Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat
’n Welverdiende voetstuk vir Walters op 90

Die letterkundige kánon is ’n vreemde ding.

Daniel Hugo

Oor die statuur van sommige skrywers bestaan daar groot eenstemmigheid. Hulle staan stewig op hul voetstukke in die literêre beeldetuin, daar geplaas deur uitgewers, resensente, bloemlesers, voorskryfkomitees, pryskomitees, literatore en literatuurhistorici. Geen kanón kan hulle wegblaas nie; geen engel kan hulle uit die paradys van die geletterdes verjaag nie.

Ander digters staan en rondtrap by die poort en kyk verlangend na die vakante voetstukke onder die weelderige lower van daardie lushof. Maar nooit sal hulle toegang kry nie – daar is te veel hekwagters met vlammende swaarde wat hulle buite hou.

En dan is daar digters soos M.M. Walters wat deur sommige kanoniseerders bekritiseer en selfs geïgnoreer word, maar deur ander weer geloof en gelourier word. Hy staan dus halfpad tussen die hek en sy voetstuk wat vir hom wag. En Walters se poësie is so uniek dat daar werklik niemand anders is wat sy plek kan inneem nie.

Walters was in ’n mate self ook verantwoordelik vir sy onsekere posisie. Hy het nooit deelgeneem aan openbare skrywersdebatte en bekgevegte nie, hy was nooit lid van ’n skrywersorganisasie nie en het ver weggebly van die literêre stromings en teorieë van die oomblik.

As satirikus was dit natuurlik noodsaaklik dat hy ’n buitestander moes bly wat met ’n ontroebel oog kon kyk na die onnoselhede van die samelewing om hom, na die opgeblasenheid van die kerklike en politieke leiers, en na die karpatse van sy skrywende kollegas. Vanaf sy debuut as digter in 1967 was hy ’n vlymskerp waarnemer eerder as ’n luidrugtige deelnemer.

Terug na die miskenning, asook die erkenning wat hom in sy skrywersloopbaan te beurt geval het. Dit het goed begin met die driedubbele bekroning van sy debuutbundel Cabala. Maar dadelik is hy deur die destydse moderator van die NG Kerk, dr. Koot Vorster, in die pers aangeval. Vorster het Walters ’n vyand van die volk genoem, en kon nie verstaan dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met die Eugène Marais-prys bekroon het nie.

Daarna het Walters klaarblyklik op te veel liddorings getrap en het hy nooit weer ’n belangrike prys vir sy gedigte, dramas en essays gewen nie.

Daarna het Walters klaarblyklik op te veel liddorings getrap en het hy nooit weer ’n belangrike prys vir sy gedigte, dramas en essays gewen nie. In die omvattendste Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Perspektief & Profiel (onder redaksie van H.P. van Coller), word Walters nie ’n eie profiel waardig geag nie. Vroeër reeds het J.C. Kannemeyer in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II (1983) Walters se skryfwerk kwaai onderskat.

Aan die ander kant neem André P. Brink ’n groot aantal van sy gedigte in die Groot verseboek van 2008 op. Walters se gedigte is reeds sedert die 1970’s op skool voorgeskryf. In 1975, toe ek ’n derdejaarstudent op Stellenbosch was, het D.J. Opperman ’n pas gepubliseerde Walters-gedig – “Hoekie vir eensames” uit Heimdall – deel gemaak van ’n eksamenvraestel. Opperman het klaarblyklik groot waardering gehad vir die guitige rymvirtuositeit van hierdie digter.

In latere bundels soos Sprekende van God (1996) en Satan ter sprake (2004) gebruik Walters sy enorme kennis van die teologie, kerkgeskiedenis en mitologie om sowel skerp satiriese as ontroerend persoonlike verse – ek dink veral aan “Haven om te landen” – te skryf. Wat Koot Vorster en die Kerkbode destyds misgelees het, is dat die digter ’n opregte hoewel aweregse soeker na God is.

Brink neem ook van Walters se vertalings uit die Japannese digkuns in Groot verseboek op. Dié vertalings het in 2006 verskyn onder die titel Aki no kure / Herfsskemering. Die nugtere, rasionele aard van Walters se geestelike pelgrimstog word mooi geëggo in die volgende haikoe van Karai Senryuu (1718-1790): “Zen-priester / ná meditasie / soek vlooie”.

En wat is die slotsom waartoe die digter, wat vandeesweek sy 90ste verjaarsdag vier, gekom het? In Sprekende van God staan die volgende reëls:

God sélf, die objektiewe, werklike, die Één

wat skuil gaan agter ons metafisiese projeksies,

bly op geen enkele wyse te benader.

Matthys Michielse Walters het die afgelope halfeeu die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim met sy andersdenkendheid en eiesoortige verse.

Ek plaas hom graag op sy welverdiende voetstuk.

Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Skrywers  |  Digters  |  Digkuns  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.