Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Net toe jy dink jy ken vir Meyer

Dié futuristiese boek het haar soos ’n koors beetgepak en sy het geen kritiek te lewer nie, skryf Deborah Steinmair.

Foto:

Koors deur Deon Meyer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R290.

’n Mens kan, soos die Engelse sê, nie ’n boek op sy omslag takseer nie. Of ’n skrywer op sy topverkoperbaadjie nie.

Ek het nog altyd groot respek vir Deon Meyer as misdaadskrywer gehad. Voortreflik, maar beperk tot aksie, moord en doodslag, met min omhaal van woorde. En waarom aan ’n wenresep gaan peuter?

Wel, hy het. Koors wyk dramaties af van sy gewone aanbod. Daar is geen polisieprosedure en geen alkoholistiese macho-speurder nie.

Die verteller en hoofkarakter, die seun Nico Storm, bevind hom in ’n apokaliptiese wêreld. Dink Mad Max, dink Margaret Atwood se Oryx and Crake en The Year of the Flood.

Vyf en negentig persent van die aarde se bevolking is uitgewis deur ’n galopperende koors. Die Kaap is in ’n dodelike rookwolk gehul nadat Koeberg se kernkragsentrale ontplof het. In die binneland jag verhongerde, verwilderde honde in troppe en verskeur alles wat beweeg, so ook moorddadige huishoudelike varke en stroper­bendes op motorfietse.

Diegene wat die koors oorleef het, probeer nedersettings stig, water en krag ­aanlê, plant en bou – dis nou die “goeie” mense. Die res stroop, roof en moor, en bou wapenarsenale op.

Die raaisel aan die hart van die verhaal is die moord op Nico Storm se pa, die belese, wyse pasifis Willem, stigter en president van die suksesvolste nedersetting in Suid-Afrika, die Republiek van Amanzi. Dit weet ons reeds van die voorblad: “Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry.”

Vandat die verhaal begin, leef Willem Storm nog vyf jaar, en die leser leer hom deeglik ken deur die oë van ’n seun en ­later ’n weerspannige tiener.

Die verhouding tussen Nico en sy pa is totaal aangrypend, soms deerniswekkend, soms tot die uiterste gespanne. Dit is so na aan die been, so weerloos, dat ’n mens die indruk kry die skrywer sou iets vir sy eie pa wou sê.

Verskillende kleurryke karakters meld by Amanzi aan, soos die onpeilbare ­Domingo wat die weermaghoof en eintlike tromslaner word, soos die briljante Birdy, die opportunistiese pastoor Masinga, die elegante Nero Dlamini. By elkeen leer die seun iets.

Vertellings deur Nico Storm (nou reeds ouer en self ’n pa) word afgewissel deur onderhoude met mense wat in Amanzi kom herberg soek het, soos opgeteken deur Willem Storm. Hul geskiedenisse is boeiend, maar word nooit so lank dat dit die momentum versteur nie.

Dit herinner aan ’n hoogs ingewikkelde rekenaarspeletjie – en miskien het Meyer presies die soort kop wat sulke speletjies kan ontwerp – die soort speletjie wat werkliker (en veel opwindender) as die werklikheid word en ’n hele dag en nag insluk, waar die speler karakters moet saamstel, stede bou met infrastruktuur, landbou, ekonomie en natuurlik weermag.

Dit is eenvoudig so fassinerend en spannend dat ek in koorsagtige ongeduld met bewende vingers gespook het om die bladsye vinnig genoeg om te blaai. Die leser word pens en pootjies ingetrek, in die gevare wat uit alle windrigtings dreig, die aanpasbaarheid van die mens en die dinamika van menseverhoudings. Die boek is nie net fisiek lywig nie. Die skrywer vat ’n groot hap filosofie, sielkunde, religie, sosiologie, tegnologie, krygskuns, en byt nooit meer af as wat hy kan insluk nie. Hierdie onherbergsame boek is ’n beter vertoonvenster vir sy absolute genialiteit as misdaadfiksie. Dit omhels alles, die hele menslike gesteldheid, die stryd tussen goed en kwaad en al die skakerings tussenin. Die leser kry ’n dwarsklap teen die kop en sy oë gaan oop:

“Pa vertel my van die historikus Yuval Noah Harari wat geskryf het oor alle diere wat slegs groot gedragsveranderinge kan ondergaan as hulle geneties verander. Alle diere behalwe die mens. Pa sê vir honderde duisende jare was die mens net nog een van baie spesies op die aardbol, ons getalle wankelend volgens droogte en vloed, hongersnood en oorvloed, maar die getalle altyd binne beheer en in balans met die natuur. En toe, ’n stuk of twaalfduisend jaar gelede, toe verander dit dramaties. Toe begin die mens vinnig meer word. En dit was nie ’n genetiese verandering nie, dit was nie ’n klimaatsverandering nie. Dit was ons vermoë om stories te vertel. Pa sê ons is die enigste organisme wie se gedrag dramaties kan verander ­omdat ons fiksie kan skep.”

Ek het ’n broertjie dood aan oorlogsromans met noukeurige weergawes van veldslae en ek sluk nie maklik aan futuristiese verhale nie. Maar niemand weet wanneer Koors afspeel nie, dit voel soos êrens in die nabye toekoms. Jare word na diere genoem, afhangend van ’n dramatiese insident wat in daardie tyd afgespeel het: die Jaar van die Hond, die Jaar van die Vark. Daar is hommeltuie en helikopters, maar niks wat ons nie reeds beleef nie. En die enkele beskrywings van veldslae is pakkende leesstof waarvan ’n mens jou oë nie kan wegskeur nie. Liggame wat uitmekaargeskiet word en in ’n ligroos bloedreën ontplof, het my min geskeel, want dit
gaan oor die oorlewing van die denkendes, die sensitiewes.

Die verhaal bly jou onthuts, verras en oorrompel. Die manier waarop die skrywer nooit die draad verloor nie, nooit die spanning laat verslap nie en oënskynlik moeiteloos landskappe, situasies en karakters optower. Dit alles terwyl die verhaal onstuitbaar voortstu. Die einde het niemand sien kom nie. Ek het absoluut geen kritiek te lewer nie, ek probeer nog om my bewondering te verteer.

Dis ’n inisiasie- en vormingsroman oor die dood van onskuld. Dis ’n verhaal oor die liefde in sy vele fasette en gedaantes. Die taal is soepel en gedienstig. Daar is niks oorbodig nie. Dis vaartbelyn, innoverend en briljant ontwerp. Die leser is ná die laaste bladsy nie meer dieselfde mens nie, soos dit hoort. Dis relevant en lewer ongesiens maatskaplike kommentaar. Dit preek nooit nie, gorrel nooit nie.

Deon Meyer is ’n supermens omdat hy fiksie kan skep wat mense verander sonder dat ons geneties verander. En hy bly sy nadoeners altyd een jakkalsdraffie voor. Dis eenvoudig onmoontlik om daardie geykte term “kragtoer” te omseil.

Koors pak jou beet en laat jou nie los voordat jy dit uitgesweet het en bewerig bly lê nie. Bravo!

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en ­vryskuttaalpraktisyn.

Meer oor:  Deon Meyer  |  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.