Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nie vir oop grense nie, maar vir oop harte

Niefiksie

This Land Is Our Land: An Immigrant’s Manifesto

Suketu Mehta

FARRAR, STRAUS & GIROUX, R410

Kom ons wees eerlik. Baie gegoede Suid-Afrikaners sus hulself met wat gedoen kan word indien dinge hier in die suide van Afrika regtigwaar skeefloop: emigreer. Die opsie word lewend gehou daar êrens in die agterkop.

Wêreldwye migrasie is ook een van die groot onderwerpe van ons tyd. Hoe meer ’n mens daaroor lees, hoe beter verstaan jy enorme stukke van die wêreldpolitiek.

Dis met daardie ingesteldhede – die begeerte om meer inligting en die besef dat jy self ’n moontlike migrant is – dat ’n mens Suketu Mehta se This Land Is Our Land: An Immigrant’s Manifesto moet aanpak.

Mehta was op die kortlys vir die Pulitzerprys met sy vorige niefiksieboek en sy nuutste werk word geloof deur die ekonoom Joseph Stiglitz en die talentvolle romansiers Mohsin Hamid en Gary Shteyngart.

250 miljoen mense woon in ander lande as waarin hulle gebore is.

250 miljoen mense woon in ander lande as waarin hulle gebore is en peilings wys niks minder nie as 750 miljoen mense wil uit hul vaderland trek so gou as wat hulle ’n kans kry. Abu Dhabi het die meeste migrante ter wêreld – 88% van die bevolking is tydelik daar vir werk. Een uit elke 18 mense wat oor die Middellandse See hul heil gaan soek in Europa, verdrink. ’n Onlangse studie wys Amerikaners dink hul bevolking bestaan uit 37% eldersgeborenes, maar die ware getal is 13,7%.

Dít is van die getalle wat Mehta is sy leesbare boek inweef. Saam met onderhoude wat hy met migrante voer, asook sy eie staaltjies oor sy immigrantefamilie, vorm die boek ’n argument, soos hy dit stel, “not for open borders but for open hearts”.

Uit daardie aanhaling is dit duidelik die leser gaan nou en dan met ’n sekere sentimentaliteit te make kry, maar vir elke soeterige, multikultureel utopiese oomblik is daar darem ook een wat wérklik die hart tref.

’n Mens is effe onseker oor hoe die hoofstuk oor klimaatsverandering gaan verouder. Dit bevat nogal baie katastrofismes. Mehta se argumente oor hoe immigrante tot ’n land se ekonomieë bydra, is oortuigend. Hy sê ook die Weste skúld die res van die wêreld, veral weens kolonialisme en sy erge besoedeling.

Een van sy hoofargumente is dat migrasie ’n vorm van herstelbetaling is. ’n Omstrede argument, en ook een wat dikwels bedoeld of onbedoeld plaaslike postkoloniale regerings van verdiende blaam ver­ontskuldig, maar dis op die allerminste ’n argument wat vir lekker leesstof sorg, veral vir ’n Afrikanerleser wie se voorsate deur die Britte van goud en diamante beroof is.

Before you ask other people to respect the borders of the West, ask yourself if the West has ever respected anybody else’s border.

Verder, skryf hy, “before you ask other people to respect the borders of the West, ask yourself if the West has ever respected anybody else’s border”.

Hy skets ook hoe baie van die ryk elite immigrante as weerligafleiers inspan – miljardêrs en politici wil hê die inkommers, nie die elite sélf nie, moet die skuld vir erge ongelykheid gegee word.

Mehta is vandeesweek te siene by die Woordfees in Stellenbosch. Hy skryf ook sowaar oor hoe hy en van sy skrywersvriende gereeld goeie Stellenbosse wyn geniet het in ’n Suid-Afrikaanse kafee in Brooklyn, New York.

In ons land, waarin vreemdelinge gehaat word en koloniale skuld deel van die aktuele debat vorm, is ’n stem soos syne van waarde.

Loftus Marais is ’n digter en die inhoudsregisseur van kykNET Verslag in gesprek.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.