Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Net te veel statistieke en retoriek

Dit voel of ’n boek oor ’n belangrike onderwerp soos moord op  vroue ’n belangrike boek moet wees, maar in Nechama Brodie se ‘Femicide in South Africa’ kom die oormag statistieke en die skrywer se afleidings nie mooi bymekaar uit nie, skryf Annelise Erasmus.

Femicide in South Africa deur Nechama Brodie. Uitgewer: Kwela. Prys: R290.

Dit is deesdae glad nie maklik om oor sekere onderwerpe te skryf sonder om langs ’n afgrond van voorskrifte verby te skuifel wat bepaal hoe jy daaroor gesprek moet en mag voer nie. Om só ’n boek eerlik te resenseer is gevaarlik, omdat sommige mense kritiek kan beskou as weerstand teen die onderwerp en die heersende (aanvaarbare) openbare gesprek daaroor.

Femicide in South Africa is grootliks gegrond op Nechama Brodie se doktorale tesis, wat fokus op hoe die Suid-Afrikaanse media berig oor vroue wat vermoor is. Luidens die inleiding bou die boek voort op dié navorsing met meer statistieke wat ’n langer tydperk dek.

In ’n era waarin al hoe meer mense nie meer “wetenskap” as waardevol beskou nie, het ek oneindige respek vir die kennis en insig wat navorsers oor jare heen versamel. Hierdie boek bevat so baie statistieke dat daar geen twyfel kan wees oor of die skrywer haar huiswerk gedoen het nie. Maar die debat oor objektiwiteit versus subjektiwiteit by die interpretasie en aanbieding van navorsingsresultate is een wat nie in ons leeftyd afgehandel sal word nie. Selfs op ’n minder akademiese vlak is dit ’n onderwerp waaroor hierdie resensent nog nie uitsluitsel het nie. Is die beste navorser oor ’n onderwerp die persoon wat eerstehandse ondervinding daarvan het of is dit juis die persoon wat emosioneel onbetrokke en daarom meer objektief is? Wie weet beter as die slagoffer?

Dit is lewensnoodsaaklik (vir vroue) om insig en kennis oor die onderwerp te versamel en met mekaar te deel, juis omdat daar so baie aspekte is wat die “gewone leser” nie verstaan nie.

Wat ook al die antwoord is, een ding is seker: Die gesprek moet nooit ophou nie, al is dit hoe moeilik. Dit is die verantwoordelikheid van enige kenner om nooit die gesprek stop te sit nie. Daar behoort geen vrae te wees wat ’n mens nie mag vra nie, al klink dit hoe oningelig of selfs aspris, en selfs al kom dit van ’n “wit man”. Jy is dit aan jou onderwerp verskuldig.

Dit voel of ’n boek oor moord op vroue ’n belangrike boek moet wees. Dit is lewensnoodsaaklik (vir vroue) om insig en kennis oor die onderwerp te versamel en met mekaar te deel, juis omdat daar so baie aspekte is wat die “gewone leser” nie verstaan nie. Ek het verwag om hier antwoorde kry, maar dit was helaas nie so maklik nie.

Die woord “femicide” is reeds ’n tameletjie. Waarom is daar ’n kategorie vir vrouemoord? Verreweg die meeste moordslagoffers is immers mans (omdat hulle mans is en meer dikwels in situasies beland wat in moord kan eindig). Waarom word vroue uitgesonder? Hierdie soort vrae kan aktiviste dalk ontstel, maar dit moet steeds oortuigend beantwoord word.

Vroeg in die boek erken Brodie die term “femicide is not actually clearly or universally defined and is still subject to a wide range of interpretation . . .” Later: “But, in practice, trying to determine whether or not a woman was killed because she is a woman is far more complex and problematic when female homicides are studied as actual crimes rather than as social, sociological or political concepts.” (Hierdie konsepte is tog in alle moorde ter sprake, of hoe?) Ná ’n lang gedeelte waarin die skrywer bewys die term is vaag en ondefinieerbaar, besluit sy tog om dit te gebruik – selfs as die boek se titel. Waarom? Is dit meer vir ideologiese effek?

Dit is iets wat deurlopend pla: Die skrywer bewys een ding met statistieke of verwysings na ander gevalle, maar kom dan tot ’n gevolgtrekking wat lyk of dit uit die lug gegryp is. Emosies, persoonlike vendettas en ideologiese onderrokke wat uithang veroorsaak dat die leser naderhand dáárop fokus (omdat dit soveel verteerbaarder is as die nimmereindigende statistieke) en dan mettertyd begin wonder oor die objektiwiteit van die navorser.

Male sonder tal verskaf die skrywer statistieke wat duidelik op iets dui (soos dat baie meer mans as vroue vermoor word; dat ’n derde van mense wat weens heksery vermoor word manlik is; of dat ’n groot deel van vrouemoorde in ’n spesifieke tydperk eintlik deel vorm van plaasmoorde waarin die man ook vermoor is), net om dan ’n ander afleiding te maak wat sy “voel” waar is.

Twee groepe vroue val wel oortuigend in die “femicide”-kategorie en kom selfs die voorwaarde van die oorspronklike problematiese definisie na dat sy “vermoor is oor sy ’n vrou is”.

Die een is “intimate-femicide”, wanneer ’n vrou sterf aan die hand van ’n intieme maat, en die ander wanneer lesbiese vroue vermoor word. Die deel oor lesbiese moorde en “korrektiewe verkragting” is skrikwekkend en nie so vaag soos die ander gedeeltes nie, hoewel selfs hier tussenwerpsels is wat niks met die onderwerp te doen het nie.

Brodie kla byvoorbeeld dat koerante net oor lesbiese vroue skryf wanneer hulle vermoor word en sy wil weet waar is die lesbiese oumas wat resepte deel of die lesbiese polisievroue, moeders of sake-eienaars. Natuurlik bestaan hulle, maar soos almal anders word hul seksuele voorkeur nie langs hul naam uitgespel nie. Sy noem ook vigs is iets wat lesbiërs by hul verkragters kry wat dit soveel erger maak, maar dit is tog seker waar vir alle slagoffers van verkragting.

Die boek bevat enkele aanwysers wat moontlik van waarde kan wees, maar gewone lesers wat meer oor “femicide” wil leer, gaan ná dese nie veel wyser wees nie. Hiervoor is daar net te veel verswelgende statistieke, retoriek en probleemstelling, en baie min voorstelle vir verdere gesprekke of moontlike oplossings. ’n Artikel of twee, saamgestel uit die laaste bladsye van die boek, sal vir gewone lesers meer verteerbaar wees, hoewel akademici sekerlik veel uit die boek sal put.

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiek-webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Geslagsgeweld  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.