Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nagmerries uit die newels hier opgejaag

Misdaadfiksie

Medusa

Rudie van Rensburg

QUEILLERIE, R275

Rudie van Rensburg, skrywer van ses misdaadromans met eenwoordtitels (Kamikaze, Ys) en een komiese roman oor ’n opstand in ’n ouetehuis (Hans steek die Rubicon oor), steek ’n donker grens oor met sy agtste roman, Medusa.

Die gegewe in dié boek is ontstemmend, skrikwekkend, grieselig. Van Rensburg erken dat die temas van mensehandel en pedofilie hom uit sy gemaksone gehaal het – wat as vermaning (én lokaas) dien.

Geharde verbruikers van die genre verwag die ergste, maar sagmoediges kan dink dat hulle met Medusa in ’n uitgesoekte hoekie van die hel verdwaal het. Aldus die skrywer: “Die vrees was altyd daar dat ek die grense van fatsoenlikheid kon oorskry, wat meegebring het dat ek sekere dele verskeie kere herskryf het.”

In ’n tyd van hiper-hype, slim bemarking en Trumpiaanse oordrywing, is daar haas geen onderwerp of taboe wat nog nie uitgeskryf of deurgetrap is nie. Vir die oorversadigde leser van misdaadlektuur is dit weliswaar ’n kwessie van graad: hoe erg is erg?

Dié keer sny die uitgeslape kapt. Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els die spoor van ongenaakbare boosdoeners wat jong kinders en hul ma’s laat verdwyn. Aanvanklik is daar meer doodloopstrate en gekruisde lyne as leidrade, totdat die naakte, opgekerfde lyke van drie blonde vroue opgediep word.

Kassie se beklemming oor die saak is aansteeklik. Dis veral die lot van die verdwene kinders wat hom slapelose nagte besorg en dryf tot ongesonde gewoontes (drank is gelukkig nie een daarvan nie). Struikelblokke ontspoor hom byna, maar ’n gedugte bloedhond byt vas.

Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem.

Van Rensburg kén sy storie, en dis ’n spannende een wat die leser in ’n wurggreep klem. Met diaboliese presisie knoop hy verskeie karakterperspektiewe en storielyne saam. Op dié kronkelpad is daar genoeg haarnaalddraaie om jou ’n naar kol op die maag te gee. Eers reg teen die einde word een randfiguur se gekonkel uiters bevredigend by die groter legkaart ingepas.

Navorsing word kundig verweef met die karakters se handeling: hoe pedofiele hul jong slagoffers mak maak (groom), hoe Facebook ingespan word om slagoffers van enige ouderdom te lok, die siklus van ’n reeksmoordenaar se perversiteit, al die slaggate wat ’n taakmag moet navigeer.

Die titel wek verwagting. Kassie verwys na die Griekse oorspronge van dié onheilsnaam; die drie lelike susters met slymerige skubbe, lang geel tande en sissende slange op die kop: “Die afstootlikste van die drie was Medusa. Enigiemand wat haar aankyk, het dadelik in klip verander.”

In die openingshoofstukke ontvou ’n beknopte geskiedenis van “Lelike Lila Liebenberg”, soos sy deur haar skoolmaats gespot is, ’n ontluikende psigopaat wat koelbloedig afreken met iedereen wat in haar pad staan en munt slaan uit die lyding en afwykings van haar medemens.

Lila het “die perfekte moord” gepleeg vir ’n ruim erfporsie en dobbel haar dae om, tot sy die ingewing kry om nog groter te waag. Mettertyd bestuur sy ’n klub vir molesteerders.

Dis net jammer dié haatlike manipuleerder word nie verder ontwikkel nie. Die kollig verskuif alte gou na ’n ewe geslepe skadu­figuur, ’n pedofiel in ’n mags-posisie, terwyl Medusa enduit agter die skerms verdwyn.

Dis ’n leemte juis omdat die ander vroue taamlik ondergeskikte kameerolle vertolk; hulle verskyn sporadies en kortliks.

Kassie se simpatieke bevelvoerder, brig. Fortuin, wat die ondersoek help én soms hinder; en Oumie, ’n bejaarde vrou wat oortuig raak sy het haar lank verdwene kleinkind teruggekry, word funksioneel maar eensydig ingespan.

Ander vlietende vrouefigure en die bloedjong meisies wat aan die voorkeurprofiel van die ontvoerders voldoen, is generiese slagoffers wat nie lank genoeg vertoef om simpatie te wek nie. Weliswaar is daar tans nie ’n vrou in Kassie se lewe nie, behalwe sy ma; hy is ’n geswore alleenloper en werkslaaf wat afleiding in sy seëlversameling vind.

Die verhouding tussen die twee jong ontvoerders, Zach en Festus, broers in misdaad, is gebou op vrees en waansin. Festus, nog pure melkbaard, is reeds ’n volryp seksuele sadis wat sy ouboet afdreig om vroue vir hom op die internet te soek. (Dis reg, nog ’n psigopaat!)

Een van die karakters wat wel simpatie wek, is Johnny, ’n taai straatkind wat al geruime tyd in die greep van Medusa en haar handlanger planne beraam om te ontsnap. Intussen is hy die ander jong slagoffers se vertrooster, wat geen illusies het oor wat op hulle wag nie. Tipies die kind wat sy onskuld te vroeg verloor het.

Johnny se avontuur word in sappige straatdialek oorgedra. Hy kan die polisie reguit na die helhool lei, as hy net nie weer in sy ou gewoontes verval nie.

Medusa is ’n newelboek wat nagmerries opjaag. Wanneer die spanning ondraaglik wil raak, herstel die ontknoping die ewewig en laat die leser met ’n ligstraal van hoop; dat euwels soos dié hokgeslaan kan word.

Solank Kassie se fut net nie uit is nie . . .

Koop die boek hier by takealot.

* Schalk Schoombie is ’n joernalis en skrywer van Alberton.

Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Boeke  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.