Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Vergete, vervlietende tyd

A Theatre for Dreamers

Polly Samson

BLOOMSBURY, R315

Van die middel 1950’s tot laat 1960’s was die idilliese Griekse eiland Hydra die kreatiewe speelgrond vir kunstenaars, skrywers en digters soos Law­rence Durrell, Henry Miller, Leonard Cohen en die egpaar Charmian Clift en George Johnston. Polly Samson gebruik hierdie milieu en boeiende tydvak as vertrekpunt vir A Theatre for Dreamers.

Nadat Erica se ma sterf, ontdek sy Peel Me a Lotus, ’n roman deur Clift, tussen haar besittings. Die ontdekking dien as dryfveer vir Erica om haar erfgeld te gebruik vir ’n selfontdekkingsreis na Hydra.

Hoewel Leonard Cohen en Marianne Ihlen, sy muse en onderwerp van die melancholiese “So long Marianne”, se verhouding as leser-lokaas gebruik word, is dit nie waar die roman se swaartepunt lê nie. Nog minder lê dit by Erica. Die middelpunt van A Theatre for Dreamers, asook die eiland se kunstenaarskolonie, is Clift en John­ston, Australiese skrywers. Hoewel die egpaar nouliks self finansieel en emosioneel kop bo water hou, neem hulle iedereen wat voet aan wal sit, onder hul vlerk.

Hydra se sorgelose leefstyl met sy spotgoedkoop kos, drank en sigarette is ’n utopiese fantasie, maar gebrekkige inkomste, oordadige drinkgewoontes en ’n libertynse benadering tot monogamie plaas stremming op reeds wankelende verhoudings, soos dié van Marianne en haar man, Axel Jensen.

Mettertyd sou Johnston se impotensie as gevolg van sy tuberkulose-medikasie, verwyt en jaloesie tot ’n tragiese uitkoms lei.

Ook Clift en Johnston se huwelik verbrokkel weens hul ouderdomsverskil en sy stryd teen tuberkulose. Mettertyd sou Johnston se impotensie as gevolg van sy tuberkulose-medikasie, verwyt en jaloesie tot ’n tragiese uitkoms lei.

Buite die grense van die geïsoleerde Hydra woed die Viëtnamese Oorlog en die res van die wêreld staan op die rand van ’n kernoorlog, terwyl die eiland se boheme in hawe-straatkafees wyn drink en argumenteer.

Polly Samson verbeeld ’n selfonderhoudende dog kunsmatige en verganklike gemeenskap wat eindelik plek moet maak vir ’n nuwe era en generasie.

Ook die opbloei van feminisme word vergestalt in Erica se karakter. Terwyl die meerderheid vroue op Hydra ten koste van hulself hul ambisies opsy skuif om mans te ondersteun, spoor Clift vir Erica aan om die status quo van vroueregte te bevraagteken.

Die uitdaging om voorbehoedmiddels te bekom of banksake te doen sonder toestemming van ’n man bly, ten spyte van veranderende tye, steeds ’n struikelblok en word beklemtoon met verwysings na die uber-feministe Germaine Greer en Simone de Beauvoir se werk.

A Theatre for Dreamers is ’n gesaghebbende interpretasie van ’n vergete en vervlietende tyd in ons onlangse literêre geskiedenis.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.