Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Veerligte en vlot verhaal

Fiksie

Die waarde van stil bure

Zelda Bezuidenhout

KWELA, R280

Veerlig en vlot is hoe Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure lees.

Wat onder die loep geneem word, is verlies, waagmoed en verraad. Soos met haar vorige roman, Die dekonstruksie van Retta Blom, is die waarde van familie en vriendskap weer die fokus. Hierdie keer egter met ’n angel wat steek om te verwond.

Magdaleen Verster, ’n grafiese ontwerper en illustreerder van kinderboeke, het so pas ’n huurhuis in Melville betrek. Om afsluiting te vind ná haar suster se dood. Om weer haarself te vind. Om weer haar mojo te herwin. Nie net was Magdaleen en Misha ’n identiese tweeling nie, hulle was baie na aan mekaar – mekaar se horisonne.

Toeval lei daartoe dat Magdaleen kennis maak met haar nuwe, helaas eienaardige, buurman. Waarmee die kluisenaaragtige Darius Achenbach homself besig hou, weet niemand nie. Met byna ondeurdringbare skanse om nuuskierige agies op ’n afstand te hou, is dit moontlik Magdaleen se bemoeienis met sy kat wat Darius noop om met ander oë na haar te kyk. Hul onwaarskynlike vriendskap sneeubal kort voor lank om ’n senutergende resies te word wat tot ’n stamselnavorsingsdeurbraak kan lei. Die projek gee nuwe betekenis aan Magdaleen se lewe. Niemand kan haar suster aan haar teruggee nie. Om vir iemand anders ’n nuwe lewe te bied, kan dalk haar verlies vergoed.

Die afloop van die verhaal het egter ’n kinkel wat die leser tussen die oë tref. Hoe oortuigend dit is, is ’n ander vraag.

Die een persoon wat in haar vreugde deel, is iemand met wie Magdaleen en Misha noue bande gehad het, iemand wat nog altyd soos ’n suster vir die tweeling was. As mediese dokter word Puleng Manthoro deel van ’n klandestiene oefening wat soveel hoop bied as wat dit gevaarlik is. Want as die verkeerde mense snuf in die neus kry, kan almal betrokke by die projek in lewensgevaar wees. Hou in gedagte selfsugtige mededingers, asook farmaseutiese maatskappye met agendas.

Veral twee aspekte van die verhaal verdien lof. Die skrywer het deeglik navorsing gedoen oor stamselbehandeling as mediese kuur. Ook interessant is die dinamika tussen identiese tweelinge – die band tussen Magdaleen en Misha word oortuigend by die verhaal ingewerk. Daarby is die aanslag van die teks lekker eietyds. Verrassende wendings hou die leser aan die raai.

Die afloop van die verhaal het egter ’n kinkel wat die leser tussen die oë tref. Hoe oortuigend dit is, is ’n ander vraag. Die politieke sousie wat op die verloop van die gebeure gegooi word, kom te skielik, te maklik. ’n Verwikkeling wat eerder soos ’n deus ex machina-oomblik voel. ’n Geforseerde draaipunt om die verhaal se koda te verklaar en te regverdig.

Geloofwaardig? Lesers moet self besluit.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.