Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Viering van glo in jouself

Emmanuel Taban se biografie, ‘The Boy Who Never Gave  Up’, is ’n getuigskrif vir ’n merkwaardige vlugtelingseun wat ondanks afgryslike omstandighede in homself  bly glo het, skryf Trisa Hugo.

The Boy Who Never Gave Up: A Refugee’s Epic Journey to Triumph deur dr. Emmanuel Taban en Andrew Crofts. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R265.

Presies ’n jaar gelede het ek by my ma se sterfbed gestaan en ’n man in die blouerige gloed gewaar wat doodstil vir ons staan en kyk, sy gesig die ene liefde en deernis.

Tóé het die naam “dr. Emmanuel Taban” bloot beteken “my ma se pulmonoloog”. Hy het min gesê, maar wou sien hoe dit met sy pasiënt gaan, al het hy ons toe reeds daarop voorberei dat sy slegs gemaklik gehou moes word totdat sy op haar laaste reis vertrek.

Taban het ’n lang en harde lewensreis gehad voordat hy op dié sagte manier in my lewe verskyn het, lank voordat hy bekend sou word vir sy biografie, The Boy Who Never Gave Up.

Al het hy in uiterste armoede grootgeword en sy honger met termiete en sprinkane gestil, was hy vry en gelukkig in die landelike gebied naby Djoeba in Suid-Soedan. Toe sy ma later as geskeide vrou dorp toe moes trek, het hy kennis gemaak met oordeel, mishandeling en verwerping, maar nou was hy honger na kennis en vaardighede. Ongelukkig is hy juis weens sy kreatiwiteit en inisiatief soms onregverdiglik as moeilikheidmaker gebrandmerk.

Hy besluit om weg te loop op soek na skoolopleiding en ’n beter lewe. Hy pak die tog met ’n brood en bottel water aan, maar besef eers in Eritrea hy het meer as 250 km in die verkeerde rigting geloop.

Dít sou reeds die meeste mense laat handdoek ingooi het, maar sy geloof hou hom staande. Nietemin word hy onderwerp aan ondervragings, gevangenskap en honger en is hy dikwels die slagoffer van roof en diefstal. Geleidelik dring dit tot hom deur dat hy op homself aangewese is, maar hy verloor nooit sy geloof in sy eie vermoëns en die goedheid van mense nie. Langs die pad kry hy geweldig baie hulp en ondersteuning by sendingstasies.

Sy tog suidwaarts eindig 18 maande later in Johannesburg – sonder ekstra klere, besittings of geld. “Dignity was a luxury I could not afford,” skryf hy, en ironies genoeg is dit juis sy waardigheid wat nou uitstaan. “I might not have known what my ulitimate destination would be, but I did know I was on a journey – and that I would never give up hope of reaching a good destination. That thought kept me going and I could manage without food and without showering most days.”

Sy vasberadenheid ondanks talle uitdagings is merkwaardig, maar word sonder emosie aangebied. By Comboni Missionaries in Johannesburg kry hy uiteindelik die geleentheid om verder skool te gaan en te studeer totdat hy kon kwalifiseer as mediese dokter en later as spesialis.

Die medeskrywer, Andrew Crofts, sorg dat sy eie skrywerstem op die agtergrond bly en laat Taban se persoonlikheid deurskemer in ’n feitelike weergawe van die gebeure. Hier en daar word dingetjies herhaal, maar ’n vaardige skrywer soos Croft het dit waarskynlik doelbewus gedoen om die kind wat weggeloop het teenoor die ervare, hoog aangeskrewe pulmonoloog te stel.

Die kringloop van armoede en Afrika se maatskaplike, ekonomiese en politieke uitdagings word bygewerk op ’n manier wat diep insig sonder enige oordeel toon. Hy verval nooit in ’n slagoffermentaliteit nie: “In Africa we are born into hardship; we never learn from it, but rather blame others for our suffering. By doing so we accept the status of permanent victims, with no control over our destiny. We remain forever dependent, despite living on a rich continent.”

Hierdie boek vertel van ’n praktiese uitlewing van die geestelike siening van bewustheid van jou lewenspad en die uitdagings wat daarin opgesluit is. Skrywers soos Johannes de Villiers met sy Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe (2020), waarin hy mense aanmoedig om bewustelik te lewe, beskryf die teorie, maar Taban leef dit uit. Hy is te alle tye bewus van die gevare op sy lewenspad.

Hy glo heelhartig dat hy nie sonder rede in Suid-Soedan gebore is nie en weet dat hy daar ’n verskil kan maak. Sy lewensbeginsels beskryf hy as “passion, determination and consistency”. Hierdie boek is ’n getuigskrif van ’n man wat ondanks afgryslike omstandighede en gebeure in homself bly glo het en steeds volhou om sy lewenstaak hartstogtelik aan te pak.

* Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.

Meer oor:  Emmanuel Taban  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.