Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Wonderlike poespas van die lewe

Vel: 15 oorstories deur Emma Bekker. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200. Resensent: Trisa Hugo.

Met die eerste oogopslag, nog vóór hierdie resensent Emma Bekker se kortverhaaldebuut begin lees het, het die eerste paar verhale die vrees laat ontstaan dit gaan ’n bundel soos vele ander wees: grootwordvertellings wat eintlik net sin maak as jy bekend is met die skrywer of sy kontrei. Gelukkig het die beeld van Gabriël en sy lot die uwe gou laat besef hier wag veel meer as net nóg ’n sameraapsel nostalgie.

Vel word bemark as “erotiese” kortverhale, maar daar is nie ’n netjiese tema waaronder jy die 15 “oorstories” sou kon groepeer en dan verklaar dis ’n bundel oor dit of dat nie. Noem dit eerder ’n wonderlike poespas van die lewe wat jou rondgegooi en platslaan en dan weer verlei met ’n sagte massering, net soos die lewe self.

Die titel van die eerste verhaal, “Moederhensop”, is aanvanklik gelees as “moederhen-sop” (die versorger wat sorg en sop kook vir die siek kind), maar die aanslag van die latere verhale maak dit duidelik die skrywer is eintlik besig om allerlei slim speletjies met die leser te speel. Hensop die moeder, of kook die moederhen sop? Is die engel Gabriël die moederhen of versorger?

Só sleep die titel van die openingsverhaal jou ál spelende die bundel in en hou jou gevange tot die heel laaste woord jou met ’n soet waatlemoenskyfmond laat. Die erotiek word grootliks onderspeel, en tog is die toon van die meeste van die stories steeds sensueel – die een oomblik strelend, dan weer verterend soos vuur. Die slotverhaal, “Uittreksels”, is die enigste uitsondering – hier is dit rou seks wat jou met die aanvangsparagraaf vat: “Hy neem haar met sy lyf waar. Met sy monsteragtige horing hurk hy tussen haar bene, sy, ’n oopgevlekte braaihoendertjie, hy, ’n geoliede Pan, en begin haar smakkend labiaal verorber . . . Leo Grande is die koning van die klimaks.” Dié sinnelike slotverhaal laat die hele bundel soos ’n klimaks ontplof, ’n literêre orgasme wat, kompleet nes goeie seks, bevredig en streel en eis en die leser bevredig, moeg en effens verlore laat.

Die verhale speel in Afrika en Europa af en betrek verskillende rasse en klasse oor verskillende dekades heen terwyl dit terselfdertyd met die hede, verlede en toekoms eksperimenteer. “Boeremarkdag vir somber tye” speel byvoorbeeld af iewers in ’n toekoms van waterskaarste, verbruikersverbod, uitfasering van grondboerdery en ’n wêreldwye verbod op die vervaardiging van plastiektwak.

Die verhale “Die braai” en “Die minister” vlek weer die kompleksiteit van rasseverhoudings en -spanning oop met “ ’n swiepstert in haar stemtoon”. Meer as een verhaal laat ys teen die ruggraat afkriewel, selfs al is dit ’n oënskynlik doodgewone dag by ’n boeremark.

Bekker verras jou telkens met enkele woorde wat die hele toon van ’n verhaal verander. In “Sybokhaar”, byvoorbeeld, het dié sin op bl. 32 my laat regop sit in afwagting op wat kom: “Henk se bedrading is geaktiveer, dit kan ek sien.”

Maar hier is ook ’n enkele punt van kritiek: Wat ’n kragtige frase kon wees – “ ’n ander man se genade is ’n verdomde genade” – verloor trefkrag omdat dit in twee opeenvolgende verhale enkele bladsye uitmekaar herhaal word.

Nietemin het die verbeeldingryke verhale in die lieflikste taal my telkens verwonderd gelaat: Die skrywer is belese en berese.

Die bundel daag die leser uit en die skrywer hou ’n spieël op waarin die leser hopelik die detail raaksien wat slegs die fynste waarnemers beskore is. Tog, nes jy dink jy het ’n glimp gesien en verstaan, verdwyn die skrywer weer met haar geheim en laat dit aan die leser oor om te wonder wat pas gelees is en hoe dit geïnterpreteer moet word.

Die verhale bly net so ontwykend soos die paradysvlieëvanger in “ ’n Voël in die hand”: “En dan vang sy oog die lang stert in die Pride of India: ’n Paradys­vlieëvanger. Die kêrel gee Louw net genoeg kans om hom deeglik van sy teenwoordigheid te vergewis en dan verdwyn hy tussen die lower. ’n Oomblik van verwondering wat ’n neerslag los.”

Net so is hierdie bundel. Dit het my verwonderd gelaat én ’n neerslag gelos.

  • Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Emma Bekker  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.