Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Virus dryf dié profetiese jagtog na seun

Lauren Beukes se jongste roman, ‘Afterland’, handel oor  ’n vreemde wêreldwye virus wat die manspesie aanval en byna uitwis. Al sou die skrywer weliswaar nie die huidige toedrag van sake kon voorspel nie, verdien sy elke vorm  van applous vir haar skryfwerk en kreatiewe versiendheid, meen Juliana Coetzer.

Lauren Beukes. Sy skryf uit oorvloed. Foto: Tabitha Guy

Afterland deur Lauren Beukes. Uitgewer: Penguin. Prys: R250.

Die skrywer Ingrid Winterbach het op ’n keer gesê ’n mens kry skrywers wat uit die oorvloed skryf en dié wat uit die woestyn, uit die skaarste, skryf.

Eersgenoemde se woorde vloei vrylik en idees word uit ’n skynbaar onuitputlike bron gefabriseer. Die tafel spog met drie vleisgeregte en die fees word afgesluit met ’n verskeidenheid sjokolade. Die wyn vloei in oormaat en mense gesels oor en weer. Daar is baie te sê.

Vir skrywers wat uit die woestyn, uit die skaarste, skryf, is elke idee en woord ’n kraamproses. Hulle snipper deurentyd aan hul produk. Die gestoomde vis en geblansjeerde groente word agterna met ’n klein, swart koffie afgesluk.

Die stiltes aan tafel is langer. Less is more.

Lauren Beukes skryf uit die oorvloed. Sy is ’n “ryk” skrywer: ryk aan verbeelding, uitdrukking en skouspel. Haar trefferboek The Shining Girls (2013) is in ’n allemintige 26 tale vertaal en vir Zoo City (2010) het sy die Arthur C. Clarke-prys ontvang.

Hoe volg jy dit op? Só maak mens: Jy skryf vyf jaar lank aan ’n verhaal oor ’n vreemde, wêreldwye pes wat die manspesie aanval en byna uitroei, noem dit Afterland en publiseer dit in ’n tyd waarin die mensdom deur ’n koronavirus geteister word. Nét daar het jy die leser as deelnemer ingetrek en kan hy nie bloot ’n toeskouer bly nie.

“Relevansie” staan oor die boek geskryf. Toevallig, ja, want niemand sou die huidige toedrag van sake kon voorspel nie, maar eerlikwaar, Beukes verdien elke vorm van applous vir haar skryfwerk en kreatiewe versiendheid.

Beukes neem die leser op ’n dolle jaagtog deur Amerika.

Staan stil en neem waar: Hier is ’n meester aan die werk. (En glo gerus maar vir George R.R. Martin, wie se heuningveeg op die voorblad pryk: “Lauren Beukes is a major, major talent.”)

Dit is die jaar 2023. Die nagevolge van die virus het die wêreld in chaos gedompel. Dit is twee jaar nadat ’n Johannesburgse gesin – Devon, sy vrou, Cole, en hul seun, Miles – ’n familiesaamtrek in Amerika bygewoon het. Wat ’n kort besoek sou wees, verander in ’n kontrakwerk in Amerika vir drie maande wat verander in ’n stryd om oorlewing nadat Devon deur die virus besmet word en sterf.

Miles is een van die minder as 1% van die bevolking wat immuun is teen die effek van die virus en word soos kroonwild gejag. Sperm is die nuwe goud. Die wêreld word hoofsaaklik deur vroue bewoon en voortplanting is ’n probleem.

Daar is nie tyd vir treur oor die verlies van haar man of ’n bekende lewe nie.

Cole vermom haar 12-jarige seun in pienk meisiesklere en vlug met hom deur die weste van Amerika om ’n manier te vind om terug te keer na Suid-Afrika. Haar kind se veiligheid is haar enigste prioriteit.

Vir baie mense is Miles die antwoord op hul behoeftes en gebede, maar veral vir Cole se suster, Billie, wat in ’n groep beland wat in seuns handel dryf. Sy het net een doel voor oë en dit is om haar suster se seun aan die hoogste bieër te verkoop. Dan is daar ook die “departement van mans”, wat hom onbepaald in kwarantyn wil plaas.

As jy dink ’n wêreld waarin vroue die alfa is, is sugar and spice and all things nice, dink weer. Binne die ruimte wat deur mans se afwesigheid gelaat is, tree elkeen vir haarself op met dieselfde energie van ’n mishandelende man. “But girls have more to prove. You have to hit harder, meaner, crueler if you want to step into the Big Mens’ shoes,” sê ’n karakter op bl. 240.

Geslagspolitiek is aan die orde van die dag in dié samelewing waar vroue die septer swaai – ook in die rol van kroegeienaars, polisiebeamptes, sekuriteitswagte, taxibestuurders en navorsers in wie se hande dit rus om die menslike ras te laat voortleef.

Spanning is daar in oormaat, maar die verhaal sorg ook vir heelwat komiese oomblikke. In ’n poging om weg te kom van die spermjagters klim Cole en Miles, wat nou as “Mila” aangespreek word, op ’n bus saam met ’n groep reisende nonne van die Church of All Sorrows. Op ’n plakkaat verkondig hulle God laat al die mans sterf om vir vroue ’n les oor sonde en ydelheid te leer. Die enigste manier om weer in Sy guns te kom, is om vergifnis vir sonde deur gebed af te pleit. Oor en oor.

Cole, wie se naam na “Sister Patience” verander is, dink selfs ’n paar sondes uit om al biddende deur die groep aanvaar te word en sodoende hul beskerming te geniet.

Wanneer een van die nonne voor Miles verklee, sukkel hy om die reaksie in toom te hou wat sy ontwikkelende tienerlyf op die naakte vrouefiguur het.

Hier is my enigste punt van kritiek: Dié deel saam met die nonne word te lank uitgerek.

Daar is byna profetiese oomblikke in die verhaal wat netsowel berigte in ons nuus kon wees oor die Covid-19-situasie: die aanvanklike tekort aan handreiniger; die beklemtoning van hande was; die uitsien na ’n wonderkuur; en, om alles te kroon, dui die nuutste syfers dat mans erger as vroue deur die virus geraak word.

Elke hoofstuk in die roman word deur die oë van een van drie karakters waargeneem: Cole, Miles en Billie. Elkeen het ’n unieke gedagtegang en geloofwaardige stem. Billie het ’n sterk gangster-element in haar persoonlikheid, terwyl Cole die verantwoordelike een is.

Die skrywer wys die tonele of dit voor jou oë afspeel en gebruik heelwat dialoog. Die verhaal vloei snel en die spanning raak by tye onhoudbaar.

Beukes se navorsing is uitsonderlik, onder meer oor die mediese aspekte van die virus, asook kopbeserings (wat Billie in haar wedervaringe opdoen).

Afterland is die ekstrovert-suster van Cormac McCarthy se The Road. Dit word bemark as ’n “futuristiese riller” en as die definisie van ’n riller is “ ’n roman gelaai met konflik, spanning en onverwagse ontknopings wat die karakters uitdaag en ontbloot”, glo ek Beukes het in haar doel geslaag. Sy neem die leser op ’n dolle jaagtog deur ’n radikaal veranderde Amerika en dit voel kompleet of jy in die voorste wa van ’n Big Dipper sit.

“You can’t imagine how much the world can change in six months. You just can’t,” stel ’n karakter dit op bl. 35.

Inderdaad.

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  Lauren Beukes  |  Afterland  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.