Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
NG oorsig dans tussen objektief en subjektief

In ‘Drie dekades van verandering’ bespreek die  oud-Kerkbode-redakteur  Neels Jackson die belangrikste kwessies wat die afgelope dekades in die NG Kerk aan  die orde was, maar Hoffie Hofmeyr meen die skrywer se objektiwiteit kom in gedrang, vernaam wanneer hy met beoordeling besig is.

Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming deur Neels Jackson. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R250.

Die NG Kerk bly ten regte of onregte een van die “fenomene” in Suid-Afrika waaroor Afrikaanse mense skynbaar nie uitgepraat of uitgeskryf raak nie. Die jongste bydrae in ’n redelik konstante vloei van publikasies oor die Kerk is dié van Neels Jackson, voormalige Beeld-joernalis en latere Kerkbode-redakteur.

As kerkhistorikus kan ek verklaar die kerkhistoriese inligting wat hier weergegee word, is korrek en betroubaar, maar, soos Jackson self verklaar, probeer dié boek nie ’n akademiese verhaal of egte kerkgeskiedskrywing wees nie. Dit is eerder ’n persoonlike verhaal oor “drie dekades van verandering” deur ’n joernalis wat nadink oor die gang van die geskiedenis van die NG Kerk, vernaam ná 1990. Dit is in vloeiende verhaaltrant geskryf en wissel tussen verslaggewing, geskiedskrywing en verstaan.

Die boek fokus onder meer op verskillende prominente figure in die kerk en teologie oor die afgelope 30 jaar. Daar is ook ’n deel oor getalle en predikante, ’n addendum oor terme vir kerklike vergaderings en ’n indeks wat van groot waarde is.

Die bronnelys gee weinig blyke van die omvangryke kerkhistoriese bronne.

In die algemeen bied Jackson ’n redelik goeie oorsig oor kerkhistoriese gebeure voor 1990. Hy gaan haal ver uit die verlede bepaalde ontwikkelings in die kerk, onder meer met die formulering van ’n amptelike apartheidsteologie, en verwys byvoorbeeld na proff. Ben Marais en Bennie Keet wat reeds in die 1940’s ’n standpunt teen apartheid ingeneem het.

Jackson noem en bespreek die belangrikste kwessies wat die afgelope dekades in die NG Kerk aan die orde was in die volgende hoofstukke: die afskeid van apartheid, die vrou in die kerk en die ampte, verhoudings met ander kerke, eenheid in die kerkfamilie, ’n dienende of missionale kerk, die wegbeweeg van die kerk as gestruktureerde instituut, verskillende spiritualiteite, teologie en teologiese denke en selfdegeslagverhoudings.

Waar het kerk haar mense langs die pad verloor?

Jammer genoeg word daar met dié hooftemas nie spesifiek aandag geskenk aan die uiters belangrike sake van versoening en geregtigheid nie.

Jackson sê verder te min oor die teologiese ontwikkelings in die kerk. Ook die drie teologiese fakulteite met wie hy noue kontak gehad het, en waar predikante van die NG Kerk opgelei word, kom baie min ter sprake. Dit is jammer, want dit is ’n belangrike “kweekhuis” vir kerklike teologiese denke en ontwikkelings, maar ook vir jong mense wat in die kerklike bediening van die NG Kerk gaan staan.

Die vraag moes waarskynlik ook gevra word watter rol die leiersfigure van die universiteite én die kerk gespeel het in die leiding en begeleiding van kerklike teologiese fakulteite in die afgelope jare. Was hulle bloot die keiser ten goede, of het hulle geywer om gebalanseerde teologiese ontwikkeling te bevorder? Ek het ’n aanvoeling dat bepaalde afkraaktegnieke en manipulering deur die universiteite en die kerk soms nogal ’n negatiewe rol by hierdie fakulteite gespeel het.

Dit is ook jammer dat Jackson, veral in sy jare as joernalis (al het hy dit ontken), soms bepaalde agendas gedryf het, byvoorbeeld die gay-kwessie en elemente van die relativistiese glybaan-teologie. Die ernstige vraag is hoe dié aanslag, al is dit subtiel, oorgespoel het in dié nuwe boek.

