Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Verhaal ryk aan metafore

Fiksie

Die slaghuis

Cas Wepener

PROTEA, R200

Nostalgie.

Dit is die gevoel wat Willem Pretorius se oliverfskildery van ’n plattelandse toneel uit ’n vergange era as omslagfoto op Cas Wepener se roman Die slaghuis by ’n mens ontlok. Nostalgie egter, is dikwels op verwronge herinneringe geskoei. Wanneer ’n dieperliggende onthou jou konfronteer, vervaag gister se waarhede en verdwyn vaste opvattings soos mis voor die son. Die woord slaghuis verkry dan ook ’n dubbele betekenis met die ontvouing van die verhaal.

Na sy aftrede uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevind oudbrigadier Karel Bergh en sy vrou Marietta hulself op ’n plattelandse dorpie iewers in die Oos-Kaap. Karel sou onder ander omstandighede die diens wou verlaat en elders in die land sy laaste jare wou slyt. Vir Marietta is dit eweneens ’n uitdaging om op ’n klein dorp ver weg van Pretoria waar sy gelukkig was aan te pas. Die klimaat en die tipografie van die Karoo vergelyk immers sleg met die stad op die hoëveld.

Dit is by die slaghuis op die dorp waar Marietta as smulpaap haar verlange besweer as sy vleis koop vir haar kulinêre inspirasies. Die skadu egter wat die Waarheids- en Versoeningskommissie oor hulle nuwe lewe hier op ’n godverlate dorp gooi, word al hoe groter en killer. Hoe lui die gesegde? Die toekoms is seker, dit is die verlede wat so onvoorspelbaar is.

Alhoewel Die slaghuis vlot met ’n gemaklike verteltrant lees, is dit ’n verhaal wat ryk is aan metafore en beelde.

Jukstaposisioneel word die verhaal van Kylie vertel. Haar stryd as enkelouer, ’n gebroke ouer-kind-verhouding en die vreugde wat sy ervaar om met tannie M oor lekker kos en resepte te praat.

Alhoewel Die slaghuis vlot met ’n gemaklike verteltrant lees, is dit ’n verhaal wat ryk is aan metafore en beelde waaraan die ernstige leser van letterkunde veel plesier sal hê. Van daardie eerste oomblikke af as Marietta die slaghuis op die dorp betree, betrek die storie al die sintuie – reuke, klank, sig en om te kan proe en voel. Haar verlange na iets met vel – ’n hartstogtelike versugting na lyflike koestering.

Kos en hoe ons daarmee omgaan, is ’n belangrike sleutel wat die ontvouing van die verhaal rig. Daarom hierdie aanhaling van Mathinus Versveld voor in die boek: “Nothing is more indicative of what you are than your food and table customs.” Een van die aandoenlikste tonele in die verhaal is wanneer tannie M haar resepteboek vir ’n volgende generasie aangee – om nooit op te hou droom en hoop nie.

Nie as hiperbool nie maar met ’n mineurtoon, handel Cas Wepener se verhaal uiteindelik oor die sonderlinge vriendskap tussen twee vroue en die mans in hul lewens wat moet kies tussen die waarheid en of hulle gyselaars van die verlede wil wees.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Cas Wepener  |  Resensies  |  Die Slaghuis  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.