Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘ ’n Voorie kán president word’

Die Voortrekkers hou koers! is ’n lywige boek oor die 90 jaar van dié Afrikaanse kultuurorganisasie vir kinders wat pas die lig gesien het. Charles Smith het met dr. Danie Langner, hoofleier en die skrywer, oor die boek en Afrikaners se toekoms gesels. Hy sê daar is baie geleenthede vir Afrikaners, ook in Afrika.

Op die voorblad van Die Voortrekkers hou koers! is ’n helder kleurfoto van kinders wat laggend bloedrooi waatlemoenskywe verorber. Dis ’n prentjie van vreugde, sports en pure uitbundigheid.

Dit is skerp in teenstelling met die beelde van Suid-Afrikaners wat hul eie besighede en dorpe aanval, brande stig en alles verwoes.

Die voorblad van 'Die Voortrekkers hou koers!' deur dr. Danie Langner.

Die Voortrekkers, sou baie mense dink, sou ná 1994 ’n stille dood sterf.

Maar Langner skets in die boek ’n beeld van ’n dinamiese, veerkragtige kultuurorganisasie wat nie net sterk groei toon nie, maar orals projekte aanpak om die land ’n beter plek te maak.

’n Groot taak

Hoe het dit gebeur dat hy só ’n lywige werk oor Die Voortrekkers aangepak het?

“Die vlak 5-grendeltyd in 2020 was die onverwagte, maar ideale geleentheid om Die Voortrekkers se storie te skryf. ’n Mens kan net soveel in die tuin doen,” vertel hy in die onderhoud wat per e-pos gevoer is.

Die Voortrekkers is op 30 September 1931 gestig en die eerste Hoofbestuursvergadering was reeds op 1 Oktober 1931.

“Ek het die tyd benut om die hoofbestuur en kongres-notules vanaf die eerste vergadering tot die laaste te lees. Vanuit ’n sekere oogpunt is dit onmoontlik om Die Voortrekkers se verhaal te skryf. Die Voortrekkers is immers ’n beweging van en deur mense.”

Ons Voortrekker-werk en werkswyse is in die kol. Ons het vryheid om kinders 21ste-eeuse vaardighede binne ’n informele omgewing te leer.

“Sonder die dienswerk van ontelbare volwassenes en jeuglede is Die Voortrekkers niks. Die Voortrekker-storie is ’n dinamiese interaksie in spanne, kommando’s en kampe. Daar word bykans weekliks aan die Voortrekker-storie geskryf deur lede se planne, projekte en dienswerk, maar terselfdertyd is daar ’n belangrike en noodsaaklike Voortrekkerstorie om te vertel.

“Selfs al is dit in breë trekke. Die groter verhaal van Afrikaners se kulturele ontwikkeling kan nie vertel word sonder om ook deeglik van die Voortrekker-storie kennis te neem nie.”

Voortrekkers staan sterk

Langner sê Die Voortrekkers staan vandag sterk in Suid-Afrika én Namibië. Daar is verskeie redes hiervoor. Afrikaners het ’n aanpasbare, lewenskragtige en dinamiese kultuur wat oor dekades in verskillende kontekste aangepas en ontwikkel het.

Die Voortrekkers het reeds voor 1994 die waagmoed gehad om onder leiding van die destydse hoofleier, ds. Johan van der Walt, aan te pas by ’n veranderende Suid-Afrika, sonder verlies van identiteit.

Stokbrood, koffie, pap en wors. 'n Foto van Penkoppe en Drawwertjies op 'n Voortrekker-kamp in 1972.

Die Voortrekkers stagneer nie, maar met die inhoud van ons Voortrekker-werk, aktiwiteite en kampe steeds relevant vir jeuglede gebly.

“Ons Voortrekker-werk en werkswyse is in die kol. Ons het vryheid om kinders 21ste-eeuse vaardighede binne ’n informele omgewing te leer.”

Die sterk gesinsfokus bied ’n geleentheid vir pa, ma, oupa en ouma om te midde van dagboeke en werksdruk steeds saam met hul kinders en kleinkinders kultuur en avontuur in die natuur te geniet.

Met 'n kakebeenwa oor die Drakensberge. Voortrekkers het in 1968 op hul voorvaders se voetspore gevolg en met 'n wa oor die Drakensberge getrek.Twintig uitgesoekte Verkenners het die tog aangepak. Die wa is spesiaal hiervoor gebou. Die Voories het as deel van sy 85ste verjaardag weer só ’n tog oor die Drakensberge aangepak. Hier trek die lede self die wa.

Gemeenskapsbetrokkenheid maak Die Voortrekkers ook sigbaar en relevant vir hul omgewing, sê hy.

Veelsydig, modern

Langner sê Die Voortrekkers was oor nege dekades by verskeie feeste betrokke, soos die hoeksteenlegging en inwyding van die Voortrekkermonument, Bloedrivier, die Taalmonument en verskeie ander bakens.

“As jeuglid van die tagtigerjare was die hoogtepunt egter vir my spanbyeenkomste, Voortrekker-kampe en avonture soos vlotvaarte, nagmarse en saamkuier om die kampvuur. Ek dink dit is vandag nog so.

