Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nes van misdadigheid oor grense oopgekrap

Misdaadfiksie

Vloek

Rudie van Rensburg

QUEILLERIE, R275

Afrika is nie ’n plek vir sissies nie. Dat ongekende minerale rykdom en hongersnood in een sin genoem word, bevestig dié kontinent se paradoks.

Met Vloek werp Rudie van Rensburg ’n priemende blik op Afrika se oënskynlike onvermoë om die regte keuses te maak.

Twee storielyne vorm die onderbou van ’n verhaal oor gulsigheid, verraad en kranksinnige radikalisme wat kontak met die werklikheid verloor het. In Vloek word ’n nes van misdadigheid ontbloot wat oor landsgrense heen strek.

Die voortvlugtige oudspeurder Carl Bester se dienste is weer in aanvraag. So verleë is Wim O’ Reilly, ook ’n voormalige speurder, oor Bester se speurvernuf dat die organisasie waarvoor hy nou werk nie alleen vir Bester in sy wegkruipplek in die Filippyne uitsnuffel nie, maar hom selfs met ’n vrywaringsaanbod teruglok.

Die Mercurius-tak in Kaapstad waarvan Wim O’Reilly aan die hoof staan, is deur die organisasie se hoofkantoor in New York gevra om dringend die omstandighede rondom drie moorde in die Moederstad te ondersoek.

Die feit dat Mercurius belang stel in die moorde dui daarop dat georganiseerde misdaad op ’n internasionale vlak ter sprake is. Mercurius is ’n frontorganisasie wat geheel en al klandestien werk. Selfs nie eens die Suid-Afrikaanse ondersoekagentskappe, wat die SAPD insluit, weet waarmee hulle besig is nie.

Vloek
Vloek

Wanneer Bester hom by die firma aansluit, is hy skepties oor dié spannetjie se ondersoekvermoë. ’n Groentjie op die span is die politieke wetenskaplike doktor Sarah Greyling. Sy is teen Bester se reputasie as rokjagter gewaarsku. Met haar aantreklike voorkoms wonder Bester of hy sy hormone in toom kan hou.

Die storie van Imani Mutsinzi, ’n slagoffer van kinderarbeid, is ’n tipiese verhaal van ’n desperate poging om van ’n armoedige bestaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo te ontsnap. Intelligensie en vasberadenheid tel egter in sy guns. ’n Storie wat ’n blywende indruk op hom gemaak het, is die verhaal oor Wittand die olifantbul en die hiëna wat sy Moeder aan hom vertel het. Want in Afrika is dit die sterkere wat oorleef. As sy pad kruis met dié van Richter en ’n man waarna almal as “die baas” verwys, verander sy omstandighede drasties.

Richter-hulle is die verpersoonliking van boosheid. Imani word ingesuig by die Afrika-manier van doen met sy Machiavelliaanse ondertone waar algehele mag die enigste opsie word om bo uit te kom.

Asof die ondersoek na die moorde in Kaapstad en hoe dit moontlik verband kan hou met georganiseerde misdaad elders op die kontinent nie genoeg is nie, gewaar iemand uit Bester se verlede hom eendag per toeval. Guido Müeller, ’n regse ekstremis, is nie alleen die kluts kwyt nie, hy het lank tronkstraf uitgedien danksy Bester. Die tyd om wraak te neem het aangebreek. Dié verwikkeling kan die ondersoek waarmee Mercurius besig is in die wiele ry.

Wat komposisie en die stilistiese aspekte betref, is dit ’n werk van voortreflike gehalte. Die hoofstukindeling wat volgens dag en datum geskied, is ’n slim keuse. Met die heen en weer spring tussen die hede en die verlede word die aanloop oor baie jare tot die huidige situasie duidelik uiteengesit.

In 2002 is Imani, nie ouer as 15 nie, ’n slagoffer van ’n korrupte regering en gewetenlose sakemanne wat Afrika se ellende uitbuit. Sy dagloon om onder haglike omstandighede in ’n myn te werk is ’n skamele een dollar per dag. Die leser volg sy loopbaan en opgang geleidelik. Imani se lewensreis word afgewissel met die Mercurius-ondersoek na die moorde in die Kaap met internasionale tentakels. Bester-hulle moet vinnig speel om die baasbreine aan die kaak te stel. Met ’n bloedspoor en lyke wat ophoop, word die spanningslyn snaarstyf gespan.

As protagonis is Carl Bester iemand van wie die leser maklik hou. Hy probeer sy bes, maak foute en hoop ook op ’n bietjie geluk. Sy oordeel het hom destyds lelik in die steek gelaat toe hy in die diens van die SAPD was. ’n Misstap waarvoor hy ’n hoë prys moes betaal. Nou moet hy die beste maak van die tweede kans wat die lewe hom bied. Ondervinding en pure speurinstink kom hom egter goed te staan. En wie weet, dalk is ware liefde hom hierdie keer beskore.

Die storie oor Guido Müeller is allermins ’n lig-in-die-broek-neweverhaal en bied ’n hoogs insiggewende blik op die mitologiese aspekte wat die wêreld van die verregse onderlê. Die makabere gegewens van ’n verdwaalde kultus laat ’n mens ril.

Die kwessie van showing teenoor telling blyk ’n uitdaging vir die skrywer by tye te gewees het. Tog slaag hy daarin om die regte balans te handhaaf.

Rudie van Rensburg se bydrae tot die genre van krimi-literatuur is indrukwekkend. Sy vermoë om aksietonele oortuigend onder woorde te bring, getuig van vir­tuose vakmanskap. Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt.

Vloek is ’n spanningsverhaal van ambisieuse omvang wat getuig van deeglike navorsing. Een vraag bly oor – hoe vertaal ’n mens “page turner” in Afrikaans? Gliplees? Want die leser glip moeiteloos deur hierdie vaartbelynde teks met ’n onstuitbare momentum.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Vloek  |  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.