Soms is sy objektiwiteit wel in gedrang in sy geskiedskrywing, veral wanneer hy met beoordeling besig is. Twee voorbeelde: In dié boek kies hy duidelik die relativistiese ontkenning van die historiese en verheerlikte opstanding van Christus deur Julian Müller. In sy verwysing na die Evangeliese Inisiatief (EI) is hy verkleinerend in sy beoordeling.

Soos in die regerende party is daar ook sprake van verskillende faksies oftewel modaliteite in die NG Kerk wat soms uitloop op binnegevegte, afknouery en verdeeldheid. Dit is jammer dat Jackson taamlik onkrities is oor elemente wat sogenaamde vernuwing voorstaan, maar wat eerder verwarring en verarming oor wesenlike sake soos Bybel-verstaan en belydenis-getrouheid tot gevolg het.

Die tragiese waarop Jackson wél wys, is die feit dat die NG Kerk halfhartig op die Belydenis van Belhar met sy besonderse aksente gereageer het. Ironies genoeg is die swak en lomp reaksie miskien sprekend van die feit dat die binding aan die ou, maar ook hierdie nuwe belydenisskrif nie meer vir die NG Kerk belangrik genoeg is nie. Die kerk pluk reeds – en sal ook toenemend in die toekoms – die wrange vrugte hiervan pluk.

As dit by Skrifgebruik en Skrifinterpretasie kom, praat Jackson hoofsaaklik van twee benaderings en mis hy die krities-verantwoordelike benadering van die rasionele sentrum. Ek vind meer aanklank by Frits Gaum dat daar beslis drie uitgangspunte is, naamlik fundamentalistiese en liberalistiese Bybellesers (wat albei die baba met die badwater uitgooi).

Die gebalanseerde derde standpunt volgens Gaum is wanneer die kerk die kernverwagting van die Skrif en die implikasies daarvan baie ernstig opneem, want daar is perke, naamlik dat die kerk nooit vir Jesus Christus mag verloën en verloor nie. In plaas daarvan om mekaar deurgaans in een van hierdie twee kompartemente in te dwing, moet ons eerder ’n oog vir kritiese balans behou.

As pro-gay het Jackson veral in sy tyd as Kerkbode-redakteur deurgaans ’n uitgesproke standpunt ingeneem oor gays en hul menswaardigheid. As gevolg van die emosionaliteit hiervan het dit skerp faksies in die NG Kerk ingedra, wat die tweespalt verder op die spits gedryf het. Die kerk moet wel gasvryheid aan alle mense – ook die gemarginaliseerdes – betoon, maar is daar nie veel groter kwessies soos rassisme, armoede, korrupsie, wanbestuur, ongeregtigheid, en eenheid en versoening wat bespreek en opgelos moet word nie? Te midde van die wêreldwye seksuele revolusie wil dit soms voorkom of die sterk fokus op geslags- en LGBTIQA+-kwessies byna alle gesprekke in die kerk oorheers.

Op die slotvraag of die NG Kerk in 2020 beter af is as 30 jaar gelede, is Jackson se antwoord ’n besliste ja. Hy beweer ook dat bepaalde probleme ná twee of drie dekades sal verdwyn, maar daarvan is ek nie so seker nie.

Die gespanne situasie in die NG Kerk as gevolg van verskille oor fundamentele uitgangspunte vra ’n grootmoedigheid van verantwoordelikes om opnuut alle standpunte in ag te neem en te erken dat die waarheid nie in onsself lê nie. Dit vereis dat die NG Kerk as instelling, tesame met haar leierskap, as ’n gebaar van toenadering selfondersoek moet doen oor waar sy haar mense langs die pad verloor het en die pad na ’n moontlike skeuring as gevolg van wantroue en tweespalt oopgemaak het.

Intussen is dit duidelik dat daar nog lank nie klaar gepraat of geskryf is oor die NG Kerk as “fenomeen” nie. Die belangrikste is egter dat dit in dié verhaal nie net oor ’n enkele kerk moet gaan nie, maar oor die groter liggaam van Christus wat waarlik in alle opsigte ’n Bybelgetroue kerk moet wees wat ’n verskil in die wêreld maak.

  • Prof. Hoffie Hofmeyr is emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Evangelische Theologische Faculteit in Leuven, België.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.