Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nagmerrie van geweld is ons almal se storie

‘History of Violence’, die tweede boek van die jong Franse skrywer Édouard Louis wat pas in Engels verskyn het, is nie minder ontsagwekkend as sy topverkoper-debuut nie, skryf Jaco Barnard-Naudé.

History of Violence deur Édouard Louis. Uitgewer: Harvill Secker. Prys: R335.

Die bloedjong Franse skrywer Édouard Louis se debuutroman, The End of Eddy (2014), het ’n opskudding onder die leserspubliek in Frankryk veroorsaak. Net in dié land is meer as 300 000 eksemplare verkoop en die boek is sedertdien in 20 ander tale vertaal. Die Engelse vertaling is ook pas vir die verhoog aangepas en debuteer vanjaar op die Edinburg-kunstefees.

In hierdie outobiografiese vertelling oor Louis se kinderdae in ’n werkersklasgesin in ’n nywerheidsdorp in die noorde van die land besef Édouard (die Eddy van die titel) vroeg reeds hy is gay. Die boek is ’n onverskrokke blootlegging van die brutale homofobie en heteroseksisme waaraan hy onderwerp is.

Louis se tweede boek, History of Violence, wat pas in Engels verskyn het, is nie minder ontsagwekkend nie.

Verbeel jou jy kuier by jou suster op die platteland. Jy vertel haar van iets verskrikliks wat onlangs met jou gebeur het. Jou suster se man kom by die huis terwyl jy in ’n ander kamer rus. Die klank van jou suster se stem maak jou wakker. Jy maak die kamerdeur op ’n skrefie oop om te hoor wat sy sê. Dit blyk sy is besig om jou storie vir haar man te vertel. Dít is hoe Louis die vertelling aanbied van die traumatiese gebeurtenis waaraan hy in die vroeë oggendure van Kersdag 2012 onderwerp is.

Sy skryfwerk is gemotiveer deur skaamte.

Op pad terug van aandete met vriende daardie Oukersaand ontmoet hy ’n Algerynse man, Reda, op straat. Ná sy aanvanklike huiwering nooi Édouard tog vir Reda na sy nabygeleë woonstel. Aanvanklik verloop dinge volgens verwagting totdat Louis ontdek sy foon en tabletrekenaar is soek. Die aand ontaard in ’n nagmerrie van geweld waarin Reda vir Louis met ’n vuurwapen aanhou, hom verkrag en hom byna met sy eie serp verwurg

Die wyse waarop Louis die vertelling uit die mond van sy suster aanbied, is in verskeie opsigte vernuftig. Eerstens stel dit hom in staat om die soort afstand van die self te bewerkstellig wat dikwels nodig is om ’n mens se trauma te verwoord.

Tweedens betrek hierdie strategie die leser op ’n unieke manier: Jy staan as’t ware saam met Édouard agter die deur en luister na sy storie, met die voordeel dat jy as leser die bykomende geleentheid het om sy reaksie en sy aanvulling van die gebeure mee te maak.

Derdens maak dié vorm van die vertelling dit vir Louis moontlik om ’n tematiese verband met sy vorige werk te bewerkstellig, naamlik die impak van maatskaplike klas op intieme verhoudings.

In The End of Eddy het Louis uitgebreid oor die geweld van klasgegronde vooroordeel in die gesins- en skoolkonteks geskryf. In History of Violence keer hy, ironies genoeg, na die klasmilieu van sy kinderdae terug, maar nou verskuif die fokus na die gewelddadige klasagtergrond van sy aanvaller.

Trouens, daar lê ’n wrang ironie opgesluit in Louis se boek, want die klasgeweld waaruit hy vlug, haal hom in in die oënskynlik “veilige” Parys. Die skrywer maak dit egter duidelik dat sy aanvaller, soos Louis se eie gesin, ’n slagoffer is van die geweld van ’n brutale (en in hierdie geval rassistiese) politieke orde waarin swart mense met ’n spesifieke voorkoms voortdurend onder verdenking is as moontlike of werklike misdadigers.

Louis verwoord – in onverskrokke, aangrypende prosa – die rassisme wat selfs by hom ontstaan het ná die aanval. Die boek gryp jou aan die keel en sê: “Kyk wat is ons heersers besig om aan ons te doen, kyk wat is ons besig om aan mekaar te doen.” Louis se omgang met die manier waarop interpersoonlike geweld deur strukturele geweld aangevuur word, is eenvoudig meesterlik.

Ek was gelukkig genoeg om die bekendstelling van History of Violence in Londen by te woon. Twee aspekte van die geleentheid bly by my. Die eerste is Louis wat in antwoord op ’n vraag uit die gehoor noem dat sy skryfwerk tot dusver gemotiveer is deur skaamte, dat hy ’n skrywer wil wees van skaamte omdat skryf die skaamte draaglik maak. Die tweede is toe ek my eksemplaar van History of Violence ná die tyd voor Louis neersit met die woorde dat dit vir my telkens in The End of Eddy gevoel het asof hy mý storie vertel.

Louis het geglimlag terwyl hy voor in die boek iets by sy handtekening geskryf het. Toe ek die boek op die bus terug huis toe oopmaak, staan daar in ’n elegante

Paryse handskrif bloot “Our History” – en dít is, doodeenvoudig, die rede waarom jy

History of Violence moet lees.

  • Prof. Jaco Barnard-Naudé is die mededirekteur van die sentrum vir retoriekstudie aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.