Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Wekroep oor wapens

Al is die onderwerp van Mark Shaw se ‘Give Us More Guns’ inherent belangrik en die skrywer se mededelings skrikwekkend en terneerdrukkend, raak dit nooit swaarwigtig of prekerig nie, skryf Johann Kriegler.

Give Us More Guns: How South Africa’s Gangs Were Armed deur Mark Shaw. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R290.

Dis ’n grondreël van die staatkunde dat die staat, enersyds, verplig is om sy bevolking te beskerm en daarom, andersyds, die alleenreg op geweld het. Hoewel Suid-Afrika jammerlik aan weerskante van hierdie wipplank misluk, fokus die baaskriminoloog Mark Shaw in sy jongste publikasie, Give Us More Guns, op die keersy, die monopolie op geweld.

Die onderwerp is vir ons almal tegelyk belangrik en ondeurdringbaar duister, maar gelukkig maak Shaw sy vakkennis toeganklik. Hoewel hy voor sy aanstelling as direkteur van die wêreldwye Global Initiative Against Transnational Organized Crime lank ’n gerekende akademikus aan die Universiteit van Kaapstad was, ken hy die kuns om vir die algemene leserspubliek sy vertelling boeiend te maak en sy analise verstaanbaar te hou.

Die bladwyser, eindnotas, indeks en drie afsonderlike ekskursies oor spesifieke onderwerpe dra by tot die bruikbaarheid van die boek as kennisbron. Maar, bygesê, soms is die magdom statistieke oorweldigend en heelwat meer grafiese voorstellings sou welkom gewees het. Soms verg dit iets soos ’n witbord waar verdagtes, plekke, dade en verbintenisse grafies uitgestal kan word à la TV-krimi’s.

Dis moeilik om die trefwydte en diepte van Shaw se navorsing en die gevolgtrekkings wat hy maak, behoorlik te beskryf sonder om ’n pretbederwer te wees. Die boek lees plek-plek byna soos ’n speurverhaal. Die man verstaan die terrein en siteer honderde onderhoude en gesprekke met sleutelfigure oor die spektrum heen, van polisiegeneraals tot huurmoordenaars. Nie alleen demonstreer hy met vers en kapittel die SAPD se absolute onvermoë om misdadige vuurwapenbesit hok te slaan nie, maar – asof dit nie onrusbarend genoeg is nie – onderstreep hy dat die polisie deel van die probleem is, indien nie volwaardig self die probleem nie.

Die wrange ironie is dat die hoofbron van hierdie moordtuie die polisiediens self is.

Die hooftema is die vloedgolf vuurwapens – rewolwers en pistole, haelgewere, semi-outomatiese en outomatiese gewere, hardebaard-aanvalswapens, AK47’s, R1’s, R4’s en R5’s, noem maar op – wat veral sedert die middel 2000’s die onderwêreld instroom en die geweldsvlak hemelhoog stoot. Die wrange ironie is dat die hoofbron van hierdie moordtuie die polisiediens self is. Op operasionele vlak neem individuele polisielede aktief deel aan sluikhandel; selfs ’n aantal polisiekantore, metro’s en provinsiale wapenstore is bekende lekplekke, soms eerder sluise.

Oorkoepelend op bestuursvlak is daar ’n hopeloos wanfunksionele beheerstelsel wat nie gebore in staat is om die stroom te meet nie, vergeet nog om dit te stuit. Al sou hulle wou (wat te betwyfel is), sou die SAPD nie werklik kon verslag doen van die vuurwapens in sy besit nie. Die sentrale vuurwapenregister se IT-afdeling is ’n klug, sy “voorraadopnames” struggle-boekhouding.

Tekenend van dié funksionele en morele verval, loshande die verfoeilikste van hierdie korrupte spul, is ene kol. Prinsloo, eertyds die polisie se voorste vuurwapenghoeroe, die man in bevel van die SAPD se magasyn waar al die derduisende vernietiging-bestemde vuurwapens opgeberg is – die tienduisende wapens wat wetsgehoorsame wapeneienaars tydens amnesties prysgegee het, die uitgediende dienswapens, die gekonfiskeerde wapens, die verbeurde bewysstukke . . . Shaw reken Prinsloo het sedert 2005 tot sy inhegtenisname in 2015 ruim 9 000 vuurwapens in die onderwêreld verkwansel, meesal die Z88-pistool, ons land se eie trotse fabrikaat en onder rampokkers geliefd en bekend as die Zulu.

