Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nataniël-memoires prikkel al jou sinne

‘Kyk na my’ is ’n intelligente, deernisvolle en humoristiese terugblik op die kinderjare van een van Suid-Afrika se bekendste handelsname, skryf Herman Lategan.

Kyk na my: Herinneringe aan ’n kindertyd deur Nataniël. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R280.

Resensente moet hulleself nie in boekbesprekings inwurm nie, maar as dit help met ’n leksel historiese konteks, is dit seker ’n geringe indiskresie. Ek het Nataniël rondom 1987 ontmoet toe hy in ’n klein woonstel in Vredehoek gewoon het. Dit was reg aan die begin van sy loopbaan. Geld was skaars. Ons moes op die vloer sit terwyl hy stories vertel.

Destyds het mense hulle neus vir hom opgetrek. Een van die grootkoppe by die ou Nico Malan het vir my gesê: “Hy speel mooi klavier, maar hy moet liewer nie sing nie.”

Dan was daar die dag toe ek wou help met publisiteit vir een van sy vertonings en met ’n foto en inligting by Rapport se Kaapse kantoor aangeklop het.

Die joernalis, ’n vaal man met ’n gesig en nek soos ’n volstruis, het na die foto gekyk en sy kop geskud. “Nee, nie vir óns lesers nie,” het die volstruis gesê, sy nek nou kromgetrek soos ’n vraagteken. (Dit was nie die enigste publikasie wat niks wou weet nie. O, hoe heerlik die ironie.)

Hy word geboelie en een skarminkel noem hom ’n mammagesig, popkop en ’n skoenlapper wat hy gaan seermaak.

Vandag het Nataniël meer as 80 verhoogproduksies op sy kerfstok wat hy self geskryf en opgevoer het. Voeg hierby 17 albums, nege bundels kortverhale, drie volumes van sy Kaalkop-rubriek in Sarie, een joernaal, ’n kostuumboek en ses kookboeke. En dan is daar nog sy welsynswerk, TV-vertonings, leefstylprodukte en nou dié memoires-met-’n-titsel-roman.

In Kyk na my skryf hy hoe hy self ook foto’s, agtergrondinligting en kassette by koerante, tydskrifte, platemaatskappye, ateljees, radiostasies en televisiekantore afgelewer het. “Obskuur,” het hulle gesê. “Die beeld is nie reg nie. Die stem is totaal onluisterbaar.”

Hy het hom hees gerook, nog heser gehuil, maar aangehou. Daar was geen plan twee nie.

Mettertyd het “die tonge geklap, my trane verdwyn en geld het verskyn”.

Toe hy die eerste keer op die voorblad van ’n tydskrif en op TV verskyn het, was daar talle klagtes. Hierdie resensent wonder wat dit van ’n sekere groep mense én die destydse media sê. Seker maar te min blootstelling aan die buitewêreld.

In hierdie boek vertel hy van die onsekere seuntjie en buitestander wat mettertyd tot die volwasse kunstenaar van vandag ontwikkel het.

Hy steek heerlik die draak met homself én ander mense en elke bladsy getuig van sy vermoë om fyn te spot, aweregs met ’n derde oog na die lewe te kyk en ’n goeie storie te vertel.

Dit begin met sy kinderjare op Riebeek-Kasteel, dan Porterville en later Kuilsrivier; ook die plek waar sy grootouers gewoon het, Wellington, figureer sterk. Tesame word elke plek ’n karakter op die verhoog van die jong Niël le Roux se lewe.

’n Mens kan sê hierdie boek is ’n soort ode aan sy ouma, maar hy skryf ook met groot deernis oor sy oupa, ouers, sibbes asook die platteland en sy inwoners.

Sy eerste dag op skool laat jou terugdink aan jou eie ervaring wat jou waarskynlik laat voel het asof jy soos ruimte-afval in die niet dryf. Dan is daar die nagmerrie van tennis, rugby en atletiek, wat vir ’n kunssinnige randeier erger as die verdoemenis is.

Hy word geboelie en een skarminkel noem hom ’n mammagesig, popkop en ’n skoenlapper wat hy gaan seermaak. Op een plek voel hy soos ’n “baba-varkie tussen hiënas”.

Hy is ook onseker oor sy voorkoms: “En my twee pofferhandjies, die handjies wat ’n paar jaar later deur ’n hoërskoolonderwyser ‘deegkloue’ genoem word . . .” Die klavierlesse wat hy oorspronklik neem, word gegee deur iemand wat aan Fräulein Rottenmeier in Heidi herinner.

Tog is Kyk na my geen treurmare nie. Hier is patos én baie humor. Die dorpies is gevul met vreemde, interessante mense en hy beskryf hulle lieflik, soos een aand toe mense vir ete kom: “ ’n Klein vrou met ’n halwe sonbril, sy het een oog verloor weens ’n gifgogga, die vrou wat nie wil glo haar parkiet is weg nie . . . en die predikant wie se vrou nie praat of kook nie.” Daar is “bruin gras so ongesond soos die rug van ’n brandsiek hondjie”.

Hy kan detail gebruik wat ’n magiese atmosfeer skep. ’n Stroompie roep hom, met sonstrale, naaldekokers, bye, vissies, klein diertjies met ogies.

Hy prikkel al jou sintuie. Jou mond water vir sy ouma se geelrys met baie pietersielie, soutpampoen, groenboontjies en jong aartappels: “Ouma het rowwe frikkadelle gemaak, met groot stukke karamelui, sultanas en brood wat gebreek is, sy het geglo gladde, ewe groot frikkadelle gee nagmerries, dit laat jou droom van krieket of rolbal.”

Vroeg reeds wil hy perform, maar lesers sal self moet gaan lees oor die hoe en waar. ’n Mens durf mos nie alles openbaar nie.

Wat kan jy van hierdie boek verwag? ’n Intelligente, beskrywende terugblik op die kinderjare van een van ons land se produktiefste sangers en storievertellers.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Groenpunt.
Meer oor:  Nataniël  |  Kyk Na My  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.