Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Naudé se ondersoek na die aard van fiksie

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Charl-Pierre Naudé

Fiksie

TAFELBERG, R330

In dié debuutroman val die klem op verskillende weergawes van ’n onkenbare werklikheid en die leser se geloof in ’n vaste greep op die wêreld word ondermyn, skryf Willie Burger.

Charl-Pierre Naudé. Dirkie Verwey is sy debuutroman. Foto: Alet Pretorius

In Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey word die leser met talle verbeeldingryke gebeurtenisse gekonfronteer, soos die “mis-voor-die-son-hoed” wat in ’n yskas bewaar moet word omdat die mis waaruit dit gemaak is teen hoë temperature kan verdwyn. Enige vrou wat hierdie hoed opsit, ongeag hoe sy lyk, word onweerstaanbaar vir mans.

Daar is ook ’n motel wat op onverklaarbare wyse skielik op ’n dag op ’n plaas verskyn. Nadat verbysterde wetenskaplikes geen verklaring kan bied vir die motel se verskyning nie, verdwyn dit weer net so skielik. Maar die joernalis wat foto’s van die gebou geneem het se ID-dokument word by ’n motel in Nieu-Mexiko, wat dieselfde as die verdwene gebou lyk, opgetel.

Dan is daar nog die onskuldige Dirkie Verwey wat nie getel kan word nie en dus ook nie opgeroep word vir diensplig nie . . .

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is Charl-Pierre Naudé se debuutroman. Hy is ’n gevestigde digter wat dikwels in die buiteland die verhoog met ander digters en kunstenaars deel.

Sy debuutbundel Die nomadiese oomblik (1995) het aandag getrek met die filosofiese diepgang en tegniese vaardigheid van die verse. Die bundel is met die Ingrid Jonker-prys bekroon. In die geheim van die dag (2005) is eweneens goed ontvang en met die M-Net-prys sowel as die Protea-prys bekroon. Ook sy jongste bundel, Al die lieflike dade (2014), is bekroon met ’n Sala-prys.

In die roman word die idee van parallelle lewens, van “ewewêrelde”, op verskillende maniere ondersoek.

Hierdie bekroonde bundels skep die verwagting dat sy romandebuut ook tegniese vernuf en eksperimentering met vorm, sowel as ’n sterk filosofiese onderbou, sal bevat. Dalk verwag mens ook buitengewone metafore, treffende beelde, en Naudé se kenmerkende sin vir ironie en humor.

Hierdie verwagtings is in die kol. Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey bied al hierdie dinge, maar ook meer. Die lywige roman (470 bladsye) vermaak en boei met ’n sterk spanningslyn asook die betowering van ’n soort magiese realisme wat mens wil-wil herinner aan Murakami. Dit beteken egter nie dat dit sonder meer ’n maklike roman is om te lees nie.

Die grootste deel van die roman word aangebied as die manuskrip van Hermanus Verdomp, ’n joernalis van ’n klein dorpie op die Lyksovlakte (’n fiktiewe vlakte in die Noord-Kaap). Verdomp doen agterna (in 1987) verslag oor merkwaardige gebeurtenisse wat gedurende die 1970’s en 1980’s plaasgevind het.

Sentraal in sy vertelling staan ’n onwettige liefdesverhouding oor die kleurgrens tussen Dirkie Verwey en ’n onderwyseres by ’n sendingstasie asook Verdomp se eie verhouding met ’n meisie van die reisende biblioteek (of is dit ’n reisende bordeel?).

Verdomp is egter ’n onbetroubare verteller. ’n Mens kan nie sy kontak met realiteit vertrou nie, terwyl sy naïwiteit en meevoering met sy eie taal- en vertelvermoëns ook die leser van sekerheid ontneem. Maar dan is baie van sy vertellings oënskynlik tóg “waar”, en word selfs met foto’s en dokumentasie bevestig.

Onbetroubare vertellers onthuts die leser. Hulle maak vaste kennis onmoontlik.

Onbetroubare vertellers stel in die algemeen hoë eise aan lesers omdat die leser dikwels aanvanklik deel in die wêreld wat deur die verteller tot stand vertel word, om dan bedroë te voel as die wêreld nie heeltemal is soos wat dit aangebied is nie.

Volgens voetnote wat deur C-P Naudé by Verdomp se manuskrip ingevoeg word, blyk onder meer dat Verdomp se latere getuienis voor die WVK, ten spyte van die oënskynlike “magiese” onsin daarvan, tot die oplossing van verskeie apartheidsmisdade gelei het.

In ’n “nawoord” tot Verdomp se manuskrip, verklaar C-P Naudé dat die roman onder meer oor ’n teorie in kwantumfisika gaan, waarvolgens die bestaan van parallelle wêrelde moontlik is; dat verskillende wêrelde gelyktydig kan bestaan en soms ook kan oorvleuel.

In die roman word die idee van parallelle lewens, van “ewewêrelde”, op verskillende maniere ondersoek. Verdomp ontdek ’n alternatiewe weergawe van homself, waarin hy met sy geliefde Anna getroud is en kinders het, terwyl Anna in sy eie wêreld niks met hom te doen wil hê nie en as sekswerker hom selfs spot en vermy. Dirkie is in een wêreld geestelik versteurd, maar in ’n ander is hy ’n vryheidsvegter wat in die buiteland opgelei word.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Aan die een kant is die parallelle wêrelde ’n metafoor vir die parallelle lewens, die aparte wêrelde, wat mense van verskillende rasse tydens apartheid ervaar het.

Maar die ewewêrelde bied ook meer. Dit maak ’n ondersoek na die aard van fiksie moontlik. Fiksie behels immers die skep van alternatiewe wêrelde, en soos die kruiedokter, Oom Willempie, aan Verdomp verduidelik: “Die wêreld bestaat oorlat die mense hom so dink”. Hy verduidelik dat dinge tot bestaan gedink word, en dat dit ook weer weggedink kan word. Dit is asof mense net kan sien wat hulle glo.

Ewewêrelde hef grense op. Die wêrelde sluit mekaar uit, is teenstrydig, maar oorvleuel terselfdertyd op ’n tipiese postmodernistiese wyse. Sodoende word die aard van ons eie wêreld, ons kennis oor die wêreld ondersoek.

In Verdomp se weergawe van gebeure word sommige plekname verander, wat later in ’n voetnoot verklaar word as ’n manier om die joernalis se bronne te beskerm of as ’n psigologiese meganisme om trauma te verwerk.

Die pleknaamveranderings skep ’n soort sprokieswêreld, terwyl hulle tóg herkenbaar bly as “werklike” plekke en sodoende skuif die moontlike wêrelde oor die “reële werklikheid”. Ook tree historiese figure (John Vorster, PW Botha) in die vervreemde, “fiktiewe” plekke op, sodat die grense tussen fiksie en joernalistieke verslaggewing vaag word.

Onbetroubare vertellers onthuts die leser. Hulle maak vaste kennis onmoontlik. Een van die polisiemanne word as “ ’n man van die enkel emosie” beskryf. Enkel emosies en enkel verklarings vir wat “regtig” gebeur het, word ten spyte van C-P Naudé se “verhelderende” aantekeninge, nie verduur nie.

Die klem val op verskillende weergawes van ’n onkenbare werklikheid en die leser se onskuldige geloof in ’n vaste greep op die wêreld, word ondermyn.

  • Willie Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.