Die funeste gevolg was dat die verhoudings tussen bendes en die hele bendekultuur op die Kaapse Vlakte op sy kop gekeer is. Waar vuurwapens voorheen rare kleinode was wat deur bendeleiers jaloers bewaar en hoog ­suinig vir spesifieke handelinge aan ondergeskiktes toevertrou is, raak hulle nou aansienlik meer bekostig- en bekombaar, feitlik allemansgoed.

Die skrywer slaag daarin om sy lesers so in die vertel ’n skrikwekkende glimp te gee van die duistere misdaadwêreld waar die bendes, die 26’s en 28’s, die Americans, Hard Livings, Sexy Boys, die Mongrels en dergelike, sowat 100 000 jong mense, in en om ons wêreldberoemde Moederstad hul uitsiglose bestaan voer in sinlose geweld en rampokkery.

Vir hulle het Prinsloo se vuige handelsware nuwe horisonne van moord en doodslag bereikbaar gemaak. Kaapstad is lank reeds een van die gewelddadigste plekke ter wêreld, vergelykbaar met Somalië, Afganistan, Jemen en Irak. Die moordkoers skiet sedert ongeveer 2010 die hoogte in, en die gelokaliseerde syfers is selfs nog skrikwekkender: byvoorbeeld Delft, Mfuleni en Mitchells Plein se moorde per 100 000 inwoners verdubbel of verdriedubbel van 2010 tot 2018. Dis moontlik net kille statistieke, maar dis moeilik om koud gelaat te bly as jy lees dat van die kinders wat kwansuis deur spervuur getref word, eintlik bendevoetsoldate is.

Shaw maak ook ’n draai by die KwaZulu-Natalse taxibedryf, daardie helleput waar ’n brisante mengsel van vuurwapens, winsbejag en Zoeloe-hubris hoogty vier. Dis vir jou weer ’n ander skaduwêreld, ’n plek waar ystermanne soos die gebroeders Gcaba en Sputla Mpungose die verhoog beset, vriende van Bheki Cele, en owerstes van manne. In tred met die taxibedryf (en -oorloë, as daar ’n verskil is) groei die private veiligheidsbedryf sedert die laat 1990’s, soveel so dat daar na raming vandag 50 tot 60 veiligheidsorganisasies besig is met taxi-“werk” in KZN. Kol. Prinsloo se groothandel en die nederiger gewone polisiekleinhandel het gesorg dat die behoeftes van hierdie wapenmarksektor na behore bedien is. Intussen reik korrupte beamptes by die SAPD se sentrale lisensiekantoor voor die voet lisensies uit.

Onvermydelik het swaar bewapende “veiligheidsinstansies” gaandeweg ge­dien as nuttige dekmantel vir dwangstrategieë, afpersing en, waar gerieflik, huurmoord, sodat hulle inderwaarheid die taxi­base se private leërs word. Bygevolg neem taxiverwante moord en doodslag in KZN toe na gelang die voorraad vuurwapens beskikbaar word, net soos bendeverwante geweld danksy Prinsloo-hulle se inisiatiewe in die Wes-Kaap gedy.

’n Interessante kontras tussen dié twee terreine is egter dat die taximanne van KZN oënskynlik hogerige politieke beskerming geniet; terwyl hul Wes-Kaapse eweknieë hulle verlaat op huurlinge, vennote en beskermhere in die polisie, in diensbare samewerking met slim prokureurs. In albei gevalle wil mens liewer nie vra of daar nie straks êrens ’n regsplegende hand betrokke kan wees nie.

Ofskoon die boek se onderwerp inherent belangrik is, en ofskoon die skrywer se mededelings soms skrikwekkend en sy bevindings terneerdrukkend is, word Give Us More Guns nooit swaarwigtig of prekerig nie. Dis deurgaans onderhoudend en die hewigste kritiek word eerder meewarig as verdoemend aangebied. Nietemin is die boodskap ondubbelsinnig ’n wekroep tot ernstige besinning en dringend daadwerklike optrede.

Soos dit ’n topdeskundige betaam, bly dit vir Shaw nie by polemiek en clichés nie. Hy sluit af met ’n 15-stuks praktiese, haalbare voorstelle wat in sigself genoeg stof tot nadenke en debat lewer om die boek leeswaardig te maak. Dis ook ’n uiters bruikbare handleiding om die jongste nuusberigte oor die inhegtenisneming van bendebaas A, die sluipmoord op lt.kol. B of bloot die verskil tussen die Sexy Boys, die Dixie Boys en die Junky Funky Kids te begryp.

Om saam te vat: vir enigeen wat werklik wil besin oor die vernietigende rol wat misdaad in ons bestaan (en voortbestaan) speel, is hierdie boek verpligte leesstof.

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.