Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nataniël, Erik se kookboek op rakke

Ná vier seisoene van hul kosreeks Edik van Nantes op kykNET het Nataniël en sy broer Erik le Roux ’n gelyknamige kookboek uitgereik.

Nataniël en Erik le Roux

Soos die televisiereeks, deel die boek allerlei inligting oor die Franse leefstyl en kos, asook resepte en foto’s van disse en hul ervarings in die stad Nantes.

Die hoofdoel van die boek is om die kos en kennis te vier wat die Franse na Suid-Afrika gebring het,” sê Nataniël.

“Die meeste van die geregte in die boek is gegrond op disse wat meer as 300 jaar oud is. Dis ook om ons ervaringe te deel met mense wat ondersoekend is. Ek was geskok toe ek agterkom hoe baie mense (en nie net hier nie!) doodtevrede is met wat reeds aan hulle bekend is. Om van ’n ander land te hou, beteken nie jy ontken jou eie nie, jy verbreed net jou grense! Dis tragies dat so baie mense ’n wye wêreld ignoreer en dink dat alles van ‘oorsee’ nie vir hulle bedoel is nie. Tragies.”

Die omslag van Edik van Nantes deur Nataniël en Erik le Roux.

Dié twee broers het die reeks in Nantes verfilm, waar (Erik) Le Roux al vir baie jare woon en vir rolprent- en bemarkingstudente klasgee.

Hy was voorheen vir baie jare ’n professionele sjef, maar hy eet nie vleis nie en hou nie van bak nie.

Volgens Nataniël glo Erik dat dit “barbaars” is om vleis te eet.

“Sy vrou is ’n baie suksesvolle reisagent wat spesialiseer in wêreldtoere vir vegetariërs!

Daar is dus nie baie vleisgeregte in die boek nie, wel ’n paar historiese resepte wat ek voorberei het. En baie seekos, dis Nantes se groot vreugde. Erik hou ook nie van bak sover dit brood of koek aangaan nie. Hy glo jy het te min beheer oor die gereg, jy gooi goed bymekaar en wag dan vir ’n resultaat, en dit verveel hom. Hy gebruik wel die oond met disse wat jy kan uithaal en proe en aanpas.”

Nataniël het Erik lank gelede besoek toe sy broer reeds daar gewoon en getroud was en sy eersteling al gebore was.

Hy was “binne minute” op die stad verlief.

“Ek is nie ’n gemaklike reisiger nie, ek voel dikwels onveilig of ontuis. In Nantes het ek dadelik tuisgevoel, die stad is skoon, veilig, vriendelik en kompak. Jy kan feitlik alles te voet bereik, dag of nag. Daar is ’n informele gevoel en plek vir kreatiwiteit. Kuns is ’n prioriteit en die hoeveelheid kunstenaars is verstommend. Daar is geen winkelsentrums nie, individuele winkels is die strate vol en dis die eienaars self wat jou help, hulle is trots op wat hulle doen en laat jou welkom en gewaardeer voel.”

Danksy Le Roux se Franse burgerskap het Nataniël toegang tot baie platforms verkry en kon hulle die geskiedenis van die land met behulp van argiewe en mense se vertellings, asook hul eie familiegeskiedenis navors.

“Ek wou saam met Erik (aan die reeks) werk, en ek wou wys dat Frankryk nie net uit Parys of Provence en laventel en geroeste tuinmeubels bestaan nie. Nantes is ’n Middeleeuse stad met ’n baie moderne leefstyl; helder, bont, grafies, wild en in jou gesig. Die kontras tussen oud en nuut is opwindend. Die mense is gasvry en hoflik en as jy die tweede keer by ’n plek instap, onthou hulle wie jy is en behandel jou soos ’n koning.”

Nataniël beskou sy broer as sy beste vriend. Die “twee kaalkoppe in swart” soos Nataniël hulle in die boek beskryf, het nog nooit vasgesit nie.

“Ons neem onsself en die lewe in die algemeen nie te ernstig op nie, ons doen net wat vir ons lekker is en het vrede met die res. Ons het nou die vir twee uur só gelag oor die foon dat ek die volgende dag ’n hoofpyn gehad het.”

* Edik van Nantes word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R370.

Meer oor:  Kyknet  |  Human & Rousseau  |  Nataniël  |  Nantes  |  Televisiereeks  |  Kookboek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.