Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ná 40 jaar is haar eerste roman daar

Henriëtte Linde-Loubser was tien jaar oud toe sy haar eerste storie geskryf het, maar meer as 40 jaar sou verloop voordat sy haar eerste roman in haar hande sou hou. Elretha Britz het by haar verneem hoekom dan so.

Henriëtte Linde-Loubser

“Ek skryf al baie jare, meestal kortverhale wat in bundels opgeneem is. Plek van poue het egter lank op my rekenaar gelê voordat ’n uitgewer daarin belang gestel het,” vertel Henriëtte Linde-Loubser.

Lapa-uitgewers kategoriseer dit as ’n gotiese roman en voeg by dat dit een van die eerstes in dié genre in Afrikaans is.

Linde-Loubser vertel die kinderboekskrywer Frieda Linde is ’n familielid wat haar van kleins af gefassineer en geïnspireer het. “Ek wou soos sy ’n skrywer word. En die dag toe die juffrou my storie in die klas voorlees, wat ek geskryf het toe ek tien was, het ek geweet ek wíl eendag ’n skrywer wees.”

Sy het biblioteekkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer en was jare lank die bibliotekaris in die opvoedkunde-departement. Pleks van ’n roman skryf, het sy ’n meestersgraad in Afrikaans-Nederlands verwerf en ’n doktorsgraad oor die rol van die natuur in die letterkunde, “want ek kan nie skryf as die natuurlike omgewing nie deel van die verhaal is nie”.

Plek van poue het sowat agt jaar gelede beslag gekry toe dié Stellenbosse skrywer ’n manuskrip-ontwikkelingskursus bygewoon het. Sy het nie ’n manuskrip gereed gehad nie en is aangesê om binne 60 dae een voor te lê.

“Ek het geen bepaalde plan gehad nie en het bloot geskryf na aanleiding van die verhale wat ek as kind graag gelees het. Gotiese verhale. Toe is ek aangemoedig om dit vir ’n uitgewer te stuur, wat teruggekom het met ’n briefie ‘dit is ’n lekker riller’.”

Sy het nie gedink dit is die regte genre vir die roman nie en die manuskrip het bly lê. Op ’n dag sowat agt jaar gelede het die manuskrip weer ter sprake gekom en het sy besluit om dit aan Lapa te stuur. Die uitgewer was nie net opgewonde oor die “gotiese verhaal” nie, sy is gevra om meer romans met dié inslag te skryf.

Die hoofkarakter in Plek van poue is Stela, ’n jong vrou wat aangestel word om ’n moeilike tiener tuis te onderrig. Maar Pavo (oftewel, die plek van poue) is nie ’n doodgewone plaas nie. Pleks van ’n plaashuis, wag op Stela ’n stokou kasteel met ’n dwerg as dienskneg (butler), ’n preutse huishoudster wat daarop aandring om almal “master” en “juffrou” te noem, ’n Chinese kok en ’n “master” wat van bui verwissel soos die weer.

Boonop hang die kasteel vol skilderye van die vorige mistress wat selfmoord gepleeg het. Stela word toenemend geteister deur nagmerries en die gevoel dat sy dopgehou word. Sy word gewaarsku teen spoke en vermoed iemand krap in haar kamer waar sy gereeld pouvere kry. Is haar verbeelding op hol, of moet sy ag slaan op waarskuwings oor Pavo en sy mense?

Die omslag van ‘Plek van poue’.

Linde-Loubser sê ’n gotiese roman het heelwat te doen met ’n broeiende atmosfeer en elemente van die bonatuurlike. Drome of visioene speel ’n belangrike rol en die storie speel gewoonlik af in ’n ou huis of kasteel, so ’n verwaarloosde plek. ’n Jong naïewe meisie is dikwels die hoofkarakter wat deur waagmoed en nuuskierigheid gedryf word. Ander elemente is die immer teenwoordigheid van sensualiteit en seksualiteit en ’n donker karakter as die minnaar.

Wuthering Heights van Emily Brontë is ’n voorbeeld van gotiese romanse waarin die bonatuurlike en geïsoleerde plekke teenwoordig is, asook dramas rondom die karakters se verstrengelde romantiese verhoudings.

“Die kritiek is gewoonlik dat die verhale nie geloofbaar is nie, maar dit is een van die eienskappe van ’n gotiese roman – suggestie. En ’n vae einde.”

Linde-Loubser het einde verlede jaar uit haar voltydse pos by die US bedank om haar op haar skryfwerk toe te lê. Dit was ’n goeie besluit – sy word vanjaar reeds met die verskyning van twee boeke beloon. Naas Plek van poue wat reeds beskikbaar is, sal ’n jeugverhaal, Die skugter vyf vir agt- tot 12-jariges, in Oktober verskyn.

Nog ’n jeugboek wag al ’n geruime tyd om voorgelê te word, maar sal dalk aangepas moet word omdat die tegnologiese omgewing vir jonges so vinnig verander het.

Hoewel die Stellenbosser sê sy weet nie of sy in een genre wil spesialiseer nie, is sy nietemin aan die skryf aan ’n tweede gotiese roman, wat net by haar opgekom het.

Oor die stortvloed storie-idees in haar kop, sê sy “dit is vandat ek die sprong gewaag het om my voltydse pos vir ’n eksterne US-werknemer te verruil. Maar as skryf in jou gebeente is, kan jy nie anders nie. Baie skrywers sê die drang is soos ’n vloek. Dis regtig waar, want as jy jou weer kom kry, is jou gedagtes aan die gang met ’n volgende intrige. Dit is gelukkig iets wat jy tot in jou oudag kan doen.”

Linde-Loubser is getroud met Nick Loubser, ’n landmeter, en hulle het drie volwasse kinders.

Meer oor:  Lapa-Uitgewers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.