“Een van die hoogtepunte is sonder twyfel die baanbrekerswerk wat Die Voortrekkers tans onder leiding van Karin Stoffberg met tegnologie, aanlyn kentekens en aanlyn toerustingskursusse vir lede doen. Dit plaas Die Voortrekkers op die voorpunt van jeugorganisasies, nasionaal en internasionaal.

Genl. J.B.M. Hertzog, eerste minister, wens die Penkoppe geluk met hul inlywing op 30 September 1931 in Bloemfontein.

“Ek weet van geen ander jeug- en kultuurorganisasie wat so ’n omvattende tegnologiese aanbod vir sy lede ontwikkel het nie. Daarby het die Voortrekkers in 2017 die Voriemôl, ons eie Afrikaanse kultuurwinkel, met ’n aanlyn winkel geskep. Voortrekkerkursusse soos avontuur-fasilitering en spyseniering is geakkrediteer en in Afrikaans beskikbaar. In vandag se konteks is dit ’n nuwe taalmonument.”

Toekomsblik

Hoe kyk julle as ’n Afrikaanse kultuurorganisasie na die toekoms?

“Positief en met hoop. As Christene, maar ook as Afrikaners. Die jeug is toekomsgerig,” sê hy.

Hoekom moet Afrikaanse kinders ’n sterk ingesteldheid rondom kultuur hê?

“Voortrekkers bied ’n geleentheid vir die Afrikanerkind om te behoort. By die Voortrekkers leer kinders Christelike waardes, van Afrikanergeskiedenis, helde en tradisies, maar word terselfdertyd toegerus met 21ste-eeuse vaardighede,” sê Langner.

“Suid-Afrika en Namibië is lande met ’n rykdom van uiteenlopende kulture. Deur ’n liefde en respek vir jou eie kultuur te ontwikkel, kweek jy terselfdertyd ’n respek, waardering en verdraagsaamheid vir alle kulture. Ek sou graag om dié rede wou sien dat nie net die Afrikaanse kind nie, maar alle Suid-Afrikaners en Namibiërs ’n sterk kultuur-ingesteldheid ontwikkel. Respek vir kulture en tale skep sosiale kohesie, waaraan ons in Suid-Afrika tans mank gaan.”

Afrikaanse kinders

Hoe gaan dit volgens hom met die Afrikaanse kind in ’n land waar die politieke winde nogal sterk teen hulle waai?

Dr. Danie Langner, hoofleier en skrywer van die boek 'Die Voortrekkers hou koers!', by 'n renosterkalfie. Die organisasie het 'n projek om veldwagters in die Krugerwildtuin te ondersteun wat renosters beskerm.
Positief en met hoop. As Christene, maar ook as Afrikaners. Die jeug is toekomsgerig.

Langner sê regstellende aksie, rasse-transformasie en toegang tot studiebeurse bied vir seker baie uitdagings, maar politiek het Afrikaners nog nooit ondergekry nie.

Ons is van Afrika, is die titel van een hoofstuk. “Afrikaners het hulself na Afrika genoem en Afrikaans is ’n taal van die kontinent. Afrikaners het ook in Afrika ’n roeping om as diensbare leiers in die kontinent ’n verskil te maak,” skryf hy.

“Daar was ook nog nooit soveel ekonomiese geleenthede vir Afrikaners nie, net nie in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika. My ervaring is Voortrekker-jeuglede kyk realisties en nugter na die toekoms. Waar nodig, neem hulle duidelik en met selfvertroue standpunt in. Hulle besef die staat gaan nie vir hulle sorg nie en ontwikkel van jongs af entrepreneuriese vaardighede om self brood op hulle tafel te sit.”

Wat is die kernbeginsels wat julle Afrikaanse kinders leer – en hoe en waar pas hulle dit toe?

'n Langnek en 'n Afrika-ikoon by kinders van Afrika. Die foto van Voortrekkers by 'n kameelperd is in die boek oor die organisasie opgeneem. Dr. Danie Langner, hoofleier, sê Voortrekkers is gerat om orals in Afrika as leiers 'n rol te speel. Dít was deel van die Kalahari Vasbyt.

“Diensbaarheid. Vanjaar het Die Voortrekkers in twee maande meer as R140 000 vir Kansa ingesamel, en meer as 100 kinders het hul poniesterte as deel van Shavaton as pruike vir kankerlyers afgesny. Dankie-pakkies ter waarde van R160 000 is die afgelope drie jaar aan Care for Wild en veldwagters wat in Krugerwildtuin renosters oppas, versamel en versprei.

“In April is ’n geloofsmonument ter viering van die nuwe Afrikaanse Bybel in die Boland opgerig. Honderde Voortrekkerspanne is feitlik elke naweek besig om erfenisterreine en hulle omgewing te versorg.”

’n Moeilike vraag: Sien hy dat ’n Afrikaanse kind wat ook lid van Die Voortrekkers is en was en trots is op sy taal en kultuur eendag president van die land kan wees?

“Definitief, maar ek dink ons jeuglede se ambisie is groter as om president te word. Voortrekkers en oud-Voortrekkers staan vandag bykans op alle lewensterreine, nasionaal en internasionaal, hulle plek vol en maak ’n opbouende verskil.”

Meer oor:  Voortrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.