Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Niemand wen nie, maar lekker sal jy tog lees

Fiksie

Negentien minute

Jodi Picoult

JONATHAN BALL, R220

Die Amerikaner Jodi Picoult skryf die soort boeke wat jou vinnig inkatrol.

Sy is die koningin van die etiese-dilemma-genre en haar resep kry wêreldwyd groot aftrek. Haar boeke is in 34 tale te kry, nou ook in Afrikaans.

Negentien Minute is die tweede een wat vertaal is, deur Daniel Hugo.

In dié een pak Picoult ’n skoolskietery aan. Eerlikwaar, niemand skryf so goed oor die binnewêreld van tieners as Picoult nie, met apologie aan Salinger.

Keer op keer in haar boeke kom sy terug na dié waarheid: Ouers ken nie hul kinders nie.

Tien hoërskoolleerlinge sterf in die skietery en tientalle word erg beseer. Hoe gebeur so iets?

In antwoord op dié vraag ontbloot Picoult die storie van die skieter stuk-stuk en probeer om ook te verduidelik wat in daardie ouerhuis aangegaan het, want as ons eerlik is, is dit die tweede vraag op almal se lippe wanneer ’n kind ’n gemors maak, selfs op kleiner skaal: Waar het die ouers verkeerd gegaan dat hulle so ’n monster kon grootmaak? Wat het hulle gedoen of nie gedoen nie?

Selfs teen jou sin begin jy simpatie vir die skieter ervaar soos die wreedheid van die boeliegedrag waaronder hy daagliks gely het, ontbloot word. Subtiel verskuif die vraag in jou kop weg van die ouers se gebreke, wat baie empaties hanteer word, na hoe die skool nie geweet het en meer gedoen het nie.

Die onvermoë van instansies om boeliegedrag met mening vas te vat, wat nog te sê uit te roei, is plaaslik ook ’n tema van bespreking onder ouers, van die kleuterskool tot by matriek.

Interessant genoeg raak-raak sy net aan die kwessie wat gewoonlik onder die loep kom wanneer so ’n skietery plaasvind. Ek praat nou natuurlik van die VSA se wette wat dit so maklik maak om wapens in die hande te kry, selfs vir ’n kind.

Dis asof sy probeer sê dat dít nie die probleem is nie; iemand wat geweld gaan pleeg, gaan dit doen, of die wapen nou maklik of moeilik is om te kry.

Interessant genoeg raak-raak sy net aan die kwessie wat gewoonlik onder die loep kom wanneer so ’n skietery plaasvind.

Daardie ander fantastiese boek oor skoolskietery, We need to talk about Kevin deur Lionel Shriver, skram ook aspris weg van die geweerdebat.

Shriver se skieter gebruik ’n dwarsboog.

Albei skrywers wou duidelik eerder die klem lê op die verhoudings wat in die eerste plek tot so ’n tragedie lei. Shriver skryf meesterlik oor moederskap wat my uitgeboul het, want sy is nie self ‘n ma nie.

Maar terug by Negentien Minute. Net soos elke ander boek van Picoult maak hierdie een jou dankbaar dat jy nie self voor die besluite staan wat sy op haar karakters afdwing nie.

In sulke situasies is daar eenvoudig geen wenner nie. Hier ook nie.

Getrou aan haar resep gooi Picoult ’n kinkel reg aan die einde in.

Is daar ’n netjiese, gelukkige einde? Nee. Gaan jy desondanks lekker lees? Ja!

Helen Schöer is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Meer oor:  Jodi Picoult  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.