Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Net tydens Groot Griep het Akademie nie pryse uitgedeel
Johan Myburg Foto: Deon Raath

Die Akademie vir Wetenskap en Kuns het in sy 111 bestaansjare net vir twee jaar nie sy pryse uitgedeel nie.

Dit was met die Groot Griep-pandemie in 1918 en 1919. Selfs gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die pryse uitgedeel.

So vertel prof. Irma Eloff, voorsitter van die Akademie van Wetenskap en Kuns, voor die prysoorhandiging vir die noordelike wenners van vanjaar se Akademiepryse vroeër Donderdagaand. Die prysaand het vanjaar aanlyn plaasgevind.

Sy het die tyd van inperking, wat ’n aanlyn seremonie genoodsaak het, beskryf as ’n tyd van “verdieping, betekenisvolheid, groei en positiewe verandering” en het ook na die term “posttraumatiese groei” verwys.

Hans Strydom

Ná ’n klavier-en-tjello-uitvoering van Ben Schoeman en Anzel Gerber het prof. Oppel Greeff, ondervoorsitter van die Akademie, die vereerdes aangekondig. Elkeen moes sy ontvangstoespraak vooraf opneem en die commendatio was net ’n stemopname. Sestien mense is vereer.

Onder die vereerdes is:

• Die regisseur Susan Scott het ’n erepenning vir rolprentkuns ontvang vir haar hoog aangeprese dokumentêre rolprent Stroop. Dit fokus op renosterstropery en die internasionale sluikhandel in renosterhorings. Sy het die Akademie bedank vir die eer en benadruk dat die prent soveel byval hier en oorsee gehad het omdat dit in Afrikaans was en mense in hul moedertaal kon praat.

• Die skrywer Johan Jack Smith het erken dat sy ontvangs van die Eugène Marais-prys ’n groot verrassing was. “As ek kyk na die vorige wenners van die prys, is ek gemotiveerd om meer en beter te skryf.” Hy ontvang die prys vir sy debuutroman, Zola, wat prof. Thys Human in sy commendatio beskryf as ’n “hardebaard speurverhaal, ’n betrokke roman, wat jou gedagtes lank na jy dit gelees het gyselaar hou”.

De Waal Venter het die Akademie bedank vir die erkenning van sy arbeid om die Chileense digter Pablo Neruda se gedigte van Spaans na Afrikaans te vertaal. Hy ontvang ’n erepenning vir Vandag is boordensvol. “Dit is ’n aansporing om ons kultuur met ander soortgelyke projekte te verryk,” het Venter gesê.

• Die veelsydige akteur Hans Strydom het sy erepenning vir die rolprentkuns en ’n uitsonderlike loopbaan van bykans vyf dekades beskryf as ’n aansporing “om voort te gaan met die stryd vir beter voordele en vergoeding vir akteurs in die bedryf”.

• Die digter Johan Myburg, vanjaar die wenner van die Hertzogprys, het die Akademie bedank “wat my werk geweeg het en wat besluit het om die Hertzogprys aan my, met al my bagasie, gegewe die dae en jare waarin ons lewe, toe te vertrou. Laastens aan iedere leser van die woord. Mense wat gelei deur onsekerte behoefte het aan woorde. Woorde wat nie meer sekerheid bring nie. Maar dalk groter ruimte, en meer menslikheid.” (Lees sy volledige toespraak op Netwerk24.)

Die suidelike plegtigheid vir pryswenners wat in die suide van die land, asook in Bloemfontein en Kimberley woon, vind ook virtueel op Donderdagaand 10 September om 18:00 plaas.

Die video’s sal ná die uitsendings op die Akademie se Facebook-blad permanent by “Video’s” te sien wees.

Benoemings word ingewag vir Akademiepryse wat in 2021 toegeken kan word. Meer besonderhede by: http://www.akademie.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.