’n eksakte wetenskap, waarsku Vosloo. ’n Man wat swaar grootgeword het, maar met ’n enorme dryfkrag hom gevestig het tot die magtige figuur wat hy geword het. Hy gee erkenning aan raadgewers – soos onder andere aan Elize Botha en Fran du Plessis – en wys die kanselierspos aan die Universiteit van Stellenbosch van die hand. Hy ken sy beperkinge en hierdie posisie sou hom ontoereikend laat voel het.

Hy fokus veral op kwessies buite hom. Persoonlike sake, soos die geboorte van ’n kind word verswyg, ofskoon hy pynlik-eerlik skryf oor die dood van ’n broer.

Hy vra byvoorbeeld: Was die uitbou van Naspers, met die eerste wig die skepping van M-Net,’n wyse besluit?

Hy antwoord: Ná die algemene verkiesing van 1994 het die rol van die ou, regerende Nasionale Party en die verbintenis tussen die Party en die Pers in Suid-Afrika tot ’n einde gekom.

En hiermee verduidelik hy hoe alles verander het. Naspers is ’n reus inderdaad, maar hy waarsku dat ’n mens nederig moet bly; die ekonomie is immer wispelturig. (Het ons nie gesien wat met Steinhoff gebeur het nie?)

Eerder die josefsbeleid as uitspattigheid, is sy motto.

Verskille tussen Vosloo en Bekker word vertel oor (‘n vroeëre boek deur Lizette Rabe) die geskiedenis van Naspers. Bekker se gevoel was dat dit nie moes verskyn nie. “As hulle oor die maatskappy se verlede moes lees, sou dit die aandag van die ANC-regering op die maatskappy vestig en kon dit sy gereguleerde besighede, soos DStv en digitale uitbreidings, in die gedrang bring.” Dat dit waarskynlik ’n oorreaksie was, is nou duidelik.

Die woeste stryde en politieke gevegte word goed weergegee: So het dit daaraan toe gegaan in dié tye, merk Vosloo ironies op. Daar is Broedertwiste, ’n humeurige PW, dreigemente van sensuur teen grensoorskrydende skrywers, jong joernaliste wat hulle by die WVK uitspreek teen die ou regering en hul base. Maar Ton vergewe en bring almal weer bymekaar.

Van Joyce Waring tot die Inligtingskandaal en Perskor se knoeiery is hier te lese. St. Nelson tot Mandela word ondersoek.

’n Groot storie slaan hard, dit begryp hy. Dit is ’n belangrike tydsdokument.

  • Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK.

Lees ook Johannes Froneman se resensie: Oor grense: 'n Mediareus se langverwagte boek

Meer oor:  Naspers  |  Ton Vosloo  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.