Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Vernuftige eksperiment

Fiksie

Die dame met die hondjie

William Oosthuizen

NALEDI, R220

Dit is ’n boekie wat jy dalk net een kyk sal gee.

Met sy net minder as 200 bladsye en ’n naïef oulike voorplat, loop die voornemende leser die gevaar om nie William Oosthuizen se eerste roman in die hand te neem nie. Dit sal ’n fout wees.

Net wat die konsep betref, is Oosthuizen se Die dame met die hondjie ’n vernuftige eksperiment wat die ernstige leser alreeds behoort te interesseer.

Dié binne-raam-roman – daar is ’n storie in ’n storie in ’n storie (drie raampies dus) – is gegrond op Anton Tsjechof se kortverhaal met dieselfde titel. ’n Stuk klassieke Russiese letterkunde nuut verbeel met ’n veerkragtige Afrikaanse teks.

Waarna soek connoisseurs op ’n internasionale filatelie-uitstalling in Amsterdam? Sophie Ruiz vlieg die hele pad van Kaapstad af daarheen om by haar vriend die akademikus Cornelius van den Hoofen aan te sluit vir die geleentheid, waar eksentrieke seëlversamelaars bymekaarkom.

Net wat die konsep betref, is Oosthuizen se Die dame met die hondjie ’n vernuftige eksperiment wat die ernstige leser alreeds behoort te interesseer.

Beleggingswaarde moontlik. Skaarsheid ongetwyfeld. Soos die besonderse seël wat Sophie soos goud tuis in Suid-Afrika bewaar. ’n Seël wat haar vriend met sy hele hart begeer. Van verkoop wil Sophie niks weet nie. Cornelius se strategie met Sophie behels ’n ompad. Dit behels ’n reis na Jalta. Sophie se belangstelling in Tsjechof is die aas wat hy slim na haar uithou.

Weg van die woelige Moskou is dit in Jalta met sy gunstige klimaat waar Tsjechof veral om gesondheids­redes uitspan. Dit bied hom ook die verlangde afstand wat hy meen nodig is tussen hom en sy geliefde Olga Knipper, oor wie hy nie altyd seker is nie. Maar veral is dit ’n plek waar hy rus vir sy siel vind en waar hy ontvanklik vir sy muses blyk te wees.

Op ’n dag gewaar hy ’n jong dame met ’n hondjie. ’n Ouer man reik uit na haar. Die oerou verhaal van jagter en prooi? Die skrywer in Tsjechof neem besit van hom. Die jong dame word Anna, die ouer man Dmitri. Die dame met die hondjie word een van Tsjechof se klassieke kortverhale. Tydloos is die verhaal van die liefde, of ons idee daaroor, ieder geval.

Oosthuizen se roman kan veral op twee vlakke gelees en geniet word. Op die oppervlak ’n heerlike liefdes­verhaal met ’n ouwêreldse metrum en geladenheid. Maar met ’n angel wat die leser lank sal bybly.

Andersyds is dit ’n roman wat die rol van kuns en die lettere in ons lewe oorweeg. Skrywerskap kom onder die loep. In watter mate skryf ’n verhaal homself? Hoeveel projeksie is daar van die skrywer in sy of haar karakters? In sy geheel ’n heerlike letterkunde-verbeeldingsreis waarin die fatalistiese teenoor die eksistensiële gestel word.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.