Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Niks is voorspelbaar nie

Fiksie

Waar onthou begin

Connie Luyt

PENGUIN, R280

Jare gelede het ek Lang skaduwees in Afrika van Connie Luyt ’n heerlik leesbare boek gevind en in die proses geleer van ’n stuk geskiedenis waarvan ek min weet: die uittog van boere na Oos-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog. Ook oor die rol van die Mau-Mau om boere weer te verdryf.

Dit was vir my ’n boek met baie diepte en temas wat tot my spreek. Tog was dit die gemaklike skryfstyl en leesbaarheid wat ek onthou. Daarom was ek bly om weer ’n boek van Connie Luyt te sien en Waar onthou begin stel nie teleur nie.

Om jou geheue te herwin en geheueverlies te verwerk ná ’n traumatiese gebeurtenis, bring nie altyd die antwoorde wat ’n persoon graag wil hoor nie. So was dit ook vir Elfie, die jong vrou met baie name: Elfie, Elfrieda, Pixie, Veda.

Sy word wakker uit ’n koma en ervaar geweldige angs omdat sy niks kan onthou nie. Geleidelik kom flitse terug met die hulp van die geduldige psigiater, Michael.

Vir jare al wil ek so graag onthou, maar noudat my wens waar geword het, wens ek om te vergeet.

Die vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary, laat haar die eerste flitse van haar eie kinderjare onthou. Sy gaan op ’n verbeeldingsvlug met parallelle tussen haar en Mary Livingstone. Daarna word brokkies van haar lewe soos ’n legkaart gepak, maar pleks dat dit ’n sinvolle geheel vorm, tuimel dit inmekaar soos ’n stapel Jenga-blokke.

“Vir jare al wil ek so graag onthou, maar noudat my wens waar geword het, wens ek om te vergeet.”

Die leser word dadelik georiënteer ten opsigte van gebeure en word in die verhaal ingetrek, sonder dat enigiets ooit voorspelbaar word. Inteendeel, dit is vol kinkels en onverwagse draaie, maar nooit vergesog nie.

Ons aanvaar so geredelik dat goeie verhoudings en die koestering van kinders in gesinsverband ’n gegewe is, maar hierdie verhaal waar verlies ervaar en wrokke gekoester word, wys dat dit nie vanselfsprekend is nie.

Die karakters is lieflik en haatlik, die balans is net reg.

Wat my gepla het, is dat daar gewissel is tussen psigiater en sielkundige vir Michael se beroep. ’n Psigiater is tog ’n mediese spesialis en ’n sielkundige nie. Ook lastig was outydse woorde, wat stellig nie in ’n moderne jong vrou se woordeskat is nie.

“Mamma, kom ons kom ooreen dat ons kiets is . . . ”

Mense wat Helene de Kock, S.D. Fourie en Irma Joubert se boeke geniet, behoort ongetwyfeld hierdie een te geniet. Dit het dieselfde diepte, lewenskwessies wat aangeraak word, geskiedenis wat slim ingevleg word en is nooit vervelig nie.

Trisa Hugo is ’n vryskutresensent van Kleinmond.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.