Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Vloed Engelse fiksie uit Afrika

'n Vloedgolf Engelse fiksie van ons vasteland, ook heelparty debuut-werke, het die afgelope maand of drie byna die boekeredakteur se lessenaar laat meegee.

Foto:
  • Die dramaturg en romansier Craig Higginson is die enigste skrywer tot nog toe wat die UJ-prys vir Engelse fiksie met twee opeenvolgende romans kon wen. Sy nuutste een, The White Room, bokspring tussen ’n hedendaagse Londen en Parys aan die vooraand van die oorlog in Irak. Volgens die flapteks “lê dit talle van ons aannames oor taal, identiteit, herinneringe en die liefde bloot”. Uitgewer: Picador Africa. Prys: R265.
  • Mark Winkler vertel in sy vierde roman, Theo & Flora, die verhaal van die skrywer Charlie Wasserman, wat ná sy egskeiding ’n boks vol briewe tussen sy eksvrou se besittings ontdek. Dié briewe is tussen 1940 en 1944 deur sy eksvrou se oupa, ’n prokureur van iets in sy 40’s, geskryf aan Flora, ’n veel jonger joernalis. Prominente kunstenaars van die era, soos Irma Stern, Jean Welz en Gregoire Boonzaier, maak kameeverskynings. Uitgewer: Umuzi. Prys: R250.
    • Al slaan die veelbekroonde Imraan Coovadia met sy nuwe roman, A Spy in Time, ’n nuwe rigting in, is dié Afrika-tydsreisverhaal net so vindingryk en maatskaplik-polities uitgeslape soos sy vorige boeke. Johannesburg is die enigste stad wat die verwoestende impak van ’n supernova oorleef het, en hier reis Enver Eleven, ’n spioen van die Historical Agency, tussen die verlede en die hede – van Johannesburg tot Marrakesj tot Rio de Janeiro. Uitgewer: Umuzi. Prys: R250.
      • In haar debuutroman, Plus One, fokus die voormalige Cosmopolitan-redakteur Vanessa Raphaely op die doen en late van die adjunkredakteur van Fille, ’n fiktiewe glansblad in Londen, ’n stad waar Raphaely ook vroeër gewerk het. Op die spyskaart is private stralers, TV-kameras, Hollywood-rolprentvervaardigers, miljardêrsjagte – kortom: ’n stewige dosis van bo blink en onder stink. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R265.
        • In Vincent Pienaar se Too Many Tsunamis het die hoofkarakter, Bert, ’n briljante selfmoordbrief geskryf, maar hy is bang sy ma, by wie hy (op 34) steeds woon, verstaan dit nie. Daarom begin Bert skryf aan ’n reeks voetnote, wat gou in ’n verswelgende golf ontaard. En net om die pap ekstra dik aan te maak, stap die bliksemstraal Lelani Balt ook by die voordeur in . . . Uitgewer: Penguin. Prys: R260.
          • Fish Pescado en Vicki Kahn, twee van die krimimeester Mike Nicol se bekende karakters, keer terug in sy nuutste roman, Sleeper, wat afskop met die moord op die minister van energie en uitkring tot selfdood, samesweringsteorieë en ontvoerings – selfs Isis en die CIA is betrokke. Nicol se romans verskyn al geruime tyd in die VSA en Brittanje en is al in Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits vertaal. Uitgewer: Umuzi. Prys: R250.
            • The Enumerations, die tweede roman deur die Vishoekse skrywer Máire Fisher, word beskryf as ’n roerende, sensitiewe familiedrama met allerlei intriges wat in wese wentel om Noah Groome, ’n 17-jarige vasgevang in sy “persoonlike tronk” met die naam obsessief-kompulsiewe steurnis. Uitgewer: Umuzi. Prys: R280.
              • Kritici is vol lof vir die Zimbabwiër Siphiwe Gloria Ndlovu se skitterende magies realistiese debuutroman, The Theory of Flight. Voor in die koor onvergeetlike karakters en surrealistiese oomblikke is die hoofkarakter, Genie, wat glo uit ’n goue eier gebore is en, nes haar tuisland ná ’n uitgerekte burgeroorlog, herontwaak om die toekoms in te vlieg. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.
                • In Qarnita Loxton se tweede roman, Being Lily, staan dr. Lily De Angelo op trou met Owen Fischer, ’n seun van die Kaapse Vlakte, wat volgens haar snobistiese ouers nie goed genoeg vir hul dogter is nie. Boonop daag Owen se eks, Courtney, skielik op met ’n 15-jarige dogter, Chiara – en Owen is moontlik die pa . . . Uitgewer: Kwela. Prys: R265.
                • Ras, geslag en verhoudings vorm die kern van Kharnita Mohamed se debuutroman, Called to Song, waarin die verhaal vertel word van Qabila en haar ongelukkige huwelik met Rashid. Sake word op die spits gedryf wanneer Qabila se ma sterf en sy weer die bande met haar familie en haar Moslemgeloof hervat. Uitgewer: Kwela. Prys: R295.
                • The List, Barry Gilder se debuutroman, volg ’n groep MK-veterane deur die struggle- en ballingskapjare tot in die demokratiese era en die vorming van ’n taakspan wat die bewerings moet ondersoek dat apartheidsagente die ANC op hoogste vlak geïnfiltreer het en moontlik ’n remskoen kan wees vir die radikale veranderinge wat beplan word. Uitgewer: Jacana. Prys: R250.
                • Mohale Mashigo het in 2016 die UJ-prys vir Engelse debuutwerk gewen met haar topverkoperroman The Yearning. Nou is sy terug met ’n versameling kortverhale, Intruders: Short Stories, waarin onmerkwaardige mense in merkwaardige omstandighede totaal buite hul beheer beland – van ’n vrou wat ’n man met ’n skoen vermoor by ’n taxistaanplek tot ’n genoomkundige wat ’n vaderlose kind skep. Uitgewer: Picador Africa. Prys: R180.
                • Met die bedrieglik eenvoudige kortverhale in The Lion’s Binding Oath and Other Stories neem die Somaliese skrywer Ahmed Ismail Yusuf lesers na die hart van die Somaliese kastestelsel en die stryd om menslikheid, geloof, identiteit en vriendskap in dié land wat lank deur ’n burgeroorlog verlam is. Uitgewer: Catalyst Press, versprei deur Lapa. Prys: R220.
                MyStem: Het jy meer op die hart?

                Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

                Ons kommentaarbeleid

                Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

                Stemme

                Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.