Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nederlanders inspireer Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk

Twee onbekende Nederlandse skilderkunstenaars is die inspirasie vir twee bundels beeldgedigte wat binnekort van die bekroonde Afrikaanse skrywer Marlene van Niekerk verskyn.

In Gesant van die mispels is haar fokus Adriaen Coorte (1658-1707) en In die stille agterkamer Jan Mankes (1889-1920).

Luidens ’n nuusverklaring van NB-Uitgewers lewer Van Niekerk hiermee weer ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk.

“Die gedigte verteenwoordig ’n fantasieryke ondersoek na die moontlike momente van skilderinspirasie, die tegniese aspekte van die skilderproses en die artistieke opvattings en historiese konteks van die kunstenaar: Van Niekerk maak haarself en die kyker as’t ware tot intieme toeskouers van dié twee skilders se stillewes.”

Van Niekerk se vorige publikasie, die digbundel Kaar, het haar in 2014 ’n tweede Hertzogprys besorg. Die eerste was vir haar roman Agaat in 2007.

Van Niekerk het so op enkele vrae oor die nuwe publikasies geantwoord:

Die voorblad van In die stille agterkamer.

het jou keuse juis op die skilders Adriaen Coorte en Jan Mankes geval?

Hulle is redelik onbekende kunstenaars en die gedigte onder meer voertuie vir die bekendstelling van die skilders en die oordra van inligting oor hul werk.

Verder is Coorte en Mankes vir my interessant omdat hulle albei geskilder het in tydperke gekenmerk deur bloedige oorloë en ingrypende sosiale omwentelinge. Tog het hulle geen portrette van generaals, veldslae of politieke allegorieë geskilder nie, maar hulself beperk tot klein geïsoleerde huishoudelike onderwerpe.

Dit is een manier vir kunstenaars deur die eeue om in roerige tye te oorleef. Hulle is albei ook marginaal in die hoofstroom-skilderstyle van hul tyd. Albei se werk vertoon desondanks ’n ingetoë maar heel bewuste perfeksionistiese ambagtelikheid.

Hoeveel beeldgedigte is in elke bundel?

’n Ruim dosyn plus dan nog die Nederlandse vertalings van die gedigte, en in elke boekie ’n kort nawoord tot die skilder se lewe en werk.

Vervloë Europese “skildertale” in Nederlandse skilderye word dus in ’n andersoortige medium (gedigte) in ’n post-koloniale minderheidstaal, Standaardafrikaans, vertaal en laasgenoemde gedigte weer na ’n klein Europese taal, Nederlands, wat die grootste invloed in sy ontstaan was. Miskien is dit vir sommige lesers hier en in Nederland interessant om te sien hoeveel semantiese ooreenkomste tussen Standaardafrikaans en Nederlands bestaan.

Die voorblad van Gesant van die mispels.

Is dié soort verse jou idee of het ander skrywers al dergelike werk gepubliseer?

Ekfrastiese poësie (van die Grieks “ek”, vir “uit”, en “phrasis” vir “spreek” dus: gedigte wat beelde letterlik uitspreek) behoort tot ’n heel ou tradisie. Ook is daar talle beeldgedigte in Afrikaans, dit is dus geen oorspronklike idee nie. Tot dusver weet ek nie van siklusse beeldgedigte in Afrikaans oor een skilder se werk waarby ook die betrokke beelde afgedruk is, en waar die beeld en teks, soos in hierdie bundels, tesame as visuele geheel ontwerp is nie.

Waarom wil ’n mens weer en weer na sommige van die mineur- realistiese skilderytjies kyk?

Ek het probeer om in die gedigte finale antwoorde op hierdie vraag op ’n toeganklike manier te vermy. Dit is wat die skilderye ook doen.

In ’n tyd waar bepaalde selfaangestelde sensors, kuratore en kommissarisse die Suid-Afrikaanse universiteitskampusse, openbare domeine, en ook literêre en visuele kunste- en musiekomgewings weer eens (soos tydens apartheid en soos tydens die struggle-jare) belaag met fascistoïede kulturele diskoerse onder die invloed van populistiese identiteitspolitiek, is dit miskien uilspieëlagtig om hierdie bundeltjies van gemengde afkoms en met ’n hibriede aard (synde saamgestel uit intermediale, intertalige en interkontinentale verstrengelinge), in die veld te stoot. In die vervolgbundels wat beplan word, sal weer ander soorte beeldmateriaal en ander soorte poësie gebruik word, miskien kleurfoto’s van populistiese staatshoofde en hul kulturele propaganda-handlangers met bypassende satiriese gedigte. Die Gedanken sind frei en niemand kan dit verhoed nie. Kyk maar as julle dit nie wil glo nie.

* Gesant van die Mispels en In die stille agterkamer sal in Desember op die rakke wees.

Meer oor:  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.